Lees: Job 19:23-29
Gedagte vir kinders: In elke moeilike omstandigheid kan
ons weet dat ons Verlosser leef.
Oorsig: Job, die ryk man wat alles gehad en
met God gewandel het, het alles verloor – sy besittings, en al sy kinders het
gesterwe. En toe het hy boonop nog siek en vol swere geword en mense het hom
eerder vermy. Drie vriende het wel na hom toe gekom om met hom te praat, maar
hulle was uiteindelik vol beskuldigings oor Job wat moontlik geheime sondes in
sy lewe gehad het. Hieroor voer hulle gesprek met Job in verskillende rondtes
en waarin hy telkens op elkeen terugantwoord. Een kommentator is van mening dat
Elifas ’n mistikus is, Bildad ’n tradisionalis, en Sofar ’n rasionalis wat oor
die probleem van lyding praat.
Ons lees hier van Job se antwoord op Bildad in die tweede rondte van gesprekke. Job kla eers dat hulle hom glad nie verstaan nie (19:1-6), dan beskrywe hy hoe God op hom aanval (19:7-12), en dan beskrywe hy die verskriklike gevolge daarvan in allerhande soorte mense se optrede teenoor hom asook die nare toestand van sy siekte (19:13-20). Job pleit dan by sy vriende dat hulle medelye met hom sal hê in die toestand wat God op hom gelê het. Hy vra ook waarom hulle hom vervolg (v.21-22). En dan kom sy kragtige en bekende woorde waarop ons hier fokus.
Job wens dat sy
hartseer woorde oor sy lot tog maar opgeskrywe sou word in ’n boek of op ’n
manier wat vir altyd sou bly (v.23-24). Dit gee vir ons die indruk dat hy baie
bewus is dat sy einde naby is, maar dat hy selfs dan hoop dat sy getuienis na
sy dood gehoor sal word. Hierdie wens van hom dat sy woorde vir altyd
opgeskrywe sal wees is duidelik vervul! En dan kom Job se geloofsuitspraak wat
ook vasgelê is in Händel se bekende Messias-opvoering. Te midde van alles bely Job
dat sy Verlosser leef en dat Hy uiteindelik sal opstaan om Job se Verlosser te
wees (v.25). En al sal sy vel ook afgeskeur word en hy doodgaan, sal hy nogtans
in sy liggaam God aanskou (v.26). Job voeg by dat hierdie aanskoue van God ten
goede vir sal hom wees en dat sy oë dit nie sal doen as vreemdeling teenoor God
nie. Hy voeg by dat die setel van sy emosies, sy niere, binne hom versmag na
daardie dag (v.27). Hy waarsku hierna ook sy vriende oor daardie dag wat vir
almal aankom. Indien hulle hom wil vervolg omdat hulle dink dat die wortel van
die moeilikheid in homself lê, dat hulle self ook vir die swaard van oordeel
moet vrees. Want God se grimmigheid is ’n werklikheid en is bedoel dat hulle
moet besef dat daar ’n oordeel is wat ook oor hulle sal gaan (v.28-29).
Besprekingsvraag: Is Job se belydenis verrassend
in die lig van sy vorige woorde?
Insig: Job se geloofswoorde oor sy
Verlosser wat leef, breek hier deur te midde van sy klag en baie innerlike en
uiterlike pyn. Ons sien dit ook dikwels in die Psalms hoe die klag eenvoudig
oorgaan in die nogtans van geloofsuitsprake. Die verrassende polsing van die
geloof kom deur in die swartste omstandighede. Dit is ’n gawe van God en ’n
tasbare bewys van wat Hy deur sy Gees in ons doen, ook as ons dit nie verwag
nie. Geloof gaan hier saam met weet, ja ook wanneer alles skynbaar daarteen
skreeu. Maar God se gawe roep ons ook op om in die geloof stelling in te neem.
Ons kan fundamenteel die hakke inskop dat die lewe die moeite werd is. Waarom?
Omdat God lewe gee, omdat God goed is, en omdat Hy die lewende Verlosser is.
Die woord
vir Verlosser (go’el) is die woord wat op menslike vlak gebruik is
wanneer iemand ’n sg. losser was. Die losser is in Israel ingeroep wanneer
iemand in nood en benoudheid verkeer het, soos wanneer iemand ’n slaaf geword
het of besittings verloor of geld nodig gehad het (Lev. 25:25-38; 47-55; Rut;
Jer. 32:7-8). Die losser was ook nodig vir geregtigheid wanneer iemand onnatuurlik
dood is (Num. 35:19; Dt. 19:6-12). Die losser moes dus iemand met beide mag en
liefde wees. Dit help ons om beter te verstaan waarom God Israel se Go’el
genoem is. (Losser/Verlosser; Ex. 6:6; 15:13; Spr. 23:11; Jes. 41:14-16; 43:14;
48:17; Jer. 50:34; Ps. 19:14; 77:15). Job se belydenis dat sy Verlosser leef,
is ’n belydenis dat die lewende God nie abstrak of ’n blote denkbeeld of konstruk
van die verstand en ’n afgod is nie. Die lewende Verlosser sien ons nood en kwellinge
en tree op en sal daaroor optree. Wanneer ons hoor hoe Job deur al die groepe
mense verag word en ons dink aan sy lyding, kan dit kwalik anders as om die
antwoord daarop te sien in God wat in Christus verag en deur die mense verlaat
was, die Man van smarte en bekend met krankheid. En tog, nadat Hy alles op Hom
geneem het, staan Hy op uit die dood. Die nuwe lewe het in Hom aangebreek. Hy
is ons lewende Verlosser (Go’el) wat altyd vir ons intree. Ons mag saam
met Job juig dat ons weet dat ons Verlosser leef en daarom ook nou ’n oog
ontwikkel vir hulle wat verag en verlate voel.
Ouer
kommentare is meer geneig om Job 19 so te verklaar dat Job bely dat hy ná sy dood God in sy vlees sou
aanskou. In die lig van vers 23-24 klink dit reg. Die geluksalige visioen om
God te “sien” (v.26-27: 3 maal ) is ’n groot tema in die Woord. Iets daarvan
begin reeds in tyd waar word (Job 42:5), maar in die ewigheid gaan dit met
verheerlikte liggame oor in aanskoue (vgl. Mt. 5:8). Onder inspirasie praat Job
en sekere vriende hieroor reeds beter as wat hul besef oor die Messias (vgl.
9:33-34; 14:13e.v.; 16:19-21; 33:23-28). Hy leef en ons mag nou saam met Job,
veral op Opstandingsondag, geloofswoorde oor die lewende Verlosser laat hoor.
Werke geraadpleeg:
Anderson, F.I. Job. Tyndale Old Testament Commentaries (TOTC).
Estes, D.J. Job. Teach the Text Commentary Series.
Longman, T. Job. Baker Commentary on the Old Testament Wisdom and
Psalms.
Guzik, D. Job. Verse-by-Verse Commentary.
Catholic Study Bible. Job.
Walton, J.H. Job. NIV Application Commentary