Gedagte vir kinders: Die Here Jesus se heerlikheid sal
eendag vir almal duidelik wees.
Oorsig: Net voor hierdie gedeelte kom die
dissipels by die oomblik van waarheid waar hulle moet sê wie hulle dink Jesus
is. Petrus antwoord dan dat Jesus die Messias van God is (v.20). Hierna wys die
Here Jesus hulle daarop dat Hy baie moet ly en verwerp en doodgemaak word en
dat Hy op die derde dag sal opstaan (v.22). Hy wys hulle daarop dat elkeen wat
sy dissipel wil wees, ook bereid moet wees om hulself te verloën en selfs elke
dag kruis toe te gaan (v.23). Die belofte is egter dat die heerlikheid op pad
is en dat sommige van hulle reeds iets daarvan sou sien (v.27). Iets hiervan sou
sommer reeds agt dae daarna plaasvind (v.28).
Die Here Jesus het toe die binnekring van sy dissipels, Petrus en Johannes en Jakobus, saamgeneem en op ’n berg (Hermon, of bes moontlik Tabor) geklim om te bid. Later sou Johannes en Petrus terugverwys na ook hierdie gebeure. (Joh. 1:14; 2 Pt. 1:16-18). Die dissipels was deur slaap oorweldig, maar toe hulle wakker word, sien hulle die Here Jesus in heerlikheid en twee manne wat by Hom staan (v.32). Wat gebeur het, was dat terwyl die Here Jesus gebid het, sy voorkoms anders geword het en sy klere skitterwit. Volgens Mattheus het sy gesig geblink soos die son (Mt. 17:2). Die twee manne was Moses en Elia. Hulle verskyning bevestig ook vir ons dat daar lewe na die dood is. Hulle het in heerlikheid daar verskyn en spesifiek met die Here Jesus gepraat oor sy uitgang (letterlik: eksodus) in Jerusalem (v.31). Daardeur het hulle hulle verwys na sy dood wat ’n bevryding vir God se kinders sou bring. Dit sou soos ’n nuwe eksodus wees, maar hierdie keer uit die slawerny van die sonde en die dood.
Hulle het toe weggegaan en Petrus het vir Jesus gesê dat hulle drie hutte moes maak vir elkeen, maar hy het nie besef wat hy sê nie (v.33). Toe Petrus dit sê, kom daar ’n wolk en oordek hulle en hulle het bang geword toe daardie manne in die wolk ingaan (v.34). Daar het toe ’n stem uit die wolk gekom wat sê: “Dit is my geliefde Seun; luister na Hom!” (v.35.) Ná die stem was Jesus alleen daar. Die belewenis hiervan was so groot dat die dissipels aan niemand in daardie dae iets vertel het van wat hulle gesien het nie. (v.36; vgl. Dn. 10:15).
Besprekingsvraag: Waarom het juis Moses en Elia daar
op die berg verskyn?
Insig: Beide Moses en Elia is op misterieuse
wyse uit hierdie wêreld weggeneem. Beide het ’n besondere openbaring van God by
die berg Horeb ontvang. Hulle is besondere verteenwoordigers van die wet en die
profete van die Ou Testament. Hulle was ook besondere simbole van hoop en
verwagting. Moses het vir die volk gesê dat daar ’n PROFEET na Hom sou kom wat
soos hy is en na Hom moes hulle luister (Dt. 18:15; vgl. Lk. 9:35). Die profeet
Elia se naam word weer tot in Mal. 4:5 genoem as voorloper van die dag van die
Here. Beide manne se name was daarom gekoppel aan die groot verwagting van God
wat sou kom. Die verteenwoordigers van die Ou Testament, en die dissipels as
verteenwoordigers van die Nuwe Testament is nou almal rondom Jesus vergader. Petrus
sien iets van die hoop en verwagting raak en wil drie tente bou, maar die stem
wys op God se geliefde Seun. Hy is die Vervuller van die Skrifte en alleen
waardig om God se Boek vir ons oop te maak (vgl. Op. 4-5).
Ons leer hier om Jesus Christus nou
reeds te waardeer as die verheerlikte Heiland. Hy word hier in vooruitskouing, selfs
heerliker geopenbaar as net na sy opstanding, maar eenmaal sal almal Hom so
aanskou. Dit is insiggewend dat die openbaring gebeur terwyl Hy in gebed was en
ons sien sy heerlikheid in die geloof ook duideliker by die biddende lees en
oordenking van die Woord. Moses het eens opgegaan op ’n berg (Ex. 24) en sy aangesig
het geskyn vanweë God se teenwoordigheid en het die heerlikheid weerkaats (Ex.
34:29-35). Jesus Christus se aangesig word vanself soos die son. En God se stem
bevestig dat Hy die geliefde Seun is. As
die wolk God se heerlike teenwoordigheid by die tabernakel bevestig het (Ex.
40:34-38), dan bevestig Hy nou dat sy heerlikheid en teenwoordigheid in Jesus
Christus is as sy geliefde Seun en die finale openbaring (Hebr. 1:1-2). Ons was
wel nie by sy eerste verheerliking nie, maar ons het die Skrif wat vas is en
ons reeds in die vooruitskouing op die heerlikheid laat deel. Gelowiges sal sy
verheerliking binnekort sien by hul sterwe en almal by die voleinding.
Maar let daarop dat Moses en Elia spesifiek
met Christus praat oor sy uitgang (eksodus) in Jerusalem. Die dood van Jesus
Christus staan sentraal in sy werk as Messias. Die verheerliking op die berg
kon net waar word deurdat Hy op ’n ander koppie later gekruisig sou word. Die Kerk
moet steeds saam met die dissipels leer om na Hom te luister. In Hom leer ons
dat die weg van verheerliking oor Christus se dood heen loop en dit sluit vir
ons in om self bereid te wees om ter wille van Hom die kruis te dra en onsself
te verloën. Ware heerlikheid kom nie langs ’n ander weg nie. Maar die
heerlikheid is so groot dat wie dit sien, alles verkoop om die Skat in die
hemel te hê. So gaan die weg van ware vryheid en geloof vir ons hier op aarde
oop.
Bergsma, J. The Word of the Lord. Year
C.
Bock, D.L. Luke: NIV Application
Commentary.
France, R.T. Luke: Teach the Text
Series.
Sproul, R.C. Luke: An Expositional
Commentary.