Lees: HK 34; Fil. 2:9-10; Jes. 45:5,
23-25
Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om niemand te aanbid nie,
behalwe Hom alleen.
Oorsig: Ons het in Sondag 33 gehoor dat goeie werke
gemeet word aan die wet van God. In Sondag 34 word ons gevra wat in die wet van
God geskrywe staan. Die antwoord word dan gegee uit Ex. 20. Die tien gebooie word hiervolgens ingedeel op
die wyse waarop Gereformeerdes dit doen en nie op die wyse wat die Rooms
Katolieke en Lutherane indeel nie (antw. 92). By Gereformeerdes is daar ’n
verdere basiese verdeling in twee dele. Die eerste vier gebooie leer ons oor
ons verhouding met die lewende God. Die laaste ses gebooie leer ons wat ons aan
ons naaste verskuldig (let wel) is (antw. 93; vgl. Mat. 22:37-40).
En dan gaan die Heidelbergse Kategismus in
hierdie Sondagsafdeling spesifiek in op die eerste gebod. Waaroor gaan dit in
die eerste gebod en wat is alles ingesluit in dit wat God in die eerste gebod
van ons vra/gebied? Die antwoord is dat dit gaan oor hoe kosbaar ons God se
redding/saligheid ag. En as sy redding dan vir my kosbaar is, dat ek dit nie in
gevaar sal stel deur enige afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping
van heiliges of ander skepsels sal (1) vermy en (2) ontvlug. Dit beteken verder
positief gestel, dat ek die enige ware God, want daar is net een (vgl. 1 Kor.
8:6), alleen moet vertrou, in alle nederigheid en geduld, van Hom alleen alles
wat goed is moet verwag, Hom met die hele hart sal liefhê, vrees en eer. Dit
moet met so ’n gesindheid wees dat ek eerder van enige skepsel sal afsien en
laat vaar, as dat ek op enige manier teen sy wil sal gaan (antw. 94).
Dit is duidelik dat dit in hierdie gebod oor
ander gode gaan en daarom is dit belangrik om te verstaan wat afgodery presies
is. Die Kategismus antwoord dan dat dit enigiets is wat jy het of versin
(uitdink) waarop jy vertrou. Dit kan iets wees waarop jy vertrou in die plek
van die lewende God wat Hom aan ons geopenbaar het in sy Woord. Dit kan egter
ook meer verfynd voorkom. Dit gebeur wanneer jy nie hierdie afgod van jou in
die plek van God stel nie, maar wel naas Hom stel sodat dit aan Hom gelykgestel
word (antw. 95). Ons is makliker geneig om op hierdie verfynde manier te
sondig. Ons wil darem nie met God wegdoen nie, maar ons bring iets anders in
die verhouding wat ons hanteer asof dit op dieselfde vlak is as die lewende
God. So beledig ons enersyds God deur Hom aan enigiets in die skepping gelyk te
stel, en andersyds te maak asof enigiets met Hom vergelyk kan word.
Besprekingsvraag: Hoe definieer die HK ’n afgod en hoe pas ons dit
vandag toe?
Insig: Goeie werke in die Christelike lewe is nie net goed nie. Dit is ook edel en lieflik en loflik (vgl. Fil. 4:8), juis omdat dit in lyn met God se wet is. Vir die gelowige is God se wet nie swaar en die HK hanteer die wet onder die afdeling van dankbaarheid. So was dit reeds bedoel by Sinai. Israel het nie die wet ontvang sodat hulle bevry kon word nie, maar omdat hulle bevry is.
Daar is verskillende funksies van die wet in die Skrif.
Gelowiges is nie meer onder die wet nie (Rom. 6:14) in die sin dat hulle nie
onder die oordeel van die van die wet is nie. Maar hulle sien ook raak dat
Christus nie gekom het om die wet te ontbind nie, maar te vervul (Mat. 5:17).
Daarom is die wet ook ná redding positief beskou as ’n instrument om ons te
help om God se wil te soek en te doen. Daar is saam met Psalm 119 ingesien dat
die wet nie net donder van Sinai af tot veroordeling nie, maar dat dit ook dou
is wat van Sinai kom om ons vryheid te rig (Veldkamp). Dit gaan oor voorskrifte
vir vryheid (Prof. Johan Cilliers).
Ons moet selfs die volgorde
van die gebooie in hul indeling waardeer. Die eerste deel handel oor God, voor
ons by ons naaste uitkom. Moraal volg op religie (Veldkamp). Die Skrif praat dikwels
in hierdie volgorde (vgl. Luk. 18:4; 2 Kor. 8:5). Dit is eintlik vanselfsprekend
dat die vertikale en horisontale mekaar altyd veronderstel. In ons dag moet die
getuienis teenoor die horisontalisme egter duidelik weerklink: Daar kan geen
horisontale fokus op die sogenaamde “ander” wees sonder die Groot Andere nie,
naamlik die Verbondsgod. Slegs in Hom bly ons ook met mekaar uitgesorteer. God
self is vir ons die verPersoonliking van die evangelie. In Wie Hy is, lê ons bevryding
en deur Hom kan ons ook hartlik met mekaar kan omgaan.
Daarom is die eerste gebod ook
die ankergebod of die wortelgebod. Dit gaan oor wie die lewende God is. Al die
ander gebooie spruit hieruit voort. Enige samelewing se wette spruit voort uit
wie as die g(G)od van daardie samelewing beskou word. Daarom kan ons ook maar
oplet, waar wette drasties verander, beteken dit bloot dat die eintlike god van
aanbidding vir die samelewing verander het. Die eerste gebod maak dit by ons vas
dat daar geen ander is nie, behalwe afgode (Jes. 45:5; 1 Kor. 8:4). En na Jesus
Christus se koms en hemelvaart kan ons nie meer anders as om van ons God te
spreek as die Drie-enige God nie (Mat. 28:19; Fil. 2:9-10; Jes. 45:23-25).
Die HK spel uit wat dit
beteken in negatiewe en dan positiewe sin. Negatief beteken dat ons al die ou
heidense praktyke van die eeue soos towery en waarsêery sal ontvlug. Dit sluit
ook bygeloof en aanroep van heiliges in. Afgode word ook sigbaar in dat waarin
ons ons toevlug neem wanneer dit swaar gaan, of dit waarsonder ons onsself nie
kan indink nie en ons baie bly of baie hartseer maak. Dit kom ook na vore in
dit waarom ons gedagtes beheers. Al hierdie dinge moet versaak word,
insluitende die eie-ek op die troon. Positief beteken dit dat ons dit sal
najaag om God te ken en te dien in die vryheid wat Hy vir ons gebring het. Die
HK praat hieroor in uitsluitlike terme wat herinner aan die huweliksband. Die
bedoeling is nie om remme aan te slaan nie, maar juis dat volheid en heerlikheid
kan gedy: Om die goeie te beleef en dat die begeertes van die hart vervul word
(Ps. 84:12; 37:4).
Ons kan hierdie gebod eintlik
net diep begin begryp as ons weet hoe niksseggend en vernietigend afgode is en
andersyds hoe heerlik en vol lafenis die Enigste ware God is (vgl. Jer. 2:13). Die
lewende God het ons liefgehad het toe ons nog vyande was, en vrygekoop om die
volheid en heerlikheid in Hom te deel. Wie Hom gesien het, kan soos Petrus vir
Christus vra: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe
(Joh. 6:68). Ja, om die Vader te ken en sy Seun Jesus Christus, is die ewige
lewe (Joh. 17:3). Selfs wanneer dinge nie vir ons sin maak nie, word ons begelei na die punt: Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U
begeer ek ook niks op die aarde nie (vgl. Ps. 73:25-28). Daarom moet ons die heerlike
uitnodiging van die eerste gebod nie mis nie: Leer ken die lewende God, die God
van die verbond, jou God. Vra Hom om Homself dieper aan jou te openbaar (vgl. Ex.
33:18 e.v.). Sodat ook jy nie van hoorsê nie, werklik kan uitroep: “HERE, HERE,
barmhartige en genadige God. Sodat jou aangesig saam met die Kerk van Christus
kan blink (vgl. Ex. 34:6-7,35; 2 Kor. 3:7,18).
Werke geraadpleeg:
P.J de
Bruyn, Jou enigste troos: Die Heidelbergse Kategismus vir die hedendaagse mens.
H.
Veldkamp, Zondagskinderen.
K.L.
DeYoung, The Good News We
Almost Forgot.