Lees: Luk. 20:9-20
Gedagte vir kinders: Elkeen wat
Jesus verwerp, sal verlore gaan.
Oorsig: Die Here Jesus het deur sy intog op
’n esel in Jerusalem reeds verklaar dat Hy wel die Messias is. Hierna was daar ’n
duidelike spanning tussen Hom en die godsdienstige leiers van Jerusalem. Hulle
het hom dan ook reguit gevra deur watter gesag Hy optree. Hy het hulle indirek
geantwoord deur hulle eers te vra vanwaar Johannes die Doper se gesag was. Dit
het hulle in ’n moeilike posisie teenoor die skare geplaas en daarom wou hulle
nie antwoord nie. Daarom wou die Here Jesus hulle ook nie antwoord nie, maar sy
antwoord het duidelik gemaak dat dit dieselfde gesag was waarvan Johannes die
Doper gepraat het (Luk. 20:1-8).
Hierna het
Hy sy antwoord oor gesag voortgesit deur ’n gelykenis. Dit het gegaan oor ’n man
wat ’n wingerd geplant het en dit toe aan landbouers verhuur het toe hy vir ’n
lang tyd op reis gegaan het (v.9). Toe die tyd reg was om sy deel van die
wingerd te kry, het hy ’n dienskneg gestuur, maar hulle het hom geslaan en met niks
weggestuur (v.10). Hulle het die volgende dienskneg ook geslaan en ook skandelik
behandel. Die derde een het hulle gewond en uitgedryf (v.11-12). Uiteindelik
het die eienaar besluit om sy geliefde seun te stuur met die gedagte dat hulle miskien
vir hom ontsag sal hê (v.13). Maar die landbouers het presies anders
geredeneer. Om ’n vreemde manier het hulle gedink dat as hulle die enigste seun
doodmaak, hulle die grond sal erf. Hulle het die seun toe buitekant die wingerd
gegooi en hom daar doodgemaak. Die Here Jesus vra toe wat die eienaar sal doen.
Sy antwoord was dat die eienaar sal kom en die landbouers ombring en die
wingerd aan ander gee. Toe die mense dit hoor het hulle uitgeroep dat so iets
nooit mag gebeur soos wat die landbouers gedoen het en toe hulle regverdige
oordeel ontvang het nie (v.14-16).
Die Here Jesus het hulle toe aangekyk en aangehaal uit Ps. 118:22. Dit gaan oor ’n steen wat die bouers verwerp het omdat hulle gedink het dit slegte materiaal is, maar wat uiteindelik tog baie eg was en die hoeksteen geword het.
Hy het beklemtoon
dat elkeen wat die ware hoeksteen verwerp, ten gronde sal gaan. (v.17-18). Die owerpriesters
en skrifgeleerdes het toe probeer om Hom te laat vang omdat hulle besef het dat
Hy met die gelykenis op hulle dui. Hulle het die Here Jesus toe dopgehou en spioene
gestuur om Hom uit te vang sodat hulle Hom aan die Romeine kon oorlewer (v.19-20).
Die Here Jesus het geweet dat Hy hiervoor sou sterwe, maar dat Hy ook die dood
sou oorwin en as ware hoeksteen bevestig sou word.
Besprekingsvraag: Wat is die verskil in die
gelykenis tussen die seun en die diensknegte?
Insig: Christus het met sy intog in
Jerusalem openlik die godsdienstige leiers begin uitdaag. In die laaste week is
daar duidelik opbouende spanning voor sy
kruisiging. Hy het geweet waarop dit sou uitloop, maar Hy het ook geweet dat
dit die enigste weg na die opstanding en heerlikheid was. Iewers begin die ware
Messias altyd vir ongelowiges ’n bedreiging word. Dit gebeur gewoonlik wanneer ons
gemaksones, magsposisies en bekende strukture uitgedaag word. Wanneer die Kerk
nie meer profeties is teenoor heersende ordes wat nie vrug dra nie, is die Kerk
kragteloos. Christus daag ons gemaksones egter tog anders uit as ’n blote
opstandeling en hierin sien ons die ware Messias raak.
Die basiese
kwessie wat ook by ons getoets word is gesag. Wat die oorsprong is van die gesag
wat ons erken? Christus se optrede veronderstel die profetiese gesag van Johannes
die Doper en die breuklyn wat daardeur duidelik geword het. Dit gaan dus of ons
getrou is aan God se Woord en die ware vrug daarvan dra deur steeds sy wil te
soek. Daar is ’n lang geskiedenis in Israel van leiers wat nie vrug gedra het
nie en die profete gedood het (vgl. 1 Kon. 18:13; 22:24-27; 2 Kon. 6:31; 21:16;
2 Kron. 24:19-22; 36:15-16; Neh. 9:26; Jer. 37:15; 44:4; Luk. 11:47-51; 13:6-9;
33-34). Die getroue profete is in die gelykenis die diensknegte wat skandelik
behandel en gewond is. Die patroon gaan steeds voort. Waar pas ons in? Dit is ook
opmerklik dat spesifiek godsdienstige leiers voor loop in diens van die magte. Uiteindelik
loop die vraag uit op wat mense met Jesus Christus doen. Let op die belangrike onderskeid
tussen die dienaars en die eniggebore, geliefde Seun (vgl. Luk. 3:22 en Gen.
22:2; v.14). Hy is die kulminasiepunt van God se verlossende handelinge. Daarom
dat die opstand juis teen Hom is (vgl. Ps. 2).
Daar
is duidelik waarskuwing hier: Daar is
net een weg en dit is die weg van Christus, die verworpe Steen wat Hoeksteen
geword het. Elkeen wat Hom verwerp is gedoem (v.18 - verpletter, vermorsel). Ps.
118 gaan oor die Koning van Israel wat die nasies nie wou erken nie, en toe tog
God se hoeksteen was. Nou blyk dit dat die Koning ook intern nie in die volk erken
word nie. God was verdraagsaam teenoor Israel, maar uiteindelik kom die oordeel,
soos in 70 n.C. toe Jerusalem en die tempel verwoes is. God se oordeel kom oor
enkelinge maar ook oor volke. Die wingerd is daarna aan ander gegee - die nuwe
Israel van God, die Kerk. Ook ons word nou opgeroep om vrug te dra en nie smalend
teenoor Israel te wees nie (Rom. 11:12, 14-15, 26-27, 29-32). Ook Israel en
elkeen wat wil, kan herstel word as hulle Christus erken.
Werke geraadpleeg:
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.