Lees: Gen. 45:1-15
Gedagte vir kinders: Deur Jesus Christus
se kruisdood vir ons kan vyande vriende word.
Oorsig: Josef, die onderkoning van Egipte,
openbaar homself hier aan sy broers. Josef moes egter eers sy broers toets. Hy
moes uitvind of God hulle harte al verander het. In hoofstuk 42-44 lees ons
daarvan en die laaste toets was om te kyk wat hulle sou doen as hy sy bloedbroer
as slaaf by hom wou neem. Dit is toe dat Juda hartroerend gepleit het en
aangebied het om vir Benjamin in te staan. Dit het bevestig dat hulle wel
verander het.
Josef se
gesindheid was ook nie om hulle uit die hoogte te verneder toe hy hom aan hulle
geopenbaar het nie. Hy het eers beveel dat al die Egiptenare van hom weggaan
(v.1). Josef het in trane uitgebars sodat al die Egiptenare dit kon hoor (v.2)
en dit bevestig dat sy hart baie ontroerd was teenoor sy broers en dat hy hulle
vergewe het. Josef se broers was uit die aard van die saak verskrik (v.3).
Josef het toe vir hulle bevestig dat hy hulle broer is wat hulle na Egipte
verkoop het (v.4), maar hy het dadelik iets bygevoeg om hulle gerus te stel. Hy
het gesê dat hulle nie bedroef of ontstel moes wees dat hulle dit gedoen het
nie, want dit was God wat ook daar besig was. God het dit so bestem sodat
lewens behou kon word (v.5). Hy het dit verder bevestig deur vir hulle te sê dat
die saak groot is en daar nog net twee uit die sewe droë jare verby is (v.6).
So het hy dit vir hulle duideliker probeer maak dat God hom vooruit gestuur het
om ’n oorblyfsel te verseker wat tot ’n groot verlossing sou lei (v.7).
Vir ’n derde maal het hy herhaal dat hy God agter dit alles sien en nie teen hulle dade vaskyk nie.
Hy het ook bevestig watter groot dinge God aan hom gedoen het. God het hom ’n groot regeerder oor Egipte gemaak (v.8). Hierna het hy hulle tot aksie opgeroep. Hulle moes “gou” na sy pa vertrek en self vertel dat Josef sê dat God hom gebieder gemaak het en hom vra om te kom en “gou” te maak (v.9). Hy het gesê dat Jakob naby hom kon woon met al sy geliefdes (v.10). Josef het dus nie iets teen hulle gehad nie en hy het voorgeneem om hulle daar te onderhou omdat daar nog vyf jaar hongersnood sou wees en hulle nie moes verarm nie (v.11). Hierna het hy weer aan sy broers bevestig dat dit hy is wat met hulle praat (v.12) en weer gevra om “gou” te maak om sy vader te bring. Toe het Josef eers om sy bloedbroer, Benjamin, se hals geval en geween en daarna ook om sy half-broers se hals en hulle gesoen. So het Hy bevestig dat hy met hulle wou versoen. Toe het sy broers vrymoedigheid gehad om met Josef te praat. (v.14-15).
Besprekingsvraag: Op watter manier wys Josef
heen na Jesus Christus?
Insig: Josef se openbaring aan sy broers
wys ons hoe nodig ware versoening is. Jakob het nou wel twaalf seuns, maar
hulle is verwek by twee susters en byvroue, en hulle is vol geweld, en afgode
en jaloesie. Hulle het nie vrede met die mense om hulle of met mekaar nie.
Hierdie kinders gebruik God se verbondsteken om te bedrieg en te vermoor toe
hul suster verkrag is (Gen. 34). Jakob moet hulle daarna vermaan om hul afgode
te verwyder (Gen. 35:2), en hulle is so hatig op Josef dat hulle bereid is om
hul broer as slaaf te verkoop (Gen. 37). Hierdie sonde verdien die doodstraf (Dt.
24:7; 1 Tim. 1:10). Met hoeveel wanhoop en wraakgedagtes moes Josef nie worstel
nie. Selfs toe Josef op die troon was, kon hy nie met brute krag sonder meer na
sy vader terugkeer nie, want ook dit sou verhoudinge verwoes. Josef kon maar
net selfondersoek doen, getrou wees, en op God se leiding wag.
Dit wys ons
ook hoe aangrypend ware versoening is. Josef se broers was met goeie rede
verskrik. Hulle sonde, so het hulle reeds vroeër besef, het hulle ingehaal en
hulle word letterlik van aangesig tot aangesig daarmee gekonfronteer. Maar in die
heerlike evangelie-oomblik word hulle nie veroordeel nie, maar vrygespreek.
Iemand wat basies dood was deur hulle toedoen, lewe, maar hy veroordeel nie. Hy
huil eerder en soen hulle. Hy wys herhaaldelik op God se plan wat te midde van
hul sonde gewerk het sodat hulle kan lewe en behoue bly. Josef wys na Jesus
Christus wat deur vernedering van broers heen verhoog is en nou aan ons
vergifnis en bekering skenk (vgl. Hd. 5:31; 7:9-16). Ook later bevestig Josef
dat hy geen wraak koester nie as sy broers weer twyfel (Gen. 50:15-21). Hy het
sy vyande lief, maak hulle wat vyande was, vriende, en werp vurige kole en ware
versoening op hulle hoof.
Kan hierdie
dinge steeds gebeur? Ja, want ons het meer as Josef. Christus het gekom om ons
met God te versoen en Hy nooi ons ook uit om naby Hom te bly. Hy wat op die
troon heers, is vol genade en het die grondslag van genade geskenk. Hy kom herdefinieer
’n nuwe werklikheid vir ons waarin genade nou in ons lewens kan heers. Deur die
versoening met Hom lê die ou wêreld van sonde en die dood vir ons aan skerwe. In
Hom kan die genade en vrede van God nou ook deur ons na ander deurwerk. In Hom
kan ons die egte versoening self ken en ook bedien in gesinne, families, volke
en internasionaal. Dit wat vir mense onmoontlik is, is vir God moontlik. As ons
in moeilike situasies van versoening beland, laat ons soos Josef getrou wees
waar ons is, wag op God se voorsienigheid, en ons vyande liefhê.
Geraadpleegde werke:
Bruegemann,
W. Interpretation: A Bible Commentary for Preaching and teaching: Genesis.
Simpson, A.B.
Christ in Genesis: A Commentary.
Ignatius
Catholic Study Bible: The Book of Genesis.
Kline, M.G.
Genesis: A New Commentary.