Lees: Luk. 15:1-3, 11-32.
Gedagte vir kinders: Die Vader
nooi ons uit na die fees van genade in sy huis.
Oorsig: Die Here Jesus het drie gelykenisse vertel omdat die Fariseërs en Skrifgeleerdes gemor het omdat tollenaars en sondaars (1) ’n gewoonte gehad het om na Christus te kom en (2) na Hom te luister en (3) Hy hulle ontvang en (4) saam met hulle geëet het (v.1-3). Die Here Jesus het toe die drie gelykenisse vertel om iets uit te beeld van God se vreugde oor en verbintenis tot die redding van verlore mense. Ons lees eers van honderd skape, dan van tien pennings en dan van twee seuns.
In die laaste geval het die jongste seun vir sy vader gesê dat
hy dadelik wil erf en die vader het dit verbasend genoeg toegestaan (v.11-12). Toe
het die seun daarmee weggereis na ’n ver land en sy eiendom uitgemors deur ’n goddelose
lewe. Maar uiteindelik het al sy geld opgeraak en het daar boonop ’n swaar
hongersnood gekom en hy het baie swaargekry (v.13-14). Later moes hy by iemand varke
oppas. Hy het selfs honger gehad om die peule van die varke te eet, maar nie
eers dit is aan hom gegee nie (v.16).
Toe het hy
tot sy sinne gekom en geredeneer dat self sy pa se werkers oorvloed van brood
het, terwyl hy vergaan van honger. Hy het toe besluit om op te staan, terug te
gaan, en te erken dat hy teen God en sy pa gesondig het en bereid is om soos ’n
werker behandel te word (v.17-19). Sy pa het hom egter van ver gesien en innig jammer
gekry, na hom gehardloop, en hom omhels en hartlik gesoen. Die pa het hom selfs
in die rede geval toe hy begin jammer sê en opgeroep om fees te begin hou met
nuwe klere en ’n vetgemaakte kalf wat geslag word. Hy het bly uitgeroep dat die
seun dood en verlore was, maar nou lewe en gevind is (v.20-24).
Die oudste
seun het van niks geweet nie en toe hy naby die huis kom en die musiek en beurtsange
hoor, en by ’n dienskneg hoor wat gebeur het, kwaad geword en wou nie binnegaan
nie. Die pa gaan toe ook uit na die oudste seun en smeek hom om in te kom (v.25-28).
Die seun het kwaad gesê dat hy sy pa soos
slaaf gedien het, maar nog nie eers ’n bokkie ontvang het nie. Hierdie
seun wat sy goed met hoere deurgebring het, ontvang egter nou die fees van die
vetgemaakte kalf (v.29-30). Die pa se woorde was verstommend. Hy het hom daarop
gewys dat alles van die vader wel reeds syne was. Maar Hy het hom ook op sy broer
gewys wat lewe en gevind is en dat dit tog rede vir groot blydskap is (v.31). Die
oudste broer se reaksie word nie vertel nie, want elkeen in die rol van ’n
oudste broer soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes en tradisionele kerkmense, voltooi
self die gelykenis in hul eie lewe.
Besprekingsvraag: Watter toepassings is daar
vir die ouer en jonger broer vandag?
Insig: Die jongste verlore seun kry meerdere betekenis as ons verskillende soorte goddeloses raaksien wat tot bekering kom. Kollektief kan ons dit van toepassing maak op Israeliete wat afvallig geraak het. Meer spesifiek moontlik op Efraim as verteenwoordiger van die Noordelike stamme wat afvallig geraak het, eie afgodstempels opgerig het, en uiteindelik verkoop is na ’n vreemde land. Dit kan ook wys op die afvallige Weste vandag wat besig is om hulle wese te verloor. Dit kan ook verwys na elke kind wat voel dat hulle nie genoeg aandag of erkenning in ide huis kry nie. Wat doen diesulkes? Hulle dink dat ware geluk en die volle lewe elders is. Hulle wil hulle deel van God se gawes (v. 12 letterlik wese: ousia) neem om op hul eie, maar los van God te geniet. Dit is nie volhoubaar nie. Iewers word die lewe sonder God arm en haglik.
Die oudste
seun kry meerdere betekenis as ons dit kollektief ook van toepassing maak op
Juda wat gedink het hulle is beter as die Noorde, omdat die tempel by hulle
was. Dit kan ook wys op die afvallige Weste wat hulself konserwatief noem, maar
net teen stadiger spoed wegdryf van die Vader se huis. Dit kan ook wys op elke
kind wat die oudste is, of die voorbeeldige of presteerder is en die sentrale
posisie inneem. Wat doen diesulkes? Hulle staan in die tradisie en volg selfs bepaalde
reëls uiterlik. Hulle munt moontlik ook bepaalde voordele daaruit. Maar hulle is
nie werklik in gemeenskap met die Vader nie. Een van die tekens is geen
blydskap oor nuut bekeerdes wat onverdiend skielik meer seën as hulle belewe
nie.
Ons kan beide
gesindhede ronddra. Maar ons kan net so lank in die spieël kyk. Uiteindelik is
die vraag eerder hoe ons kan verander. Soms moet ons soos die jongste ons kop
behoorlik stamp om “tot onsself te kom”. God se Gees bewerkstellig dit ook. Soms
moet ons soos oueres agterkom dat ons ’n probleem het omdat ons kwaad of
jaloers is en gegrief voel oor seën of genade in iemand anders se lewe wat
onverdiend is en hulle (skynbaar) meer oorvloed as ons beleef. Die manier
waarop ons vrykom, is om telkens op die verstommende Vader te fokus. Hy sien
van ver die wat wil terugkom, Hy kry innig jammer, Hy hardloop, Hy omhels, Hy
soen, Hy val in die rede met ’n fees, Hy gaan uit na kwaad en jaloerse kinders,
Hy smeek, Hy verseker dat alles reeds in Christus reeds joune is sonder
verdienste, Hy is vrolik en vier fees oor kinders wat verlore was, maar gevind
is. Die oudste broer was nie so nie. Die goeie nuus is dat ons oudste Broer,
Jesus Christus wel so was. Hy het selfs na die ver land vertrek om ons daar te
gaan haal en na die Vaderhuis terug te bring. Hy moes onmeetlik lei sodat ons
onverdiend in die Vader se huis as versoende ouer en jonger kinders die fees
van genade mag vier.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.