2022/04/05

Oom Ches en wêreldbeskouing (1)

“Die funksie van die verbeelding is nie soseer om vreemde dinge vas te maak nie, maar eerder om vasgestelde dinge vreemd te maak.” – G.K. Chesterton.

Een van die voorste kenners van oom Ches, Dale Alquist, beskryf hom as ’n omvattende denker (complete thinker).[i] Dit is ’n baie besondere eienskap waarin hy uniek begaafd was. Die betekenis hiervan kan miskien makliker verstaan word as ons hoor wat die filosoosf en digter, Owen Barfield, oor die bekende C.S. Lewis, ’n ander omvattende denker gesê het: “Wat hy oor alles gedink het was vervat in enigiets wat hy gesê het.”[ii] Barfield het ook iets anders oor Lewis gesê wat hierby aansluit: Lewis het geregtigheid leesbaar gemaak. Eintlik moet ’n mens dit in Engels hoor om die kadense en woordspel te waardeer: “Lewis made righteousness readable.” Lewis was in baie opsigte die een wat die aflosstokkie by oom Ches oorgeneem het. En vir wie dit dalk nog nie weet nie: Chesterton se werk, The Everlasting Man, was een van die werke wat die jong Lewis gehelp het om sy weg na die lig te vind.

Maar verbind nou hierdie genoemde unieke vermoëns: (1) Om makro-sake reeds in mikro-sake vervat te sien en in mikro-formaat reeds makro-kwessies te hanteer, en om (2) die vermoë te hê om dit deur aardse beelde so te beskryf dat dit op grondvlak tuiskom en wat (3) goedige Jan-alleman se verbeelding kan laat ontbrand, en jy het ’n potente, gevierde vermoë wat mense sal laat luister. Dit is waarom C.S. Lewis en oom Ches vandag nog gelees word.  

Eintlik behoort elkeen wat die mantel van gelowige dra op een of ander manier iets hiervan te vertoon. Dit staan gewoon in verband met die heerlike amp wat op die koninklike, priesterlike, en profetiese kinders van God geval het. Die meeste van ons groei geleidelik hierin, maar daar is baanbrekers wat ons inspireer om met veer in die tred verder op en verder in te gaan. Dit maak van jou, om ’n gesegde van prof. Bennie van der Walt te gebruik as hy oor wêreldbeskouing praat, ’n siener in plaas van ’n kyker. Ons het baie meer sulke sieners nodig. Te veel Afrikaners is net met die profeet Siener behep, maar besef nie dat ons ander soorte sieners ook nodig het nie.

Dit beteken eintlik niks anders nie as dat ons die amp van gelowige ernstig opneem vir die hele samelewing. En waar ’n hele universiteit dit wil doen, kry jy iets soos die stoere ideaal van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoë Onderwys (PU vir CHO). Genoemde prof. Van der Walt en medestanders het in navolging van manne soos Totius en HG Stoker baie gedoen in die strewe om studente-kykers volwasse sieners te laat word. En nou is daar nuwe plekke soos die AAA - APA, Aros en Akademia - wat die fakkel oorgeneem het om steeds ’n nuwe geslag sieners te help vorm. Die vraag is egter ook nou: Hoe kan ons leer uit die foute en die prestasies van hulle wat ons voorgegaan het en hoe kan ons die saak nou nie bloot herhaal nie, maar op hulle skouers staan om sieners ook met nagsig te help?

Oom Ches se omvattend-beeldryke benadering kan help om ’n volgende geslag aan te vuur om ons Calvinistiese voorgangers se bydraes te kombineer met sy grootse aanslag. In volgende aflewerings sal ons dan ook iewers moet uitkom by die begrip van ’n Chestertoniaanse Calvinisme. 

Om ons daarin voor te berei, gaan ons hier stilstaan by dit wat ’n Calvinis uit Chesterton getap het. Die gevierde predikantskrywer en voorloper in Chestertoniaanse Calvinisme, Douglas Wilson, wys in sy bespreking van Chesterton daarop dat dit by oom Ches eintlik oor iets anderkant wêreldbeskouing gaan:   

“Die wêreld ... is 'n geïntegreerde geheel. God sien dit alles saam en verenig. Wanneer manne 'n vlugtige blik daarvan sien as alles saam en verenig, sê ons hulle is profeties. Ons noem hulle sieners en digters. Chesterton was hierdie soort man. Nie een van ons kan dit alles sien nie, maar 'n handjievol is begaafd om so op te tree asof die "alles" wel teenwoordig is. Dit is aanloklik om hierdie soort ding 'n "wêreldbeskouing" te noem, maar dit lyk op een of ander manier te gestruktureerd en netjies ... Die probleem is nie by die woord wêreldbeskouing nie... dit is 'n verbetering as ons van blindheid beweeg na samehangende gedagtes wat ons dink ... Maar die werklike orgaan waarmee ons die wêreld moet aanskou, is die verbeelding. Verbeelding, soos Napoleon eens opgemerk het, regeer die wêreld.”[iii]

Ter verduideliking van wat Wilson hiermee bedoel, moet eerstens verduidelik word dat daar wel iets soos ’n slegte verbeelding en inbeelding is wat vanuit die menslike hart amok saai (vgl. Gen. 6:5; 8:21; Mat. 15:18-19). Teoloë wys egter ook daarop dat die verbeelding geheilig kan word. Wanneer Paulus Christene byvoorbeeld oproep om in Christus te reken dat hulle vir die sonde dood is en lewend vir God, appelleer hy op die regte soort verbeelding wat in die grootste werklikhede gegrond is (Rom. 6:11). Dit is hierdie goeie kant van verbeelding wat oom Ches in die oog had toe hy gesê het:  “Alle dinge is van God; en bo alles, die rede en verbeelding en die groot gawes van die verstand. Hulle is goed in hulleself; en ons moet nie sommer net hul oorsprong vergeet nie, selfs in hul perversie.”[iv]

Ons kry verdere insig in hierdie bedoeling van verbeelding wanneer ons by iemand soos C.S. Lewis leer dat die verbeelding die “orgaan” is waarmee ons betekenis vind, verbande snap, ja die goeie a-ha ervaring mag hê. Dit kan ook gebeur met wêreldbeskouing. Maar dan is dit belangrik om te vra hoe verbeelding ons help om anderkant ’n soort oppervlakkige wêreldbeskouing te kom. Want die a-ha is nie bloot daar om dinge in vakkies te plaas sodat ons lewe met uitgetrapte voetpaadjies georden kan wees nie. Dit is ongelukkig wat maklik met ’n sekere soort wêreldbeskouing kan gebeur. Die hokkies en vakkies is daar en die sisteem redelik uitgesorteer, maar dit bly plat.

Die a-ha van die geloofsverbeelding is bedoel om ons hierby verby te neem. Dit is hier waar ons so baie by oom Ches kan leer. By geleentheid het hy dit so verduidelik: “Die funksie van die verbeelding is nie soseer om vreemde dinge vas te maak nie, maar eerder om vasgestelde dinge vreemd te maak.” Dit is presies hier waar sekere klasse oor wêreldbeskouing kan skeeftrek. Die vreemde dinge word wel vasgemaak, maar die vasgestelde dinge bly nie noodwendig vreemd-heerlik nie. Hiervoor het ons die goeie verbeelding nodig wat kan help om te snap en te snak oor hoe die alledaagse reeds bande het met allerhande ander dinge, asook iets groter daarbo, daaragter, en daaronder. Oom Ches het dit in ’n ander konteks so beskrywe:

“Elke ware kunstenaar voel dit aan, bewus of onbewus, dat hy raak aan transendente waarhede; dat sy beelde skaduwees is van dinge wat deur die sluier gesien word. Met ander woorde, die natuurlike sin vir die misterie weet dat iets daar is, iets agter die wolke of binne die bome; maar hy glo dat die strewe na skoonheid die manier is om dit te vind; en dat die verbeelding 'n soort inkantasie is wat dit kan oproep.”[v]

So word die belangrike saak van lewensbeskouing verdiep en verhoog. Dit is iets waaraan die AAA behoort te werk terwyl hulle staan op ons voorgangers se skouers. Ons het steeds sieners in plaas van kykers nodig. Maar ons behoort meer bewustelik as voorheen ook te vra na die soort siener. Want ons het verheffende sieners nodig wat ons vanuit die gewone kan meevoer na meerdere verbande. Die Chestertoniaanse Calvinis, Douglas Wilson, maak ons bewus dat wêreldbeskoulike denke hierin iets met behulp van die goeie verbeelding by oom Ches kan leer. In ’n volgende aflewering sal daar verder hierop ingegaan word.



[i] Alquist, D. The Complete Thinker: The Marvelous Mind of G.K. Chesterton. San Francisco: Ignatius.

[iii] Wilson, D. Writers to Read, Wheaton: Crossway. Hoofstuk. 1

[iv] "The Dagger with Wings: A Father Brown Mystery". Book by Gilbert K. Chesterton, 1926.

[v] "The Everlasting Man". Book by G. K. Chesterton, V: Man and Mythologies, 1925.