2011/09/02

Die dinamiek van 'n deftige drieslag

“Bloed, sweet en trane.” 
“Vrede, brood en grond.” 

Moenie die krag van bevatlike betoë onderskat nie. Jy kan daardeur bewegings op sleeptou neem. Winston Churchill en Vladimir Lenin het met bogenoemde gelaaide woorde mense geïnspireer, op heilsame maar ongelukkig ook onheilsame wyses. Hulle en talle ander instellings en persone het dit deur die eeue heen reggekry deur die gebruik van dit wat ’n triade genoem word (lees mooi - nie 'n tirade nie ... ). ’n Triade is ’n deftige woord om ’n drieslag aan te dui, sê die HAT. Afvaardigings, advertensies en betoë maak dikwels hiervan gebruik. Oor die algemene gebruik hiervan in betoë merk Mayer in sy boek oor effektiewe redevoering, How To Win Every Argument (vieslike titel, effektiewe verkoopstegniek), op dat daar in die praktyk eenvoudig net iets is wat krag aan ’n triade verleen en iets afrond.

Ons weet dit is waar. ABSA sê "Vandag, more, altyd saam." Rice Crispies sê "Snap, Cracle, Pop". Die advokaat se finale effektiewe betoog het dikwels drie punte. En die dominee, voor hy hom kon kry het sy preek gewoonlik drie punte. "Hoekom het 'n dominee se preek altyd drie punte?" vra iemand nou die dag. Miskien is dit omdat die gemeente nie meer as drie punte kan hanteer nie...? Net gou 'n realiteitsflits. Dit word vertel dat Puriteinpredikers dikwels op 'n Sondag so ses en dertig punte in hul preek gehad het. En dan sou twee bure in die week met mekaar oor die heining gesels en selfs 'n bietjie verskil oor wat punt nommer vier en twintig nou weer was! Maar miskien is die storie nie reg vertel nie. Die dominee het maar net drie punte met twaalf onderafdelings elk gehad en hulle kon net die eerste twee punte onthou. Ondankbare lidmate as jy my vra ...


Terug na triades. Steve Hofmeyr erken dat die keuse vir die Vrystaatse dorp Petrus Steyn in sy lied "Pampoen", hoofsaaklik gedoen is op grond van die, let wel, drie lettergrepe. Het dit geen verband met die triade-afronding nie? Drie lettergrepe het al meer as een keer 'n lied bo-aan die Afrikaanse trefferlys laat beland. Al ooit getel hoeveel lettergrepe die De la Rey liedjie het? Triades is werklik oral te vind.

Teologies beoordeel, het die triade-fenomeen waarskynlik iets te doen met die feit dat ’n driedubbele lyn nie maklik verbreek word nie (Pr. 4:12), dat in die mond van twee of drie getuies iets vasstaan (Dt. 19:15; Mat. 18:16; 2 Kor. 13:1), en ten diepste met die Drie-enige God. Die Trinitariese verbeelding word vandag uit verskeie teologiese oorde herontdek en voorgehou as verfrissende inset vir die teologie en daarmee vir die hele lewenswerklikheid. Jy kan nie begin om die evangelie te bewonder as jy nie Trinitaries te werk gaan nie, sê Fred Sanders onlangs in sy hoogs aanbevole werk vir gewone lidmate, The Deep Things of God: How the Trinity Changes Everything. Kom ons maak die visie-kwessie eenvoudig. Hoe sal jy 'n omvattende visie met net drie (gelaaide) woorde werwend beskrywe? In my kop is daar tans die volgende twee opsies: Die ou bekende triade: waarheid, goedheid en skoonheid. Of miskien meer onlangs: skoonheid, harmonie en wysheid. Die lettergrepe maak dit dalk lomp. Wat van " mooi, goed en waar"? Of: "Waar, goed en mooi"? Nee, dit is nie bevredigend nie. Hoe dit ook al sy, 'n lewe word nie geleef met slagspreuke nie. Quintillius of hoe jy ook al sy naam uitspreek, het effektiewe retoriek gedefinieer as die kunsvorm van 'n goeie man wat reg kan spreek. Hy was reg. Effektiewe praat, spreek en slagspreuke is dit net op grond van goeie, geloofwaardige en aansteeklike lewenswyses (hoe is daai vir 'n drieslag?). Beter gestel: Christus-gedronge leefwyses. Dit is altyd die beste advertensie. Maar laat ons nie vergeet nie - Churchhill en Lenin het baie reggekry met hul gelaaide triades en vriend en vyand sal in ons dag voortgaan hiermee. Christene wat aansteeklik leef, behoort ook aansteeklike visie en aansteeklike spreuke te kan optower uit verbeeldings wat bevry is. Sulke verbeeldings poog om tot eer van God sin te maak van die lewe, vir kinders en kleinkinders. Of is dit nou omgekeerd? En as dit sin maak vir kinders, miskien ook vir die voetvolk. En miskien kan 'n paar geleerdes dan later gaan filosofeer waarom 'n besondere triade nou eintlik so effektief was. Selfs effektiewer as die van Lenin of Churchill.