2024/04/04

Ware bekering en ware goeie werke

Lees: HK, Sondag 33; Ef. 4:20-5:11

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons elke dag weg van ons sonde en om vir Hom te lewe.

Oorsig: Ons leer in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 33 van die lewe van ware bekering by ’n gelowige. Daar word maklik van bekering gepraat, maar die Kategismus wil ons aandag vestig op ware bekering. En vanuit die Bybel is die antwoord dat daar twee basiese kenmerke van bekering is wat ons ook twee kant van die dieselfde muntstuk kan noem: Dit gaan enersyds dat ’n mens die oue mens wat regeer word deur die sonde afsterf, en andersyds dat die mens wat deur Jesus Christus bevry is, opstaan in ons lewe (antw. 88).

Dit eis egter nodig dat ons dan groter duidelikheid kry oor wat presies hierdie twee kante van die munt van ware bekering beteken. Die afsterwing van die ou mens gaan (1) daaroor dat daar ’n berou uit die hart is (hartlike berou) dat ons God deur ons sondes toornig gemaak het. Sonde maak die skepping en mense stukkend en onrein en verbreek ons verhouding met die Here, en ware berou beteken dat ons dit begin besef. Maar dit beteken nie net berou diep in ons hart nie, dit beteken ook dat ons nou die sonde sien vir wat dit is en (2) dit daarom hoe langer hoe meer begin haat, eerste in ons eie lewe. Dit beteken ook dat ons (3) in ons dade en praktyke wegvlug/ontvlug van (die gevangenskap van) die sonde (antw. 89).Die ander kant van die munt van ware bekering, die opstanding van die nuwe mens, gaan (1) oor ’n vreugde uit die hart in God deur Jesus Christus. Ons verbly ons in die Here se vrymaking en om weer sy lig en liefde intiem te ken. Dit sluit in (2) ’n lus en liefde en om volgens die wil van God te lewe. God se wil is dus nie swaar nie (vgl. 1 Joh. 5:3-4) en die lus en liefde vir God se wil is die bewys daarvan (vgl. Ps. 119). Dit word ook gelewe en gewys, nie net in sommige van ons werke nie, maar (3) in al ons werke wat dan ook goeie werke genoem word (antw. 90).   

Ons moet egter ook baie duidelikheid hê oor wat goeie werke is. Positief gestel het dit drie basiese kenmerke: (1) Dit word gedoen uit ’n ware geloof. Die diepste rede is nie eiebelang of een of ander afgod wat jou dryf nie. (2) Die maatstaf vir ’n goeie werk is verder die wet van God. Dit is die enigste standaard wat tel. (3) Die doel van die goeie werk is ook duidelik – die eer van God. Dit gaan nie om ons eer of iets anders wat ons eintlik daarmee wil bereik nie. Negatief gestel beteken dit dat ons goeie werke gegrond is in (1) ons goeddunke of (2) insettinge van mense wat dit selfs al vas in wette beskryf het nie (antw. 91).

Besprekingsvraag: Hoe sal jy ’n ware bekering beskrywe?

Insig: Ware bekering is ’n groot saak, en die ego hou nie van hierdie konfronterende kwessie nie. Boonop gaan dit dikwels saam met ’n politieke konnotasie, van toegee aan een of ander stel politieke ideale. ’n Woord soos transformasie in Suid-Afrika veronderstel dikwels ’n soort bekering. Maar ook die oorgawe aan ’n ander orde impliseer ’n soort bekering. Daarom is die bykomende beskrywing van ’n “ware” bekering in die HK so belangrik. Die Skrif leer dat ’n ware bekering ’n radikale omkeer is van jou ego, jou gode, jou leefstyl, ja ook van jou visie op die samelewing, na die lewende God toe. Dit maak oproep op jou diepste hart (Joel 2:13), maar ook op uiterlike dade (Mat. 12:43-45), en dit gaan jou hele lewe lank aan, vanaf jou kinderdae tot en met jou sterwe. Daar is ’n wortelbekering en voortgaande bekering, maar die een veronderstel altyd die ander. En ten diepste kan dit net begin as God ons voor alles bekeer het (vgl. Dt. 30:6; Kl. 5:21).

In ons voortgaande bekering is beide die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens belangrik (vgl. Jer. 1:10). Die kruisiging en die opstanding van die Here Jesus is ook die enigste ware begronding daarvan (vgl. Rom. 6:3-4;13). Alles wat God nie eer nie, die plae in my hart (1 Kon. 8:38), moet na God geneem word. Dit moet soos onkruid in die krag van die Gees ontwortel en gedood word. Ja, ek moet daagliks die ou mens uittrek en die nuwe mens in Christus aantrek (Ef. 4:22-24). Ons kan eenvoudig nie met sekere sondes aan die hand begin loop nie. Die boesemsondes waarin ons so maklik terugval, is hierin die taaiste en moet biddend en in die krag van die Here hanteer word. Ons moet in gemeenskap met ons die Here leer om alle sonde te haat en ontvlug. Vlug beteken dat ons wat reken dat ons staan, moet oppas dat ons nie val nie ( 1 Kor. 10:12; Gal. 6:1). Onthou egter: Ons oorwin in die krag van die nuwe lewe in Christus. Daarom word ons ook opgeroep om te lewe met lus en met baldadigheid vir God. Hierdie positiewe lewe het ’n uitdrywingskrag van sy eie. Weliswaar kan die nuwe lewe soms, soos in die natuur, nog net eerste klein tekens vertoon, maar gee tyd. Laat die Gees in jou werk, en gee groot treë as God jou spiere sterk maak vir die goeie werke wat Hy voorberei het (Ef. 2:10). Dit bring ons by die vraag na wat ’n goeie werk is.

Ons samelewing het gemaklik geraak met ’n tipe kultus van blote gaafheid (niceness/kindness), met ’n gepaardgaande oppervlakkige moralisme. So verwar ons basiese ordentlikheid met die heilige vuur van God wat in Christene brand (Rom. 12:2). In hierdie vuur word die dros en onsuiwerhede van deugpronkery (virtue signaling) weggebrand: Die HK gee hier drie groot maatstawwe vir ’n goeie werk: Waarom doen jy die goeie werk (motief)? Volgens watter maatstaf doen jy dit (norm)? Wat wil jy daarmee bereik (doel/telos)? Beide Kain en Abel het byvoorbeeld die goeie werk van offer aan God aangepak, maar net een is aanvaar. Die Woord en die Kategismus leer ons dat goeie werke wat vir God aanneemlik is (1) uit geloof gedoen word, (2) volgens God se wet as maatstaf, en (3) tot God se eer. Net so kan ons Hom behaag (vgl. Fil. 4:18). Heersende opinies of eie goeddunke is daarom nie aanvaarbare redes nie. En as jou gewete jou nie aankla nie, onthou: Selfs die gewete kan besoedel wees (Titus 1:15). Sommige gewetens is te ruim, ander te benoud, en ander het skynbaar geen gewete nie. Soos die horlosies in die ou dae ingestel is op die son, so moet ons gewetens gevorm word na God se Woord.

Ware bekering en ware goeie werke is daarom iets waarin ons onsself moet oefen in die krag van die Gees terwyl ons God vertrou om ons daarin voor te gaan (1 Tim. 4:7; Ef. 2:10). Dit kan alleenlik plaasvind wanneer ons ingelyf is in Christus, in sy sterwe en opstanding. Dit is daarom ook die voorreg en troos en bemoediging vir elkeen wat gedoop is. Ingelyf in sy liggaam, die Kerk, word ware bekering en vergifnis van sonde nie net verkondig en ons daartoe opgeroep nie. Dit word ook aan ons in Christus bedien en ons, mag deur Woord en sakrament vind dat bekering ons vind en met ons op weg gaan (vgl. Hand. 5:31). Laat ons dan lewe in die ware afsterwing en opstanding wat Christus gebring het. En laat ons met nuwe vuur aansluit by die kindergebede: “Ek is ’n kindjie klein, maak my hartjie rein, Amen.” “Here, bekeer my, bewaar my, om Jesus wil, Amen.” “Ek gee my gees oor in u hande, my Redder wat my trou in veilge hoede hou, Amen.”

Werke geraadpleeg:

P.J de Bruyn, Jou enigste troos: Die Heidelbergse Kategismus vir die hedendaagse mens.

H. Veldkamp, Zondagskinderen.

K.L. DeYoung, The Good News We Almost Forgot.