2022/04/07

Oom Ches en wêreldbeskouing (3)

“Mense het altyd een van twee dinge: óf ’n volledige en bewuste filosofie óf die onbewustelike aanvaarding van die gebreekte stukkies van een of ander onvolledige en versplinterde en dikwels gediskrediteerde filosofie.” – G.K. Chesterton.

Ons het die vorige keer begin stilstaan by die moontlikheid van iets soos ’n Chestertoniaanse Calvinisme. Is dit moontlik dat Calviniste ten minste op gekwalifiseerde wyse deur iemand soos Chesterton geinformeer kan word? ’n Calvinis soos Douglas Wilson dink wel so en meen dat oom Ches kan help om wêreldbeskouing te laat vlieg. In hierdie aflewering hou ons hierdie vlug vanuit ’n ander hoek dop. Ons luister in op ’n hedendaagse Chestertoniaan se beskrywing van oom Ches se benadering tot iets soos wêreldbeskouing. Dale Alquist, een van die voorste kenners van Chesterton vandag, beskryf hom deur middel van die begrip omvattende denker (a complete thinker). Sy inleiding en eerste hoofstuk in sy boek wat oor oom Ches as omvattende denker handel, word hier ingespan.[i] Alquist se beskrywing word samevattend behandel met enkele opmerkings oor die raakvlakke met Calvinistiese benaderings oor dieselfde sake. Dit geskied in twee aflewerings onder die volgende drie hoofde: (1) Waaroor dit in omvattende denke gaan, (2) hoe die mondering daarvan lyk, en (3) wat die grondslag van so ’n aanslag is.   

Waaroor gaan dit in omvattende denke? Soos reeds voorheen begin verduidelik is, gaan dit om sover dit moontlik is, die geheel voor oë te hou in die besonderhede. Dit gaan daaroor om te streef om geïntegreerd na die besonderhede te kyk. Alquist wys daarop dat oom Ches teenoor die relativisme die alternatief kon stel wat saak maak. Hy kon ’n heerlike geïntegreerde visie konsekwent, ekstensief en verstommend aantoon op ’n wyse waarin hy oor alles gepraat het, maar dit tog ook weer kon saamvoeg, se Alquist. Alquist wys daarop dat die moderne lewe na spesialisasie neig wat ’n soort geforseerde gefragmenteerde denke in die hand werk. Dit lei weer tot akademiese dissiplines wat elkeen verseël is in sy eie kompartement. Alquist wys dan daarop dat dit een van die redes is waarom Chesterton moeilik by so ’n opset inpas. Oom Ches is eenvoudig te breed om in enige departement in te pas. Hy maak dan die volgende uitspraak wat die moeite werd is om aan te haal:

"Om Chesterton te lees is amper 'n volledige opvoeding op sigself. Hy verlig elke dissipline. Hy maak deure oop van een ding na 'n ander en trek al die verbande - of dit nou die verwondering oor God se skepping is, wat die studie van die natuurwetenskappe is; die strengheid van rede en logika, wat wiskunde is; die liefde vir skoonheid en die uitlokking van verbeelding, wat kuns en letterkunde is; die passie vir geregtigheid, wat reg en politiek is; die uitdaging om ons daaglikse brood te kry, wat ekonomie is; die soeke na betekenis, wat filosofie is; en die soeke na God en al die waarheid wat die ewigheid vul, wat teologie is.”

Later verduidelik Alquist hoe hierdie verskillende dissiplines tog steeds ’n geheel bly in die denke van Chesterton: Omdat die waarheid ’n geheel is, moes Chesterton daarom as joernalis oor alles praat om te illustreer hoe dit oral van toepassing is. In bogenoemde woorde lê ten minste twee toepassings vir hierdie projek opgesluit. Daar sal ten minste by al hierdie velde aangehaak moet word om na te gaan hoe Chesterton se geheelvisie in die verskillende velde inwerk. Op een of ander wyse sal dit ook in verband gebring moet word met die vraag neo-Calviniste eenheid behou in hul beklemtoning van soewereiniteit in eie kring. Verder sal ook gevra moet word oor wat Calviniste by oom Ches kan leer oor die vermoë om steeds geïntegreerd allerlei sake op joernalistieke wyse in die oor van Jan Alleman te bring.  

Hiermee saam hang ook ’n baie duidelike styl. Alquist wys daarop dat ons dalk wel met die waarheid kan omgaan, maar dit nog steeds op ’n wyse doen wat vol hoogmoed en woede is. In oom Ches se aanslag vind hy egter by al sy onverskrokke uitsprake, ’n besondere grasie, goedheid en nederigheid. Dit is juis hierdie eienskappe wat hom ook in staat stel om die waarheid in al sy skoonheid voor te hou. Alquist wys in hierdie verband daarop dat oom Ches beskryf is as enersyds die woeste ridder van Battersea, die distrik in Londen waar hy gewoon het, en andersyds as die laggende profeet. Dit is ook hiervan wat Calviniste kan kennis neem. In oom Ches het ons nie net te make met ’n omvattende denker nie, maar ook met  besonder aantreklike styl. Die reeds genoemde Wilson, is ook om hierdie rede oortuig dat Calviniste werk daarvan moet maak om in ’n sekere sin meer Chestertoniaans te wees. Wilson is bekend vir sy opmerking dat skrilheid die boesemsonde van konserwatiewes en te veel Calviniste is. Hy is van mening dat oom Ches Calviniste kan help om met diep oortuiging dit stylvol te illustreer dat die wêreld wel afstuur op komedie en nie tragedie nie.  

Dit bring ons reeds by die tweede saak: Wat is die basiese mondering van ’n omvattende denker? Alquist wys aan die hand van oom Ches op twee kante. Hy wys kortliks op hoe ’n mens met die werklikheid en die waarheid omgaan en dan ook hoe daar met opponente omgegaan word. Volgens Alquist besef ’n omvattende denker dat daar ’n hiërargie van kennis is. Daar is belangrike denke en dan is daar die hoogste en beste denke en dit moet sentraal staan. Jou denke moet daarom letterlik die moeite werd wees om oor na te dink. Verder moet jy weet hoe om die gapings in te vul tussen dit wat jy weet  en dit wat jy nie weet nie sodat dit sinvol aan mekaar verbind kan word. Jy moet ook weet hoe om die meeste te maak van beide geloof en rede op so ’n wyse hulle mekaar nie kanselleer nie, maar aanvul in die toetsing van die waarheid.

Die bedoeling van hierdie beskrywing van Alquist is duidelik. Dit gaan daaroor dat jy ’n basiese filosofie ontwikkel wat oop is vir die waarheid en werklikheid en bereid is om dit te beproef. Alquist stel dit nie so nie, maar in oom Ches se geval het dit uitgeloop op ’n filosofie wat hy metafisiese realisme genoem het. Oom Ches was ook oortuig dat dit die filosofie van die gewone gelowige man en elkeen met nugtere verstand was (common sense and the common man). In sy werk, Orthodoxy, is oom Ches oortuig dat te rym is met die algemene Christelike geloof, maar ook die algemene kinderfabels wat vertel is. Alquist wys dan op die volgende woorde van oom Ches: “Mense het altyd een van twee dinge: óf ’n volledige en bewuste filosofie óf die onbewustelike aanvaarding van die gebreekte stukkies van een of ander onvolledige en versplinterde en dikwels gediskrediteerde filosofie.”

Maar hoe tree jy op in ’n wêreld wat enersyds onbewus is van hulle filosofie en andersyds gebreekte stukkies van ’n onvolledige filosofie aanvaar het? Alquist wys op hoe oom Ches konstant probeer aantoon het dat daar een sentrale waarheid is waaraan alle ander waarhede verbind is. En dan moet jy besef, sê Alquist, dat dit van alle kante aangeval word deur dwaling, deur foute, deur dwaasheid, en deur sonde. En dan merk Alquist treffend op: “Chesterton verstaan dat hy in die verdediging van hierdie waarheid bereid moet wees om oor alles te praat. En dit is dus waaroor hy praat—alles.”

Daar is egter ook ’n baie duidelike aanslag in hoe jy opponente hierin hanteer. Dit is ook deel van die mondering van die omvattende denker. Daarna moet daar ook nog gekom word by die grondslag van ’n omvattende denker soos oom Ches, maar daaroor word in ’n volgende aflewering gehandel. By hierdie halfpadmerk moet daar nou eers voorlopige gevolgtrekkings gemaak word. In ’n gefragmenteerde wêreld is dit maklik om jou kop in whatever-land te verloor. Dit gebeur nog makliker in ’n kosmopolitaanse opset waarin stukkies gebreekte filosofieë saamgeflans word. Die bindingskrag ontbreek egter, veral as die belangrikste nie meer die belangrikste is en sentraal bly staa nie. Dit moet eenvoudig swig onder die gewig van moeilike tye. Om die waarheid te sê, die Weste is besig om in te plof onder die laste van die liggewig hegtings sonder ’n sentrum wat sterk staan. Die fierheid van woeste ridders en laggende profete wat oor alles kan praat terwyl hulle altyd na dieselfde sentrale waarhede terugkom en dit daaraan verbind, is nodiger as ooit. En as hulle dit kan doen terwyl hulle nie houding trek nie, maar nederig en verwonderd bly oor die heerlike alternatief, behoort dit gravitasiekragte aan die gang te sit.


[i] Dale Alquist, The Complete Thinker: The Marvelous Mind of G.K. Chesterton. San Francisco: Ignatius. 2012.