Het jy al ooit 'n klein seuntjie hoor kla dat hy by 'n treinstasie moet aanhang en vir 'n trein moet wag? Nee; want om binne 'n spoorwegstasie te wees is vir hom om binne 'n spelonk van wonders en 'n paleis van digterlike genot te wees. Want vir hom is die rooi lig en die groen lig op die seinbord soos 'n nuwe son en 'n nuwe maan. - GK Chesterton
Oom Ches, soos ons hom in hierdie reeks noem, het die vermoë om die mor in
jou hart tot bedaring te bring. Dit is geen geringe saak nie, want selfs verloste Israeliete kan
nog steeds in die woestyn agterbly (vgl. 1 Kor. 10). En oom Ches help verrassend
baie om die beloofde land sommer in jou eie land, jou eie huis en op jou eie
werf te vind. In die bekende artikel van hom waarna ons die vorige keer gekyk
het, gaan ons hierdie keer by ’n spesifieke element van oom Ches se oop geheim aanhaak.
Dit is sy oog vir romantiek, selfs in ongemaklike situasies:
“Maar eintlik is hierdie romantiese siening van sulke ongerieflikhede net so prakties soos enige ander praktyk. Die ware optimis wat in sulke dinge 'n geleentheid vir genot sien, is net so logies en baie meer sinvol as die gewone "verontwaardigde belastingbetaler" wat 'n geleentheid vir grimmigheid sien.”[i]
Oom Ches het sterk daarop aangedring dat daar op die langtermyn niks so
prakties is soos ’n goeie filosofie en ’n romantieke verbeelding nie. Oor die
belangrikheid van ons filosofie het hy dit alreeds geëien by loseerders, maar
ook in oorlog:
“Ons dink dat dit vir 'n eienaar wat 'n loseerder oorweeg, belangrik is om
sy inkomste te ken, maar dit is nog belangriker om sy filosofie te ken. Ons
dink dat dit vir 'n generaal wat op die punt staan om 'n vyand te beveg,
belangrik is om die vyand se getalle te ken, maar dit is nog belangriker om die
vyand se filosofie te ken.”[ii]
En hiermee, dames en here, stel ek u opnuut voor aan om Ches. U het nie gedink dat oom Ches kan praat oor Rusland en die Oekraïne nie. Maar pas besef u dat hy iets geweldig daaroor en sommer ook jou toekomstige huurder gesê het. Terug na ons punt toe:
Nou-ja, toegegee, filosofie roep dade in die praktyk. Maar
wat presies bedoel oom Ches as hy stel dat ook romantiek baie prakties is? Het
hy hiermee bloot aangesluit by die romantieke periode of bydraes oor die vryswewende,
idilliese verbeelding wat kan omslaan in die diaboliese verbeelding soos wat Russell
Kirk dit beskryf het? Om die gevierde apostel se woorde te gebruik: Nee,
stellig nie.
Oom Ches het sy eie aards-hemelse bedoeling daarmee gehad en hoewel hy dit
nie in finale definisie wou vaspen nie, kry ons tog ’n goeie indruk daarvan as
ons luister hoe hy dit beskrywe in die begin van sy voortreflike werk, Orthodoxy,
waarin hy sy alternatief wou bied op die dwalinge van sy tyd. Ons het behoefte
aan ’n lewe van praktiese romanse, sê oom Ches. Dit is ’n lewe waarin daar ’n
kombinasie is van iets wat vreemd is met iets wat veilig is. Hy brei uit en
voeg by dat ons ’n wêreld nodig het waar ons ’n idee van verwondering (“wonder”)
kan kombineer met ’n idee van verwelkoming (“welcome”), sonder dat ons bloot
gemaklik raak. En Oom Ches is van mening dat die algemene en onbetwyfelbare
geloof van Christene presies hierdie basiese behoefte vervul.
Die politieke filosoof, Ted McAllister, help ons verder om hierdie romantieke
dimensie by oom Ches te begryp. Hy wys daarop dat wie Chesterton fyn lees in sy
inleiding in Orthodoxy, agterkom dat die romantieke gepaard gaan met variasie,
avontuur, verbeelding en verwondering.[iii]
Maar wat beteken dit as ons hieroor prakties raak? Ons vind ’n goeie voorbeeld
hiervan in Oom Ches se reeds genoemde artikel oor ongerief en dergelike
avonture:
“ons hoor gereeld dat grootmense kla dat hulle by 'n treinstasie moet aanhang
en vir 'n trein moet wag. Het jy al ooit 'n klein seuntjie hoor kla dat hy by
'n treinstasie moet aanhang en vir 'n trein moet wag? Nee; want om binne 'n
spoorwegstasie te wees is vir hom om binne 'n spelonk van wonders en 'n paleis
van digterlike genot te wees. Want vir hom is die rooi lig en die groen lig op
die seinbord soos 'n nuwe son en 'n nuwe maan. Want wanneer die houtarm van die
sein-hefboom skielik neerval, is dit asof 'n groot koning sy staf as 'n teken
neergooi en 'n skreeuende toernooi van treine begin het. Ek het self ook klein
seuntjies se gewoonte in hierdie saak. Hierdie gewoonte bedien ook elkeen wat
net vir die 2:15 staan en wag. Jou meditasies kan vol van ryk en vrugbare dinge
wees. Baie van die mees koninklike ure van my lewe is verpoos by Clapham
Junction, wat nou, veronderstel ek, onder water is. Ek was daar in baie gemoedstemminge,
so vasgenael en vol mistiek dat die water heel moontlik tot by my middel kon
kom voordat ek dit besonders opgemerk het. Maar in die geval van al sulke
irritasies, soos ek gesê het, hang alles af van die emosionele oogpunt. Jy kan
die toets veilig toepas op byna elke ding waarvan tans gepraat word as die
tipiese oorlas van die daaglikse lewe.”
Hierdie gesindheid in oom Ches maak ons ook gereed om met groter waardering
kennis te neem van wat genoemde McAllister in sy artikel hieroor skryf: “[So ’n
tipe] romantikus is nooit verveeld nie, want hy woon in 'n wêreld vol misterie
en verrassing, 'n werklikheid wat verstaan word in komplekse vorme, in
tradisies, in liturgieë, in mites, in komplekse sosiale weefsels wat mense in
gemeenskap saambind en wat gemeenskappe oor tyd heen saambind. Om so 'n
werklikheid te bewoon, is om in alle eenvoudige dinge die wonder van die heelal
te sien, om patrone te sien, om verbande aan te voel, om jou te verlustig in
die besondere, want in die besondere is jy getuie, maar besit jy nog steeds nie
die universele nie.”
Foto: Ted McAllister
Ons kan nie nou verder by taal en verbeelding stilstaan nie.’n Ander keer
meer daaroor. Nou moet ons eers hierdie aflewering inbring vir ’n landing. Dit
behoort sommige lesers dalk om te boul as hulle verneem dat MacAllister besin
oor die romanse van ’n verbeeldingryke konserwatiewe tradisie. En dat hy by oom
Ches aanhaak wat op sy beurt die romantiek weer in verband gebring het met die
romanse van ortodoksie soos wat hy dit vind in die Christelike geloof.[iv]
Die toepassing is nou die volgende: ’n Instelling soos die Instituut vir Rasseverhoudinge
meld gereeld dat hul peilings aantoon dat Suid-Afrikaners oor die algemeen (en bes
moontlik Afrikaners in besonder), behoudend en Godvresend is. Die vraag is
egter of ons praktyke nog daarmee saampraat.
Kom ons veronderstel dat ons volk en ons nasie is wie ons sê dat ons is, maar dat ons erken dat sekere kenmerke en praktyke definitief getaan het. Indien wel, word dit ’n dringende vraag of ons nie vinnig besig is om die romanse van ons ontwyfelbare geloof en van ons verbeeldingryke oesjaar-tradisie te verloor nie. Die doppie en die geduldige antwoorde op peilings is dalk nog daar, maar die lewenskragtige opwinding en avontuur van ons geloof en tradisie nie meer nie. Indien iets hiervan waar is, is dit dalk omdat ons by alle tegniese korrektheid, nie meer romanse en ortodokse geloof en verbeeldingryke konserwatiewe tradisie of post-liberale tradisie as jy wil, met mekaar kan rym nie? Die goeie nuus is dat ons dit kan herontdek. En op die koop toe die beloofde land naby onsself. Maar dan moet ons ’n bietjie langer na mense soos oom Ches luister.
[i] On running after one’s hat, by
https://en.wikisource.org/wiki/All_Things_Considered/On_Running_after_One%27s_Hat
[ii] Heretics, hfst. 1.
[iii] McAllister, T by https://theimaginativeconservative.org/2011/10/romance-of-conservatism.html#:~:text=In%20one%20of%20the%20great,boredom%20that%20leads%20to%20madness. Vir diegene wat ’n aptytwekker nodig
het, McAllister begin so: “In one of the great works of
imagination, Orthodoxy, G. K. Chesterton declared that faith is romantic,
that materialism is not only dull but produces a boredom that leads to
madness.”
[iv] Let daarop dat daar nie direkte lyn vanaf die konserwatiewe tradisie
na Chesterton te trek is nie. Die bekende segsman vir die verbeeldingryke
konserwatiewe tradisie meld wel dat Chesterton ’n belangrike impuls daarvoor
gelewer het.