2024/05/16

Gesalfdes van die verheerlikte Christus

Lees: Hand. 1:1-11

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus wat opgeneem is in die hemel kom weer.

Oorsig: Die Here het deur Lukas, die geneesheer, vir ons twee kosbare Godgeïnspireerde getuienisse in sy Woord gegee. Die eerste boek gaan oor alles wat die Here Jesus begin doen en leer het (v.1). Die tweede boek, Handelinge, gaan oor alles wat die Here Jesus voortgegaan het om te doen deur sy liggaam, die Kerk, in die krag van die Heilige Gees. Lukas skryf, soos in sy eerste boek, aan Theofilus, wat een of ander belangrike persoon was, maar wat hy nou op sy Naam noem. Theofilus beteken geliefde van God of Godliefhebber en beide betekenisse is hier van toepassing, ook op elke gelowige en die bedoeling is dat sommige wat lees ook so kan word. Lees Lukas en Handelinge daarom met jou hart.

In sy eerste boek het Lukas vertel van Jesus Christus tot by die punt van sy hemelvaart nadat Hy aan die apostel wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het (v. 2). Hy het homself aan hulle as lewend na sy dood vertoon deur baie kentekens en gedurende 40 dae aan hulle verskyn en oor die dinge van die koninkryk gespreek (v.3). Hy het hulle toe ook bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader wat hulle van hom gehoor het (v.4). Hy het hulle toe gewys op die bediening van Johannes die Doper wat met water gedoop het (vgl. Mat.3:11), maar dat hulle nou binnekort met die Heilige Gees gedoop sou word (v.5). Die wat bymekaargekom het vra die here toe of Hy in daardie tyd die koninkryk vir Israel weer gaan oprig (v.6). Die Here Jesus het hulle geantwoord dat die tyd en geleentheid daarvoor hulle nie toekom om te weet nie, omdat die Vader dit deur sy eie mag bepaal het (v.7). Hulle moes eerder moes fokus op wat hulle taak was en hoe die koninkryk van God ’n werklikheid sou word op aarde. Wat hulle kon weet is dat hulle krag sou ontvang wanneer die  Heilige gees oor hulle kom. So sou hulle getuies wees in Jerusalem, die stad van god in die Ou testament. Maar dit sou ook gelyktydig (sowel as) uitkring na die hele Judea en Samaria en verder tot aan die uiterste van die aarde (v.8).

Daarna is die Here Jesus opgeneem in die hemel terwyl hulle dit sien. ’n Wolk het Hom voor hulle oë weggeneem (v.9). toe die dissipels nog so stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan het daar twee manne in wit klere by hulle gestaan en gesê: manne van Galilea, waarom staan julle en kyk na die hemele. Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het (v.11).    

Besprekingsvraag: Hoe wys Dawid as koning hier heen na Christus as opgestane Koning?

Insig: Die Here Jesus se voortgaande werk na sy opstanding was enersyds nuut , maar kan andersyds net deur die lense van die Ou Testament na waarde begryp word. Ons verneem hier van die Een uit die nageslag van Dawid wie se ryk geen einde sal hê nie (Luk. 1:32-33). Hy vertoon Homself vir 40 dae lank na sy opstanding aan sy dissipels en eet en drink saam met hulle (Hand. 10:41). Om saam te eet dui op innige gemeenskap en verbondenheid, maar hier ook dat die Koninkryk in beginsel reeds gekom het (vgl. Luk. 22:16,18). Die 40 dae herinner ook aan die motief van toetsing en gereedmaking (vgl. Moses, Israeliete, Elia, Christus). Die dissipels se vraag oor die heroprigting van die koninkryk vir Israel was daarom uit fokus, maar nie ongegrond nie (v. 6). Hier is sprake van die Koning wat sy troon gaan bestyg met die hemelvaart en daarmee die troonbestyging waarvan die Psalms praat vervul (vgl. Ps. 2; 110; Dan. 7:13,14). En die proklamasie hiervan kring ook uit vanaf die stad van Dawid, Jerusalem, waar die Messias verwag is. Dit kring in konsentriese sirkels uit soos met Dawid destyds, vanuit Jerusalem, na sy stam en dan sy volk en bondgenote. Maar hier word dit nou vervul tot aan die eindes van die aarde. Rome wou graag met hulle paaie die Romeinse vrede na die verste gebiede bring. Hier hoor ons hoe dit eerder sou gebeur.

Die wanneer van die koms van die Koninkryk is egter nie die fokus nie, maar die hoe. Die deurbreek van die koninkryk sou gebeur deur die belofte van die Heilige Gees (vgl. Mat. 3:11) en deur getuienis. Getuienis beteken eenvoudig dat ons getuies is deur ons woorde en dade van God se getuienis (vgl. Eks. 25:22; 31:18; 1 Joh. 5:9). Ten diepste gaan dit oor die werklikheid van Christus as Verlosser-Koning en sy vernuwende mag deur die Heilige Gees. Jesus Christus is gekruisig vir ons sonde, het die dood oorwin, en God gaan deur Hom die hele wêreld oordeel. Hy het die Gees uitgestort op sy Kerk en bekragtig sy Kerk vir die getuienistaak. Uiteindelik gaan dit oor wie die ware Koning is en hoe ver sy koninkryk strek. Christus praat reeds voor sy hemelvaart van die koninkryk en aan die einde van Handelinge verkondig Paulus dit alreeds tot in Rome, die hoofstad van die destyds bekende wêreld (Hand. 28:23). Hierdie koninkryk van God word sigbaar in die Kerk van Jesus Christus waar ons nou reeds sy verlossing en Koningskap uitleef en ’n seën mag wees vir die nasies (vgl. Gen.12:3; Jes. 49:6). Dit waartoe die dissipels geroep word – gesalfde gesante om te getuig, bekragtig deur die Gees tot aan die eindes van die aarde – word reeds deur Jesaja van die Kneg van die Here gesê (vgl. Jes. 42:1; 61:1; 43:6,12, 44:8, 46;9; 49:6). Ons sit dus nou in die krag van Christus sy werk voort. Gelowiges is inderdaad knegte van die Allerhoogste (Langenhoven).

Wat kan ons verwag sal gebeur? Dat daar soos in die Here Jesus se bediening kragtige getuienis sal wees saam met kragtige bediening. Ook dat daar lyding sal wees, maar wat op oorwinning sal uitloop, al is dit ook deur verdrukking heen (vgl. Hand. 14:22). Hierdie fase kon egter net begin omdat Christus terug was by die Vader. Omdat Hy reeds sit aan die regterhand van God, die almagtige vader, weet ons die versoening is effektief, dat die Heilige Gees met ons is, en dat die oorwinning verseker is. Daarom mag ons ook staatmaak op die bekragtiging deur die Gees en mag die getuienis van die Kerk uitloop tot aan die eindes van die aarde. Ja, die eilande wag op sy leer (Jes. 42:4). Die tyd en geleentheid van die voleinding kom ons nie toe om te weet nie, maar ons weet wat die fokus intussen is: Getuienis en diensbaarheid in sy koninkryk totdat Hy weer kom.

Werke geraadpleeg:

Patrick Schreiner, Acts: The Standard Christian Commentary.

Matthew Henry

John Bergsma, The Word of the Lord, Year A.