Lees: Jer. 17:5-14
Gedagte vir kinders: By die HERE
alleen vind ons lewende water.
Oorsig: Jeremia is in hoofstuk 17 besig om
oor verskillende sake met die volk te praat. Ons hoor hier veral van wat die
verskille is tussen ’n geseënde lewe en ’n lewe wat tot oordeel lei. In vers
5-8 fokus hy veral op die vertroue van elke mens se hart. Jeremia praat reguit
oor twee tipes harte. Die een soort hart is die van iemand wat op self en ander
mense vertrou, menslike mag en krag hoog ag, en in die proses van God afwyk.
(v.5). Hy gebruik dan ’n beeld om sulke mense te beskrywe. Hulle is soos ’n
kaal bos in die wildernis, sien nie die goeie raak nie, en bewoon dor plekke in
die woestyn. Hulle word daarna beskryf as brakkerige en onbewoonde land (v.6) Hulle
lewe dra dus nie vrug nie, is droog, lei tot niks en is sonder ware gemeenskap
met ander mense. Net daarna (v.7-8) beskryf Jeremia die mens wie se hart op die
HERE vertrou. Hy beskryf so ’n mens interessant genoeg ook omgekeerd as die een
wie se vertroue die HERE is. Hy gebruik dan ook ’n beeld om sulke mense te beskryf.
So ’n mens is soos ’n boom wat by water geplant is en sy wortels uitskiet by
die stroom. So ’n boom het drie kenmerke van wat nie gedoen word nie: Dit kry
ook hitte, maar (1) vrees nie en die blad bly groen en (2) is ook nie besorg in
’n jaar van droogte nie en (3) hou nie op om vrugte dra nie.
Hierna gaan die profeet in. v.9-14 oor om te praat oor wat God doen om ons te ondersoek en wat ons dan behoort te doen as ons sy seën wil hê.
Hy wys eerstens hoe diep bedrieglik
die menslike hart is. Maar hy meld ook direk daarna dat die Verbondsgod, die
HERE self, die hart deursoek en die niere toets (v.9-10). Dit beteken dat Hy jou
diepste persoonlikheid en jou diepste emosies deursoek. En Hy gee aan elkeen
volgens hulle diepste wese en koers wat hulle inslaan deur hulle denke en dade.
Daar word spesifiek gewys op die een wat oneerlike rykdom verwerf en wat soos
’n voël is wat eiers uitbroei, maar dit nie gelê het nie. So ’n mens sal vinnig
en as dwaas sterwe (v.11). Hierna gaan die profeet voort om die heerlikheid van
die heiligdom te beskrywe (v.12). Daardeur wys hy ons daarop dat dit die ware
bron van seën is waar gelowiges hul tuiste vind. Hy gee ook woorde waarmee ons
die HERE kan aanroep. Ons sien dat ons
Besprekingsvraag: Wat is die probleem met die
hedendaagse uitdrukking, “people of faith”?
Insig: Die menslike hart is altyd alreeds
vertrouend. Die vraag vir ons elkeen is: Waarin stel jy jou vertroue ten
diepste? Die basiese keuse: Jeremia maak bewus dat die basiese keuse uiteindelik
op twee opsies neerkom – vertroue op die vlees of vertroue op die lewende God.
Dit is ’n fundamentele keuse met geweldige gevolge. Om op die vlees te vertrou
beteken dat jy voor alles op jou eie of ander mense se wysheid, (militêre) mag en krag,
of ekonomiese toestande (tegnologie ingesluit) vertrou as die eintlike
hulpmiddel. Gelowiges kan ook hiervan gebruik maak, of nie, maar dit word gedoen op ’n ander wyse en waar God voor alles
gestel word. Hierdie basiese vertroue kom daarom uit in die manier wat ons met ons
vooroordele omgaan, ons planne, ons handel en ons wandel. Dit gee ’n bepaalde
koers aan jou lewe en het geweldige gevolge. Jeremia kan die man wat op die
mens en op die vlees vertrou, vervloek noem. Hy beskryf hom as dor en sonder
toekoms. In kontras hiermee beskryf Jeremia die man wat op die HERE voor alles vertrou,
as iemand by die lewende water. So iemand is bestem vir LEWE. Vroeër kon
Jeremia dit juis betreur dat die volk die verstommende dinge gedoen het om die
fontein van lewende water te verlaat en gebarste reënbakke verkies het (vgl. Jer.
2:13).
Die
toetsende omstandighede: Ons moet egter ook let op die gelaaide beelde van
Jeremia. Die een wat op menslike vermoë vertrou lyk nie dadelik so nie. Die
woord “kaal bos” kan ook as struik verstaan word wat wel bepaalde wortels het
en tekens van lewe toon, maar beskryf word as die wat die goeie nie kan sien
kom nie. Die een wie se vertroue op die Here is, word insiggewend genoeg weer
nie van hitte en die jaar van droogte gevrywaar nie. Die beelde suggereer
daarom dat uiterlike omstandighede en bepaalde indrukke op die korttermyn
misleidend kan wees. En tog word die langdurige kenmerke oor tyd heen duidelik.
Die vraag is dan hoe ons seker kan maak dat die ware kenmerke oor tyd heen by
ons duidelik word.
Ons moet
leer om uit God se water te put. Ons lees van die wortels wat uitskiet by die
stroom. Dit gaan om proefondervindelik te leer wat dit is om met God gemeenskap
te beoefen, in jou binnekamer en saam as gemeente in die weeklikse eredienste,
en oral. Let op die heiligdom wat in vers 12 genoem word. Dit is ook
insiggewend dat Jeremia net daarna in hoofstuk 17:19-27 spesifiek na die Ou
Testamentiese Sabbat verwys. So het hulle weekliks tot rus gekom in God, hulself
heringestel en hulle medemens met respek behandel en slawerny ingeperk. Ons
moet vra of die vervulling van die Sabbat, die Dag van die Here, nie steeds kan
meewerk om ons wortels beter te laat uitskiet by die stroom van God se genietinge
nie. Maar hierdie vervulling van die rus kon net aanbreek omdat Christus gekom het. Hy is die antwoord op elkeen wat die woorde uitroep van vers 13-14. Hy is die verwagting wat realiseer het. In Hom is die genesing en die verlossing. So bly ons oor tyd heen groen, kan ons sonder vrees en sorge wees, en dra ons vrugte op
ons tyd (vgl. Ps. 1). In Hom vind ons die lewende water en kan strome van lewende water ook uit ons binneste vloei (Joh. 7:37-38).
Geraadpleegde werke:
Bruegemann,
A Commentary on Jeremiah
Christopher
Wright, The Message of Jeremiah (Wright gee ’n besondere uiteensetting
van die sabbat as skarnier tussen gebooie 1-3 en 5-10.)
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year C.