Lees:
HK, Sondag 36; Num. 6:27; Spr. 18:10; Hand. 2:21
Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om sy Naam met groot eerbied
te gebruik.
Oorsig: Ons kyk hier na die derde gebod as deel van ons
dankbaarheidslewe soos die HK dit verduidelik. Wat is dit wat God van ons eis wanneer Hy
beveel dat sy Naam nie ydellik gebruik mag word nie? Ydellik beteken dat ons sy
Naam sommer ligtelik gebruik of inroep. Die Naam van die HERE gaan oor wie Hy
is. Die manier wat ons God se Naam gebruik, sê daarom wat ons van God dink. Die
HK pas dit vir ons toe en leer dat ons nie die Here se Naam mag vloek of in sy
Naam ’n valse eed in die hof mag aflê nie. Ons moet ook nie onnodig in sy Naam
sweer nie, want so laster en misbruik ons sy Naam. Ons kan egter ook aandadig
raak wanneer ons stilbly of toelaat dat iemand anders sy Naam ligtelik gebruik.
Die HK stel dat ons aan sulke sondes geen aandeel moet hê nie. Die HK gaan dan
voort om te verduidelik hoe ons wel God se Naam moet gebruik. Ons moet dit nie
anders as met vrees en eerbied gebruik nie. Die doel daarmee is dat ons ons Hom
reg sal bely en prys in al ons woorde en werke (antw. 99).
Die HK vra hierna of dit dan so ’n groot sonde is
om die Naam van God te laster dat God selfs toornig is oor hulle wat nie, sover
hulle kan, help om dit af te weer en te verbied nie. Hierop is die antwoord dan
ja, dit is ’n groot sonde. Die rede, sê die HK, is dat daar geen groter sonde
is of een wat God meer toornig maak as die lastering van sy Naam nie. Dit sien
ons uit die feit dat Hy beveel het om dit met die dood te straf (antw. 100; vgl.
Lev. 5:1; 24:16).
Hieruit leer ons ook iets oor hoe die HK die hele
Bybel hanteer. Daar word iets afgelei oor wie God is en wat groot sonde volgens
die Bybel is, deur na die wette vir doodstraf in die ou verbond te kyk. Sommige
mense dink dat die Ou Testamentiese wette sommer doodstraf vir enigiets laat
geld het. Dit is nie waar nie. Iemand wat byvoorbeeld gesteel het, het nie die
doodstraf ontvang nie. Die hand is selfs nie afgekap soos in sekere ander
godsdienste nie. Nee, die aard van die straf het by die aard van die oortreding
gepas (lex talionis: oog vir oog en tand vir tand). Daarom moes iemand wat
steel eerder met rente vergoed (Ex.22:1-15; Luk. 19:8). Net oor sekere sake het
die doodstraf wel gegeld soos byvoorbeeld moord, owerspel, verkragting, ontvoering
om iemand as slaaf te verkoop (Ex. 21:12,14,16; Lev.20:10; Deut. 22:25). Ook
die laster van die lewende God se Naam tel hieronder. Hieruit lui die HK dan af
dat dit duidelik iets is waaroor God so vertoorn is dat Hy die doodstraf
daarvoor bepaal het. God het nie verander nie en ons moet besef dat sy Naam nog
altyd en steeds heilig is.
Besprekingsvraag: Kan ons neutraal oor God se Naam wees in die
openbare arena?
Insig: Die derde gebod maak ons bewus van watter geweldige
voorreg en seën dit is om die Naam van die Lewende God te mag ken en te weet
dat sy Naam oor jou lewe uitgeroep is. So lees ons byvoorbeeld in Num 6:27 oor
die priesterlike seën: “So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê;
en Ék sal hulle seën.” (Num. 6:27). Die Psalmis bid byvoorbeeld ook: “O God,
verlos my deur u NAAM...” (Ps.54:3). En
daar is daar ook die roemryke Spreuke 18:10: “Die Naam van die Here is 'n sterk
toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” God se Naam gaan oor sy
wese, wie Hy is. Ons besef iets daarvan reeds wanneer ons vir ons eie naam of
die van ’n geliefde opkom. Die lewende God se Naam is bo alle name
(Ps.96:8). Daar is geweldige krag daarin om in sy Naam en om sy Naam ontwil te bid (Ps. 23:3; 25:11; 106:8).
Die ydellike gebruik van God se Naam gaan daaroor dat ons ligtelik met hierdie Naam omgaan. Ons kan dit blatant doen deur die Naam te laster, of te maklik opneem wanneer ons verbaas of ontsteld is. Dit kan ook goedkeurend gebeur in films, novelles, en sekere soorte godsdienstige grappe. Wees eerlik: Sal jy jou geliefde se naam sommer in enige denkbeeldige grap gebruik waarin hulle ligtelik bygetrek word? Aalders het dit treffend gestel: Waar God se Naam gebruik word sonder om sy teenwoordigheid van harte te begeer of te verlang, daar word God se Naam ydellik gebruik.
Die
ligtelike gebruik van God se Naam in elke tweede sin moet ook mooi oorweeg word
wanneer ons praat of bid. Ons kan ook ligtelik met die Here se Naam omgaan in die
Kerk - op die kansel, in ons gebede en in ons sang, wanneer dit gedagteloos
gebruik word. Daar is ongelukkig iets soos oratoriese lippewerk waarin die hart
nie met oortuiging klop nie (Veldkamp).
Daar is ook die heerlike en regte
gebruik van sy Naam waartoe ons opgeroep word. Ons kan maklik verkeerd praat
wanneer ons moet stilbly, maar ook stilbly wanneer ons moet praat. Die Here
Jesus het die teenoorgesteld gedoen. En Hy het God se Naam en sy eie verbondenheid aan Hom bely toe Hy prontuit
gevra is of Hy die Seun van God is. Hy is oorgelewer om gekruisig te word vir
godslastering (Mark. 14:60-64). Maar dit was nie. Hy het wel God se Naam reg
gebruik en versoening gedoen, ook vir ons verkeerde en ligtelike gebruik van sy
Naam. Nou kan ons die Naam van die Here aanroep en die Here Jesus voor mense
bely (Luk. 12:8-9; Joel 2:32; Hand. 2:21; Rom. 10:13). En so sal Hy eendag Hom
vir ons ook nie skaam nie. Die regte belydenis van God se Naam is so
noodsaaklik in ’n wêreld wat reken dat pluralisme (kodewoord vir veelgodedom/politeïsme)
die wagwoord geword het. Die bring ons by die hele vraagstuk van die vraagstuk
van neutraliteit. Kan ons in God se wêreld neutraal staan teenoor sy Naam op
sekere terreine?
Die derde gebod maak ons
bewus dat die regte gebruik van ons Here se Naam ook vereis dat ons nie sy Naam sal
verswyg nie. Die nalaat van sy Naam kom neer op ’n gebrek aan liefde vir Hom en
besef dat Hy Here is oor alles. Ons word dikwels opgeroep om in die openbare
sfeer neutraal te bly ter wille van menseverhoudinge of om nie sake op mense af
te forseer en sodoende aan fundamentalisme skuldig te raak nie. Forseer loop
egter twee kante toe en dit kan ook beteken om gelowiges te forseer om stil te bly,
wanneer hulle moet praat. In so ’n omgewing moet daar gewys word op die mite
van neutraliteit. Niemand is neutraal nie en dikwels word daar bewus of onbewus
standpunt ingeneem vir ’n veelgodedom. Elke samelewing se wette word afgedwing
en impliseer een of ander god in die sentrum daarvan. Fundamentalisme wat mense dwing tot sekere
optrede, ook om te aanbid, is verkeerd, maar let daarop dat elke openbare orde
fundamenteel is oor sekere sake en sekere soort moraliteit sal afdwing deur
strawwe as dit nodig is. Ook die wet dat jy moet stilbly oor jou God in die
openbare sfeer.
Christene wat egter oortuig
is dat Jesus Christus op die troon is waar Hy die Naam bo alle name ontvang het
(Fil. 2:9-10), besef dat dit implikasies het, ook vir keisers, konings en die regters van die
aarde. Daarom kan ons nêrens stilbly oor die kroonregte van Jesus Christus nie
(Ps. 2; vgl. Daniel). Die Eerste Christene het hulle lewens verloor omdat hulle
getuig het dat Jesus die Here is en nie die Keiser nie. Daarom bely NGB 36 ook
die ideaal van ’n Christelike owerheid wat die afgodery behoort uit te roei en
per implikasie God se Naam in die openbare lewe, ook in die grondwet, wil laat
geld. Dit sal in elk geval groter barmhartigheid in die samelewing beteken
aangesien die barmhartigheid van die goddelose swakker en selfs wreed is in
hulle alternatiewe ordes (vgl. Deut. 4:7-8; Spr.12:10).
Daarom was dit hartseer toe
Christelike leuses van instellings se konkrete embleme en mure verdwyn en
sogenaamd net in die innerlike van die hart gesetel moes wees. So het
heldhaftige instellings geval en so hoor ons steeds dat daar neutraliteit moet
wees in die skool, in die politiek, in die media in die wette, in die wetenskapsbeoefening.
Neutraliteit is egter nie net ’n mite nie, maar maak ook ruimte vir die
volgende staatsgod/gode/duiwels om die troon te bestyg. Dit is die taak van gelowiges
om nie dwingend te wees nie, maar wel die lewende God oral en vir elke
terrein te bely. Daarsonder sit daar reeds ’n ander god/gode op die troon met
alternatiewe belydenisse, voorveronderstellings en kondisionering.
Werke geraadpleeg:
P.J de
Bruyn, Jou enigste troos: Die Heidelbergse Kategismus vir die hedendaagse mens.
H.
Veldkamp, Zondagskinderen.
K.L.
DeYoung, The Good News We
Almost Forgot.
PS: Steve Shirley gee ’n handige lys van sake
wat in die Ou Testament die doodstraf verdien het by https://jesusalive.cc/death-penalty-sins-old-testament/