"Mense wil nie glo nie, want hulle wil nie hul horisonne verbreed nie." – G.K. Chesterton.[i]
Ons het in die vorige aflewering aan die hand van die Chestertoniaan, Dale
Alquist, begin kyk na oom Ches as omvattende denker. Ons gaan nou daarmee voort, maar eers net 'n paar opsommende opmerkings. Dit gaan by oom Ches oor uitbrekende
en uitbundige denke wat tog ook sterk aan ’n bepaalde sentrum gekoppel is. Ons
sal later daarby uitkom dat die
paradoksale sentrum daarvan vir oom Ches die beste verteenwoordig word
in die simbool van die kruis. Teenoor die simbool van ’n sirkel wat inkring op
sigself en wat verteenwoordigend is van alle monistiese en panteïstiese denke, en waarvan die sogenaamde New Age ook ’n
hedendaagse vertakking is, het oom Ches reeds in sy boek Orthodoxy ’n
heerliker alternatief aan die orde gestel. Oom Ches waardeer eerder die simbool
van die kruis waarin hy ’n paradoksale kruispunt identifiseer wat vanuit die
sentrum uitbeweeg na die uithoeke van die heelal en wat altyd verder kan uitloop.[ii]
Hierdie benadering van oom Ches sou ook as ’n boeiende antwoord op die kritici van die sogenaamde logosentrisme hanteer kon word, maar dit nou eers daar gelaat. Ons keer nou eers weer terug na die drie hoofpunte waarmee ons besig is: (1) Waaroor dit in omvattende denke gaan, (2) hoe die mondering daarvan lyk, en (3) wat die grondslag van so ’n aanslag is. Ons is nog in die helfte van die tweede punt waar ons aan die hand van Alquist na die mondering begin kyk het van 'n omvattende denker wat met die werklikheid en die waarheid omgaan. Ons kom nou by die ander kant van die mondering - hoe omvattende denkers met opponente omgaan. Hieroor merk Alquist in sy eerste hoofstuk op dat dit basies oor drie uitgangspunte gaan. Dit kan natuurlik heelwat uitgebrei word, maar Alquist help om by die kernaandele te hou. Opgesom kom dit op die volgende neer: Jy moet weet wat jou voorveronderstellings is, jy moet weet wat jou einddoel is, en jy moet weet waar die kontakpunte met jou opponente is.
Eerstens dan voorveronderstellings. Ons moet besef dat daar iets soos
aannames en eerste beginsels is wat nie bewys kan word nie. Vertrekpunte is per
definisie die plekke waarvandaan jy vertrek sonder dat dit bewyse benodig. Soos
oom Ches dit stel: “ Euclidus ... kan nie een stelling bewys sonder om
ons te laat saamstem in sy aannames nie." Die toepassing wat Alquist
hieroor by oom Ches vind is eenvoudig, dog merkwaardig. Hy wys daarop dat oom
Ches as jongman vir ’n tyd lank met depressie geworstel het en dat hy werklik
diep in die duisternis was. Een van die dinge wat hom daaruit gehelp het, en wat vandag nog diesulkes kan help, is
dat hy besef het dat hy by een of ander eerste beginsel of vertrekpunt moes begin,
en toe het hy gekies het vir die volgende: Dat dit beter is om te bestaan as om
nie te bestaan nie. Oom Ches stel dit in sy outobiografie soos volg: “Ek het 'n
elementêre en tydelike mistieke teorie van my eie ontwerp. Dit was in wese dit;
dat selfs blote bestaan, ingekort tot sy mees basiese grense, buitengewoon
genoeg was om opwindend te wees. Enigiets was heerlik in vergelyking met
niks." Dit is nie moeilik om in te sien dat so ’n uitgangspunt baie met geloof
te make het nie en oom Ches het dit later ook meer konsekwent gedoen. Hy het geglo dat God goed is, die gewer van alle goeie dinge is en dat sy Verlosser leef. En die
gevolg: Sy lewe het in dank oopgeblom op ’n wyse wat tot vandag toe vrug dra. En so het hy reeds in sy tyd sy opponente gleer om nie vanuit twyfel en skepsisme te begin redeneer nie.
Ons moet egter in gesprek met opponente nie net baie bewus wees van die
aannames waarvandaan ons vertrek nie, maar ook waarheen ons op pad is. Ons moet dus fokus op die doel (telos). Alquist
wys op oom Ches se woorde oor die gevolg van doelloosheid: "Die hele moderne beskawing ... weet
nie wat dit probeer vind nie; en vind dit dus nie." Hy wys ook op ander
woorde van oom Ches waarin oom Ches die doelstellings van vorige eras vergelyk met sy tyd: “Deur die geskiedenis heen was daar
breë opvattings van die doelwitte van die lewe, toetse van moraliteit wat
massas mense met sekerheid gehou en toegepas het; maar in die moderne wêreld ...
is niks anders as puinhope nie - 'n versameling van gebreekte stukkies, die ruïnes
van vorige filosofieë.”
Dit is wat omvattende denkers onderskei van hulle wat vandag tevrede is met
laslappie-teorieë, of dan sterker gestel in die woorde van oom Ches, die ruïnes
van vorige filosofieë. Omvattende denkers streef om die skemas van die eeue te sien en die eie era in terma daarvan te beskou. Oom Ches se beeld van ruïnes kan ’n kragtige funksie verrig
om ons, saam met ons opponente, uit te daag om nie te gemaklik tussen die ruïnes van eertydse lewensbeanderings te leef nie. Wat was daar voor die ruïnes van die visie wat gevolg is, waarom het dit in ruïnes verval, en hoe kan ons lewensvisie anderkant die ruïnes tree? Is dit dalk moontlik dat ons nie werklik kan bou nie
omdat ’n omvattende visie by ons ontbreek? Baie bekend in hierdie verband is dan ook die verhaal
oor die antwoord van twee bouers toe aan hulle gevra is wat hulle hulle doen.
Die een het geantwoord dat hy stene lê en die ander het die
groter prentjie gesien: “Ek help om ’n katedraal te bou.”
Die hoof van die Chesterton Akademie in Milwaukee in die VSA, Eric Demeuse, het hierdie waarheid oor die visie en die doel treffend op twee vlakke geillustreer toe as hy oor hulle eie skool gepraat het: “... as jy vandag vir baie opvoeders
vra: “Wat doen jy?" sal hulle waarskynlik iets sê soos: "Ons leer
studente vaardighede om hulle te help om suksesvol te wees op
universiteit." En dit is inderdaad 'n edele doelwit. As jy my egter vra
wat ons by Chesterton Academy doen, sê ek, ons bou 'n kultuur. Enige kultuur,
om te floreer, het ten minste drie dinge nodig: 'n verhaal van ons verlede, 'n
hoop vir ons hede en 'n opoffering vir ons toekoms."[iii]
Demeuse gaan dan voort om die betekenis hiervan uit te spel. Vir ons doeleindes sou
ons hier net kon meld dat Demeuse nie net doel en visie kombinneer nie, maar die doel ook in onderdele sinvol uiteensit. Dit word duidelik in Demeuse se
uiteensetting dat die doel 'n geskiedneis het waarvan dit nie losgemaak kan word nie, asook dat offers met die doel vir die toekoms in verband staan. Sonder hierdie soort visie op
die doel maak offers nie meer sin nie en kan dit selfs in ’n tipe selfkastyding
en bedekte rede vir roem ontaard. Dit kan ondersteuners en opponente afstoot. Die
doel help egter om agter Christus aan, vir die vreugde wat voorlê, die offers te
bring (vgl. Hebr. 12:2). Dit dwing opponente ook om hul eie doelstellings duideliker voor oe te kry so die gesprekke sinvoller te maak.
Wanneer die aannames en die doel duidelik is, is die omvattende denker ook meer
gereed om binne hierdie twee bakens na moontlike kontakpunte met opponente te
soek. Alquist wys aan die hand van oom Ches daarop dat daar geen argument is as
twee mense nie dieselfde vertrekpunte aanvaar nie. Hierdie saak kry natuurlik
baie aandag in die Christelike apologetiek in die vraagstuk of gelowiges en
ongelowiges hoegenaamd op enige plek met dieselfde voorveronderstellings
werksaam is. Sonder om hier nou op al die kante daarvan in te gaan, kan hier
opgemerk word dat oom Ches in hierdie opsig aansluit by diegene wat reken dat die
werklikheid met ’n bepaalde grein gegee is en dat selfs die ongelowige nie
konsekwent teen die grein in kan lewe nie.[iv]
En waar inkonsekwentheid dan gebeur, gee dit die geleentheid om dit as
kontakpunt aan te gryp ten einde ’n beter weg aan te toon.
Alquist wys op hierdie kontakpunt deur die konsep wat ons hier die waarheidsoomblik
sou kon noem. Hy wys daarop dat oom Ches met byna enigeen kon debatteer omdat
hy iets kon vind in sy opponent se argument waarmee hy kon saamstem. Van
daardie punt af sou hy dan demonstreer dat sy opponent se argument onvolledig
is. Hoewel Alquist dit nie so noem nie, help dit ons ook om iets te snap van
die aantreklikheid van oom Ches se mondering waarin dit moontlik word om die
opponent te benader vanuit die heerlikheid van ’n voller visie. Dit word so makliker
om op ’n wyse debat te voer waarin jy bewus bly dat jy nie bloot reg wil wees
nie, maar die opponent eintlik uitnooi na iets heerliker.
Hierdie heerliker weg word egter gebou op ’n baie definitiewe basis by oom Ches. Dit bring ons reeds by die derde punt van behandeling: Die grondslag van omvattende denke. Alquist wys daarop dat dit Chesterton se groot “misdaad” was dat hy die algemene Christelike geloof in al sy volheid geglo het. Daarom vind ons by hom, sê Alquist, op ’n dieper vlak nie verborge ondeugde nie maar verborge deugde. Hoe heerlik sou dit nie wees as dit ook van ons gesê kon word nie. Dink net: Hoe verder iemand grawe, hoe meer deugde kry hulle en hoe minder geraamtes. Dit is tog die definisie van ’n lewe wat deur die genade heen waarlik goed gelewe is. Die oop geheim en grondslag van oom Ches se lewe hieroor was eenvoudig om die Christelike geloof voluit te glo. Dit staan uit soos lig teenoor die bekendes en geleerdes van die hoofstroommedia wat tog net so geleerd en gereduseerd as moontlik wil seker maak dat hulle nie daarvan verdink word dat hulle die volle sluk op die geloofsbottel geneem het nie.
Alquist wys egter pertinent daarop dat oom Ches se vol toe-eiening van die geloof hom glad nie eng gemaak het nie. Oom Ches se woorde hieroor het eerder op kenmerkende wyse die bordjies verhang: "Mense wil nie glo nie, want hulle wil nie hul horisonne verbreed nie." Die bekrompe een, die eng een, die kleingeestige een, is hy of sy wat nie oop is vir die volle werklikheid nie. Dit herinner ons ook weer aan oom Ches se woorde dat daar onbewuste dogmas is wat ’n mens nie toelaat om oop te wees vir die werklikheid wat ook wonders en die dimensie anderkant hierdie werklikheid insluit nie.[v] Daarmee help die algemene en ontwyfelbare Christelike geloof juis en werk so die romanse en avontuur in die hand waarna reeds in vorige aflewerings begin kyk is. Dit is hierdie grondslag wat die rede was dat oom Ches ’n omvattende denker kon wees uit wie daar krag en versekerdheid gestraal het, sê Alquist. Alquist verklaar dit uit die feit dat beide geloof en vertroue afgelei word van die woord fides. En so lei Alquist dan sy werk in oor Oom Ches as omvattende denker. Dit is duidelik dat Alquist ons aan die hand van oom Ches nie net wil aanspoor tot omvattende denke as sodanig nie, maar ook om ’n baie spesifieke soort omvattende denker te word. Dit is die soort wat as laggende profeet steeds geïntegreerd kan dink, met met grasie met opponente kan omgaan, en wat vol emmers kan put uit die geloof. En toegepas op die moontlikheid van Chestertoniaanse Calvinisme: Hiermee behoort Calviniste nie 'n probleem te hê nie.
[i] Engels:
“Men will not believe because they will not broaden their minds.” Dit is
moontlik om die Afrikaans met iets soos ruimdenkend te vertaal, maar met die
risiko dat dit minder treffend vir die algemene oor is.
[ii]
Vgl. sy werk Orthodoxy, hoofstuk 8.
[iii] Demuse,
E. "Building a Culture". Aanlyn bekom by https://chestertonacademymke.org/news/2019/2/20/discover-chesterton-series-building-a-culture
[iv] ‘Vgl.
In hierdie verband die title van die bekende werk van Stanley Hauerwas: With
the Grain of the Universe: The Church's Witness And Natural Theology.
[v] Vgl.
Ook hier sy werk Orthodoxy, hoofstuk 8.