2024/05/22

Die Koninkryk en wedergeboorte

Lees: Joh. 3:1-17

Gedagte vir kinders: Elkeen wat in die Here Jesus Christus glo, sal nie verlore gaan nie.

Oorsig: In Johannes 3 hoor ons die eerste keer in hierdie evangelie hoe die Here Jesus sy lering uitspel. Hy doen dit teenoor ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodemus wat ’n leier (owerste) was van die Jode (v.1). Die Fariseërs was godsdienstige mense wat meer op hulle tradisies gesteld was as op die Woord van God. Hierdie Nikodemus het in die nag na Jesus gekom en gesê: “Meester (Rabbi), ons weet dat u ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.” (v.2). ’n Mens sou verwag dat die Here Jesus hom hieroor sou prys, maar Hy het geweet dat sommige mense se geloof maar baie oppervlakkig is en wat die mens  se diepste probleem was (vgl. 2:23-25).

Die Here antwoord Nikodemus toe dadelik oor die koninkryk: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (v.3) Nikodemus het nie verstaan nie en gevra hoe iemand wat oud dan weer deur die skoot van sy moeder gebore kan word (v.4). Jesus het toe geantwoord dat dit beteken dat iemand uit water en Gees gebore moet word om die koninkryk van God in te gaan (v.5; vgl. Es. 36:25-27) Hy het verder verduidelik dat net die sondige vlees uit sondige vlees gebore kan word, en dat net die Heilige Gees die geboorte deur die Gees kan bewerk (v.6). Hy het bygevoeg dat Nikodemus hom nie oor die uitspraak moet verwonder nie, en verduidelik dat dit gebeur soos die wind wat waai waar hy wil, maar dat ons nie weet vanwaar die wind kom of waarheen dit gaan nie. En tog sien ons die werking van die wind. Nikodemus het toe gevra hoe hierdie wonderlike saak in mense se lewe kan gebeur (v.7-9).         

Die Here het toe vir Nikodemus gevra waarom hy, leraar van Israel, nie hierdie dinge weet nie (v.10). As hulle sy (“ons”) getuienis oor die aardse wedergeboorte nie glo nie, hoe sou hulle die hemelse kant glo? (v.11-12). Dit behels dat niemand kan opvaar in die hemel nie, behalwe Hy, die Seun van die mens, wat uit die hemel neergedaal het (v.13). En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet Hy verhoog word sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (v. 14-15; vgl. Num. 21:4-9). Die rede is dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want die Seun is nie in die wêreld gestuur om te veroordeel nie, maar eerder om te red. (v.16-17). 

Besprekingsvraag: Hoe is die Persone van die Drie-eenheid elk betrokke by ons redding?

Insig: Ons kyk na hierdie bekende grootse gedeelte tydens Triniteit-Sondag en fokus daarom hier saam met die gang van die Teks eers op die werk van die Gees (v. 4-9), dan die Seun (v.10-15) en dan die Vader (v.16-17). Eerstens dan: Die koninkryk van God kan net vir ons ’n werklikheid word deur die werk van die Gees. Johannes koppel dit ook aan water (v.5; vgl. Joh. 1:33; 4:10, 13-14; 7:37-39). Beide Lutherane en Rooms Katolieke verbind hierdie werk van die Gees daarom ook direk aan die doop (vgl. Hand. 22:16; Tit. 3:5). Gereformeerdes erken ook die band, maar sien dit nie so direk nie (vgl. Gal. 3:26,27; Kol. 2:12, Ef. 5:26; NGB 34; HK 26-27). Uiteindelik getuig die Doop wel kragtig van die reiniging en nuwe lewe in Christus deur sy Gees wat gepaard gaan met nuwe harte (Es. 36:25-27). Die Doop getuig van en roep na die wonderbare werking van die Gees wat intiem daarmee verbind nis. Dit kan voor, tydens of na iemand se Doop gebeur, maar die water en die Gees getuig uiteindelik saam van die heerlikheid van die nuwe verbond waarin iets gebeur wat net God se Gees in ons kan doen. Dit is misterieus en ontembaar soos die wind en ons kan dit nie verklaar nie, maar ons sien die werkinge in mense se lewens. En dit bevestig dat daar radikaal iets fout is met die gevalle mens. Nie afkoms of voortreflikheid kan ons daaruit help nie. Iets van Bo is nodig wat net die Gees kan doen.

Ons kan ons egter ook so vaskyk hierteen dat ons die punt mis van die heerlike wyse waarop dit los van ons ’n werklikheid geword het. Weergebore kan ook vertaal word met van Bo gebore. As hierdie geboorte dan van Bo gebeur, moet ons vra wie is daar wat dit vir ons kan gee. Die antwoord is dat dit die Een is wat van Bo neergedaal en ook opgevaar het. En die wyse waarop dit vir ons ’n werklikheid word, is om soos die sterwende Israeliete in die woestyn weg te kyk van onsself. Daar was net een raad vir hulle sterwende toestand en dit was God se oplossing. Geen ontkenning of eie uitvindsels sou werk nie. Die wonderbare genesing hang saam met iets baie eenvoudig: Kyk na God se oplossing en elkeen wat na Hom kyk sal lewe (vgl. Num. 21:4-9). Hier is geen sprake van kragtoere of magsuitoefening nie, maar eerder van erkenning van onmag en kyk na God se antwoord. In die woestyn moes hulle kyk na die gevolg van hulle sonde, die koperslang. Nou word ons opgeroep om te kyk na die gevolg van ons sonde - die Seun van God aan die kruis, maar later ook verhoog aan die regterhand van die Vader. Kyk weg van enige eie pogings en kyk na God se oplossing deur sy Seun.

 Dit bring ons reeds by die werk van die Vader. Die hemelse dinge gebeur nie sonder die Vader nie. Dit is Hy wat sy geskape werklikheid (die wêreld) so liefgehad het, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het. Die kruis het alles met sy liefde te make. En die doel is nie die oordeel van mense nie, maar die redding. Wat kon God meer gegee het? Hy het Homself aan ons gegee in sy Seun, sy beste, sy Alles. Wie in Hom glo, het die ewige lewe en is uit God gebore ( 1 Joh. 5:1, 13). Wie hierdie gawe aan die wêreld verwerp, verwerp God en bring so die oordeel oor hulself, maar dit is nie die fokus nie. Die fokus is die Vader wat sy Seun en sy Gees aan ons gee sodat ons nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Dit beteken innige gemeenskap met die Vader, Seun en Heilige Gees. Dit beteken heerlikheid wat ons grootste verwagting oortref. Laat ons dan opsien na Hom en Hom verhoog wat gegee is vir ons sonde (vgl. Jes. 52:13; 53). En laat ons die Vader bid om sy liefde wat Hy uitstort deur sy Gees (Rom. 5:5), om dit steeds groter te maak in ons harte.

Werke geraadpleeg:

Frederick Dale Bruner, The Gospel of John.

Matthew Henry.

Francis Martin en William Wright, The Gospel of John, Catholic Commentary.