Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het vir ons ware rus en lewe
gebring.
Oorsig: Markus 2-3 vertel van vyf geleenthede aan die
begin van die Here Jesus se bediening waar Hy homself openbaar (Vergifnis-gewer,
Geneesheer en Bruidegom). Hier openbaar Hy hom as Here van die Sabbat en verduidelik
wat die diepste bedoeling van die Sabbat is. Sy bediening was baie besig en
dikwels het hulle nie eens tyd gehad om te eet nie (vgl. 3:20; 6:31; 8:1). So
het hulle dan op ’n sekere Sabbat deur gesaaides geloop en die honger dissipels
het begin om are te begin pluk (v.1). Die wet van die Here het toegelaat dat
arm mense van die lande af kon eet, sonder om ekstra saam te neem (Deut. 23:25-26).
Die wet het wel bepaal dat daar nie beroepswerk soos oes op die Sabbat mag
plaasvind nie (Ex. 34:21).
Daar was egter Fariseërs
wat gemeen het dat dit nie reg was nie. Die Here het hulle toe gewys op Dawid
wat by geleentheid in nood was saam met sy manskappe en honger gehad het (let
wel) en hoe hy in die huis van God (vgl. 1 Sam. 21:2-7) in die tyd van Abjatar
wat later hoëpriester geword het, toonbrode geëet het wat elke Sabbat vervang
is, en normaalweg net vir die priesters bedoel was (vgl. v. 24-26; Ex. 25:30;
Lev. 24:5-9). Hieruit moes hulle reeds aflei dat Sabbat gemaak is vir die mens
en nie die mens vir die Sabbat nie. En hulle moes hierdeur ook verstaan die Seun
van die mens Here is van die Sabbat (v.27-28).
Hierdie saak is verder
gevoer toe die Here Jesus in ’n sinagoge gegaan het op die Sabbat en daar ’n
man met ’n verdorde hand was. Weer het hulle hom dopgehou sodat hulle Hom kon
aankla as Hy werk doen op die Sabbat (3:1-2). Die Here Jesus het egter nie
weggedeins vir hulle mensgemaaktye reëls nie en vir die man met die verdorde
hand gesê om op te staan in hulle midde. Toe het Hy die mense gevra of ’n mens
op die Sabbat goed of kwaad moet doen, ’n lewe red of doodmaak. Hulle het
stilgebly, omdat hulle nie werklik wou hoor nie (v.3-4). Die Here Jesus het
hulle toe met toorn aangekyk omdat hulle nie wou uitkom vir lewe nie terwyl Hy
gelyktydig bedroef was oor hulle harde harte. Hy het toe vir die man gesê:
Steek jou hand uit! Die man het dit toe uitgesteek en sy hand is herstel, nie
net bietjie nie, maar herstel soos die ander een (v.5). Dit het veroorsaak dat
die Fariseërs gaan raad hou het met ondersteuners van koning Herodes (Herodiane).
Hulle was normaalweg nie vriende met mekaar nie, maar in Jesus het hulle ’n
gemeenskaplike vyand gesien wat hulle nader aan mekaar gebring het en om planne
te maak hoe om Hom om te bring (v. 6; vgl. Ps. 2).
Besprekingsvraag: Hoe wys Dawid hier heen na die bediening van
Jesus Christus?
Insig: Die doel van die Sabbat, wat rus beteken, was om aan mense verademing te gee, verligting van die las van slawerny en lyding (vgl. Deut. 5:15; Ps. 84; 103:1-5). Die verbod op beroepswerk (vgl. Lev.23:24-28) was daarop gerig dat mense egte gemeenskap met God en mekaar, en daarom vernuwing en feestelikheid kon beleef. Dit was so gepas dat die Here Jesus juis op hierdie dag genees, omdat Hy die groot Geneesheer en Hersteller van lewe is.
Hierdie gedeelte maak ook duidelik dat barmhartigheid voor ritueel kom, soos in in die missie en noodsituasie van Dawid
bevestig. Die dissipels was mos beslis nie besig om te oes nie. Inteendeel, hulle was eerder in
diens van die Messias wat gekom sodat ons ware rus en vernuwing in God mag ken. Christus lig ook verder die argument na ’n nuwe vlak as Hy sê dat Hy Here is van die Sabbat. Dit is ’n
geweldige aanspraak. Hy het die reg om die interpretasie aan te toon, Hy wat juis
die Sabbatsrus vir ons ingebring het. En Hy leer dat die sabbat gemaak is vir die mens, om
die mens te vernuwe en te verhef.
In Christus is Sondag, die eerste dag van die week, nou die vervulling en verheerliking van die Sabbat van die ou verbond. Ons streef nou om die diepste bedoeling van Sabbat voort te sit, maar dan as teken van die nuwe skeppping en daarom ook van die vernuwing van elke dag van die week. Ons lei uit gedeeltes soos hierdie af dat barmhartigheid voorrang geniet wanneer daar besluite geneem moet word oor lewe en oor ordereëlings. Daarom word noodsaaklike dienste soos veiligheid en barmhartigheid baie spesifiek nie opgeskort op Sondae nie. Ons Here dring ons ook tot ’n basiese keuse – goed doen of kwaad doen; lewe te red of dood te maak. Blote passiwiteit pas nie hier nie.
Vandag word die punt egter ook na die ander kant gemis. Slawerny
van rigiede sabbatsonderhouding word in ons dag verruil vir die slawerny van die markte.
Beroepswerk word weer gewettig en veral arm mense het nie die luukse van rus en
vernuwing en aanbidding saam met ander nie. Ons moet weer ernstig nadink hoe
ons ondersteuning van die markte op Sondag hierdie patroon sanksioneer.
Let op die Here Jesus se optrede met durf. Hy verantwoord Hom uit die Skrif,
maak aanspraak om Here van die Sabbat te wees, laat die man opstaan in die
sinagoge in weerwil van beswaardes, en Hy roep herstel kragtig uit as Hy sê: “Steek
jou hand uit! En Hy is toornig en tegelyk barmhartig. Let wel, Hy is toornig
omdat die goeie, die lewe, nie geëer word nie. Daar is ’n soort verstikkende
godsdiens wat hierdie punt mis. Maar daar is ook die onbedoelde gevolge van
sogenaamde vrymakende (liberale) wetgewing oor sake soos aborsie en egskeiding,
en die gebrek aan wetgewing oor Sondag, wat vandag ook die lewe verwoes. Ons Here is toornig, maar tegelyk ook hartseer oor harde harte wat Hom en die lewensherstel wat Hy
bring nie erken nie. Hierdie toorn gepaar met hartseer is ook vir
ons 'n goeie toets vir die soort toorn wat eg is en meer is as blote moreel-woedende
verontwaardiging inhou (vgl. Ps. 119:53 met 119:136). Ons moet leer om op die Opstandingsdag
opstandig te raak oor die sonde wat in ons en om ons oorgebly het en ook hartseer
te wees oor harde harte. En na verootmoediging ook aktief te vra hoe ons die lewe met God mag vier op die
Sondag en ook elke ander dag.
Christus het gekom om lewensherstel te bring, maar ironies genoeg wil hulle Hom wat
lewe bring, doodmaak. Uiteindelik is Hy ook daarvoor bereid, om Homself oor te gee vir ons, sodat
ons bevry kan word tot die lewensvernuwende gemeenskap met God. Dit roep ons op
om Hom wat Here is van die Sabbat, ook as ons Here van rus en lewensherstel en
lewensvernuwing te erken. Hy is ook Here van die Fariseërs se gewaande ortodoksie, en Hy is Here van elke punt wat vir jou eie ortodoksie (regdenkende leer)
so belangrik is. Vra jouself hoe Christus as Here ook oor jou diepste
oortuiginge heers en moontlik selfs in ’n beter rigting kan draai wat meer trou
is aan Woord van God. Dit is waaroor altyd reformerend (semper reformanda) gaan. En laat ons moeite doen om te vra hoe ons
gemeenskap met God ’n lus is wat lewegewend is, en hoe die dag van die Here in
die lig hiervan ingerig behoort te word.
Werke geraadpleeg:
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year B.
Mary
Healy, The Gospel of Mark.
Ben
Witherington, The Gospel of Mark.
Michael
Card, The Gospel of Passion.