Lees:
HK, Sondag 35; 1 Sam. 15:23; Hebr. 10:20; Kol. 1:15; 2:5
Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om Hom te aanbid soos Hy ons beveel.
Oorsig: Ons kyk hier na die tweede
gebod in die tien gebooie as deel van ons dankbaarheidslewe (HK 35). Dit gaan
in hierdie gebod daaroor dat ons God nie deur beelde uit die skepping mag
aanbid nie. Die eerste gebod leer ons dat daar net een God is. Die tweede gebod
leer ons hoe ons Hom moet aanbid. In Exodus 20:5 leer ons dat hulle wat God
deur beelde aanbid, ’n misdaad pleeg en in werklikheid vir God haat. God besoek
dit ook aan hulle kinders in hulle geslagte. Dit is nie dat God die kinders vir
hulle vaders se sondes straf nie, maar dat kinders geneig is om die
lewensgewoontes en patrone van hulle ouers aan te neem, soos hulle ouers begin
aanbid, en daardeur ook onder God se toorn kom. Die ander kant is darem ook
waar. God bewys barmhartigheid aan duisende (tot aan die duisendste geslag) van
die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou.
Die tweede gebod leer ons dat ons God op geen enkele
manier mag afbeeld om Hom so te vereer nie. Hy is eenvoudig soveel groter as
enige iets in sy skepping en beeldediens doen Hom oneer aan. Ons kan Hom net
aanbid soos wat Hy in sy Woord beveel (antw. 96). Ja, ons kan wel dinge in die skepping afbeeld.
Daar was byvoorbeeld selfs prente en beelde in die tabernakel van gerubs (Ex.
35:30-36:4). Maar ons kan en mag nie enigiets uit hierdie skepping gebruik om
deur middel daarvan God te wil vereer of dien nie (antw. 97). Op hierdie manier
erken ons dat God altyd soveel groter is as sy skepping en dat ons groot respek
daarvoor het dat die Skepper nooit aan iets in sy skepping gelykgestel kan word
nie.
Hierdie vraag het in die tyd van die opstel van die
HK ’n besondere vraag laat ontstaan oor beelde in die Kerk van destyds. Die
Bybel was net in Latyn in die Kerk en kon daarom net deur sekere mense gevolg
word. Hulle het toe allerhande afbeeldings in die Kerk toegelaat wat die
eenvoudige gelowiges kon help om iets te verstaan van boodskap van die Bybel en
die kerklike tradisie. Die HK antwoord hieroor dat dit ’n manier is wat probeer
om wyser te wees as God. Dit mis die punt dat sy Woord sentraal staan en gerig
is op ons ore in die eerste plek (vgl. Jes. 55:3). Want God wil sy Christene
(let op die woordkeuse. Dus: klein gesalfdes) nie so, deur stomme beelde laat
onderrig nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord (antw. 98).
Onderrigting deur die lewende verkondiging van die Woord in eie taal – dit is
die wyse waarop daar tot God genader word en Hy ons verander en voed.
Besprekingsvraag: Watter verband is daar tussen mense as beeld van
God en Christus?
Insig: Die tweede gebod leer ons hoe God aanbid moet word en waarsku ons daarmee saam teen dit wat in ’n wêreld van pluralisme te maklik aanvaar word - eiewillige godsdiens. Eiewillige godsdiens beteken dat jy reeds ’n valse beeld van God het en daarom reken dat jy maar jou eie kop kan volg. Die uitdrywing uit die Paradys en later die inrigting van die tabernakel en tempel, toon duidelik aan dat jy nie toegang het tot die Allerheiligste op jou eie voorwaardes het nie. Die swaard van die dood vlam en flikker vandag ook steeds vir elkeen wat nie op die nuwe en lewende weg van Christus tot die Vader nader nie (Hebr. 10:20).
Hierdie saak, wat neerkom op haat (v.5), kan so maklik in
die geslagte voortgaan. Aäron betoon homself swak teenoor Israel in die maak van
die goue kalf net na die verbondsluiting by Sinai, en later sterf twee van sy
seuns omdat hulle in die priester-amp vreemde vuur voor God bring. In die
Rigtertyd hoor ons dat elkeen doen wat goed in sy eie oë en sien hoe dit in die
daaropvolgende geslagte voortgaan en dat die verderf uitkring vanaf die priester
wat voorloop met eiewillige godsdiens (Rigt. 17-21) . Ook koning Saul moet leer
dat eiewilligheid neerkom op afgodediens en verloor sy koningskap (1 Sam.
15:23). En later maak die tien stamme van Israel wat wegskeur hulle eie goue
kalwers by Dan en Bet-El sodat die mense nie na die tempel in Jerusalem sal
gaan nie (1 Kon. 12:28-30). Ja, die sondes van die vaders word besoek aan die
kinders wat in hierdie patrone volhard. Daar is darem ook die teenkant, dit
waartoe ons in die tweede gebod opgeroep word. Dit behels twee dinge tesame en gelyktydig:
Liefde en gehoorsaamheid loop saam in ware godsdiens en kan reken op God se barmhartigheid/verbondstrou
(chesed), ook in die geslagte.
Waarom kan God oortreding van die tweede gebod selfs as
haat beskryf? (v.5). Die kort antwoord is (1) dat ons God nie wil erken vir wie
Hy is soos aan ons geopenbaar nie. Om ’n beeld van God te maak is verder (2) om
sy grootheid en transendensie te ontken. In ons dag is die New-age panteïsme
ook skuldig hieraan omdat dit Hom wil intrek in ons skepping en so die skeiding
tussen Skepper en skepsel tot niet maak deur alles te wil laat deel in die
goddelike vonk. In die heidenwêreld was die beeld verder (3) ook ’n manier om
’n houvas op hulle gode te kry. Ons kan God egter nooit probeer manipuleer nie.
Hy is vry en vrymagtig en ’n wêreld wat baie wil praat van menslike vryheid
moet dit hoor. Beeldediens werk verder (4) ook met valse bemiddeling deur
beelde. God het self die enigste weg van bemiddeling oopgemaak deur sy
tabernakel en later tempel met die voorgeskrewe offers en priesters. Hierdie
bemiddeling is in die Nuwe Testament vervul in ons enigste Middelaar, Jesus
Christus. Christus is die beeld van God (Kol. 1:15; 2:5; Joh. 10:30; 14:9).
Deur Hom word ons as beeld van God herstel deurdat ons deur sy versoening gelykvormig
mag word aan die beeld van God se Seun (Rom. 8:29). Nou kan ons weer begin peil
hoe groots dit is om na die beeld van God geskape te wees. Dit beteken dat ware
kennis, geregtigheid en heiligheid in ons begin groei, en dat die vrug van die
Gees soos liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid ‘n werklikheid word. Ons kan
dit nie namaak nie, maar Christene is deur die werk van die Gees mense van God
se vernuwende werk op aarde. Dit is reeds en steeds aan die gang as ’n
werklikheid. Daarom, laat God se Gees in jou werk. En natuurlik is dit net moontlik
wanneer ons in die ware wynstok, Jesus Christus, bly (Joh. 15:5).
Hoe gebeur dit in praktyk? Die HK protesteer teen die
pedagogie van destyds deur aanskoulike beelde. Daardeur kom die HK op vir die
groot Protestantse alternatief: Lewende, let wel, verkondiging van die Woord
van God. Die Woord is gerig op die ontvangende oor in die eerste plek, nie die beherende
oog nie. So gebeur wonderlike dinge deur die krag van die Gees: Die ryke beloftewoord
van die evangelie word kom tot ons ore, die beloftes in Christus word aan ons
toegesê, en dit lê beslag op ons deur God se Gees. En deur sy genade ontdek ons
dat die Woord ons verander. Ons ontdek dat die Woorde waar is en dat ons dit glo
en dit gee nuwe visie en inhoud aan ons lewe.
Die veronderstelling in die HK is uitdruklik hier dat die
verkondiging van God se Woord lewend sal wees, deur sy Gees en ook deur ons aanbieding
daarvan. Daarom is alle droë en skoolagtige leer, alle erediens en verkondiging
sonder siel, uit pas hiermee. Dan oortuig Protestantse fokus op die Woord
teenoor aanskoulike voorstelling eenvoudig nie meer nie. Die lewende prediking kan
’n sieraad van die erediens wees, maar vra harde werk en voorbereiding. Dit moet
bevatlik wees vir gewone mense. Abstrakte terme moet mooi verduidelik word en
daar moet gesoek word na gepaste beelde en voorbeelde en toepassings om mense
te help om te snap en te beleef dat die ewige Woord hulle omstandighede bevrydend
aanspreek. Ja, so kom die lewende Woord steeds tot ons en mag ons beleef dat die
Woord ons arresteer en omdop deur die Gees en gelykvormig maak aan die beeld
van Christus. Dit is die lewende verkondiging waardeur dit God vandag nog behaag
om groot dinge te doen.
Werke
geraadpleeg:
P.J de Bruyn, Jou
enigste troos: Die Heidelbergse Kategismus vir die hedendaagse mens.
H. Veldkamp,
Zondagskinderen.
K.L. DeYoung, The Good
News We Almost Forgot.