2022/02/03

Om te sloop, te bou en te plant

Lees: Jer. 1:4-10, 17-19            

Gedagte vir kinders:  Wanneer die HERE roep, belowe Hy om by ons te wees in moeilike tye.

Oorsig: Die profeet Jeremia het veertig jaar lank die Woord gebring aan Juda en ander koninkryke en nasies, totdat Juda in gevangenisskap (ballingskap) weggevoer is na Babel. Daarna het hy in die land agtergebly en moes steeds beleef hoe die volk wat oorgebly het, ongehoorsaam was. In Jeremia 1 lees ons waar Jeremia se roeping as profeet begin het.

Ons lees dat die Here hom reeds geken het voordat hy in die moederskoot gevorm is en voordat hy gebore is. Reeds toe al was hy bestem as profeet vir die nasies (v.5). Jeremia was nog baie jonk toe die HERE hom geroep het, waarskynlik nog voor sy twintigs, en hy het gereken dat hy te jonk is (v.6). Die HERE het egter geantwoord dat hy dit nie moes sê nie. Hy moes eerder gehoorsaam wees (v.7). Hy moes nie vrees nie, omdat die HERE beloof het dat Hy Jeremia sou uitred (v.8).

Die HERE het hierdie roeping bevestig deur Jeremia se mond aan te raak. Daardeur het Hy bevestig dat Hy sy woorde in Jeremia se mond lê (v.9). Hy het ook deur ses besondere woorde duidelikheid gegee oor wat Jeremia deur sy woorde oor nasies en koninkryke sou doen. Vier daarvan was negatief en twee positief. Hy moes enersyds uitruk, omgooi, vernietig en verwoes. Maar hy moes ook bou en plant (v.10). Hierna het die HERE twee beelde aan Jeremia gegee wat Hy verklaar het en waarop ons nie nou ingaan nie.

Ons hervat die woorde aan Jeremia by vers 17. Die Here het Jeremia beveel om sy heupe te omgord. Dit het beteken dat hy gereed moes maak vir sy taak en daarmee ook gereed om die goeie stryd te stry. Hy moes alles aan die volk oordra wat God beveel en hy moes nie verskrik wees nie. Indien hy sou toelaat dat vrees hom oorweldig, sou die HERE sy vrees bevestig en hom daaraan oorgee om te skrik vir sy vyande. Hy het egter ook aan Jeremia getoon waarom Hy nie verskrik moes wees nie: Want die HERE sou hom maak soos die volgende beelde van krag: ’n versterkte stad, ’n ysterpilaar en kopermure. 

Dit sou die geval wees teen die hele land, wat die volgende groepe ingesluit het: die konings van Juda, die vorste, die priesters en die gewone volk (v.18). Hulle sou hom wel ’n harde tyd gee en teen hom veg, maar tog nie oorwin nie. Die rede was dat die HERE met hom sou wees om hom uit te red (v.19).              

Besprekingsvraag: Wat maak ons wanneer ons daar massiewe teenstand is teen die Woord?

Insig: Christene is deur hul verbintenis aan Christus ook priesters, konings en profete. Die Kerk as geheel kan daarom leer uit die roeping van hierdie besondere profeet as draer van die Woord van die HERE. Ons sien eerstens hier die soewereiniteit van God raak. Jeremia word reeds voor sy geboorte geroep. God se raadsplan is in werking voordat ons iets doen of van enigiets bewus is. Dit oorspan die eeue en die nasies. God stel dit in werking deur sy Woord toe te vertrou aan getuies wat Hy roep nog voor hulle kon presteer, kon kies of kon vra. Die lewende God is baie groter as ons prestasies, ons sonde, en die maalkolke van die geskiedenis. Ja, Hy is ook baie groter as die nukke en grille van empaaiers en konings en onstuimige nasies.

Dit is ook duidelik dat Jeremia ’n besondere rol moet vervul wat later in die kerkgeskiedenis die swaargewig uitdrukking, contra mundum (teen die wêreld) sou kry. Daar is dikwels ’n noodwendige botsing met die heersende ideologieë van die dag soos gepropageer deur regerings en die massa-media. Daarom moet die Woord ook gebring word teen massiewe publieke weerstand as dit nodig is. Die saak word ook uitgedaag deur die feit dat God se meule stadig maal, sy werk vir die sondige menslike oë onsigbaar is, en die werklikheid altyd op korttermyn anders verduidelik kan word. Die heersers van die ideologie het skynbaar ’n monopolie op groot beloftes van die tyd. Gelowiges kan daarom net staande bly in God se krag en mense net oortuig deur sy Woord en Gees. Die goeie nuus is dat God dit doen!

Ons kan verstaan waarom daar by profete van vlees en bloed huiwering is. Moses was aanvanklik onwillig, Jesaja het besef dat hy en sy volk onrein is, en Jeremia reken dat hy nog nie volwasse genoeg is nie. Maar God sorteer uit en sê dan: Gaan en voer uit. Dit is verstommend om raak te sien hoe God sy woord deur die kleine profeet handhaaf teen magtige koninkryke en besondere hardnekkigheid onder die volk. God se Woord is eenvoudig groter en Hy maan Jeremia om nie te vrees nie. Hy gee ook rede - sy teenwoordigheid. En Hy wys op die proses wat voltrek moet word deur die vier negatiewe en twee positiewe woorde. Vestings van arrogansie en verkeerde vooroordele in onsself, in politieke en godsdienstige strukture moet uitgeruk, omgegooi, vernietig en verwoes word. Na die verwoesting kon nuwe dinge gebeur. Soos met die rommel van Jerusalem en die as van die tempel. En dan kom die Here Jesus wat heeltemal nuwe sin gee aan die hele dinamika van afbreek en opbou (vgl. Joh. 2:19). Deur Hom kan die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens ’n werklikheid word tot vandag! Niks sal standhou waar God oordeel uitspreek nie, maar ook: Geen situasie is hopeloos waar Christus se opstandingskrag is nie.  

Op groter vlak as enkelinge is dit waar. Geen gebeurtenis in die geskiedenis en geen politieke bestel of watter mag ook al, kan standhou waar God se oordeel lei tot die dood nie. Maar die positiewe twee woorde bevestig ook dat geen situasie so uitsigloos is dat daar nie gebou en geplant kan word in die krag van Christus en sy Gees nie. En ons word opgeroep tot die geloof. Soos Josua in Kanaän moes ingaan en nie bevrees wees nie, so moes Jeremia ook nie bevrees wees nie en selfs ingaan teen sy eie mense. En tog kon volk en selfs koninkryke en nasies hulle nie daarteen versit nie. God maak die Kerk en draers van die Woord sterk en onbreekbaar en sy Woord sal doen waartoe Hy dit uitstuur en wat Hom behaag (vgl. Jes. 55:11)

Geraadpleegde werke:

Bruegemann, A Commentary on Jeremiah

Christopher Wright, The Message of Jeremiah (Wright gee ’n goeie verduidelik van die drie horisonne waarteen die Ou Testament gelees moet word.)

John Bergsma, The Word of the Lord. Year C.