2024/06/06

De profundis: Uit die dieptes

Lees: Psalm 130

Gedagte vir kinders: Roep die HERE aan in die donkerste dieptes en wag op sy antwoorde.

Oorsig: Psalm 130 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Hierdie Psalm is deel van die sewe Boetepsalms (Ps. 6, 32,38, 51, 102, 130, 143) en is al baie gebruik om sondaars, privaat en gesamentlik, te help met woorde as hulle nederig tot God nader met hulle sonde (vgl. 1 Kon. 8:3-40). Ons hoor hier van aanroeping (v.1-2), skuldbelydenis en toevlug, (v.3-4), stille vertroue (v.5-6), en gesamentlike vetroue en lof (v.7-8).

Hierdie Psalmis is in die dieptes van chaos en dit voel of hy verdrink (vgl. Ps. 69:2,14; Jes. 51:10; Es. 27:34). Hy is in die dieptes, maar laat ons hoor wat hy haar doen waar dit voel of alles vergaan: Hy roep die HERE persoonlik aan (v.1; drievoudig tot by v.3).

Die Psalmis neem sy gebed verder en pleit dat die Here sy stem sal hoor en dat sy ore sal luister na sy smekinge (v.2). Hy is in sy lewenskrisis ook bewus van sy sonde wat in die pad staan dat die Here hom sal hoor. Dit kon dalk selfs die vernaamste oorsaak van sy krisis gewees het. Hy erken sy sonde en pleit biddend (As U, HERE ... ) dat niemand sal bestaan as die HERE werklik die sonde (ongeregtighede) in gedagtenis hou nie (v.3).  En daarom wys Hy ook op dit wat hom hoop gee. Hy stel dit eerstens teenoor die Here self dat daar by Hom vergewing is sodat Hy gevrees (aanbid) sal word (v.4). Let op: God word nie gevrees (vereer) en daarom vergewe Hy nie, maar Hy vergewe en daarom word Hy gevrees (vereer). Dit beteken dat mens in heilige eerbied en verwondering met Hom lewe wat geduldig met ons is en ons vergewe.           

Hierdie Psalmis wat die HERE drie maal persoonlik aangeroep het en dit telkens uitgebrei het, sê  nou ook drie maal dat Hy op die Here wag. Ook hier sê hy dit met sinne wat telkens uitbrei. Eers sê hy net dat hy op die Here wag. Dan brei hy daarop uit dat hy met sy diepste wese, sy siel, op die Here wag en op sy beloftes (woord) hoop (v.5). En hy brei dan verder hierop uit en stel dat sy siel op die Here wag meer as wat die wagters wat op die mure van Jerusalem wag gehou het in die nag, op die nuwe môre wag. Hy herhaal die woorde wagters op die môre om die beeld en verwagting te laat insink (v. 6). En dan roep die Psalmis die hele Israel op om saam met hom te wag op die HERE. Hy dink nie nou nie meer net aan sy eie situasie nie, maar aan alle gelowiges wat in die verbond met God lewe. Die rede waarom daar gewag kan word is om om daar by die HERE die goedertierenheid (let op die bepaalde lidwoord; chesed; verbondstrou) is, sowel as veel (menigvuldige/volkome) verlossing (v. 7; let op die rykdom hiervan. Vgl. Ef. 1:7, 2:4,7; Kol. 1:13,14). En dan voeg die Psalmis nog iets by. Die HERE self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede (v.8). Dit is treffend dat hulle nie verlos word van ’n situasie of van vyande nie, maar van hul sonde. Dit het gebeur toe die Here self sy Seun vir ons gegee het om ons te verlos van ons sonde (vgl. Mat. 1:21).              

Besprekingsvraag: Gee voorbeelde van dieptes waarin kinders van die Here kan beland.

Insig: Daar is verskillende maniere waarop ’n mens in ’n lewenskrisis of beproewing kan beland. Dit is goed dat ons nie presies weet wat dit hier was nie, sodat ons elke belewenis van chaosmagte, hier genoem die dieptes, daar waar dit voel of jy verdrink, hierop kan betrek. 

Dit is wel duidelik dat die krisis en die baie persoonlike beroep op God, hand aan hand gaan met ’n besef van sy geregtigheid en jou sonde voor Hom. Dit moet eenvoudig hanteer word, en die goeie nuus van die ou en nuwe verbond is dat die HERE die genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou wat sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie (Ex.34:6-7). Juis sy wonderbare vergifnis begelei ons tot egte Godsvrees, sidderende bewondering oor sy goedheid (Hos. 3:5) en oor dit wat Hy van ons maak. Maar let op, hierdie is ’n weg waarop jy die HERE persoonlik, dringend en met jou siel aanroep. En let op die genade daarvan: Al is jy in die diepste dieptes, dit is nie finale hel nie. Uit hierdie dieptes kan jou gebede steeds styg tot die lewende God. Mense in die dieptes moet hierdie bemoediging en aanmoediging duidelik hoor.   

Hiermee in lyn moet ons ook leer om ook dringend dog geduldig te wag op die Here se antwoord en bevestiging. Let op die grond daarvan: Die Here se Woord (v.5). Sy beloftes in sy verbond is meer seker as die wisseling van nag en dag. Daarom is die beeld van wagters op die mure wat vir die nuwe daglig wag so besonders. Elke nuwe dag getuig van God se genade en trou wat weer daar sal wees vir wie op Hom wag. Na die nag kom die môre altyd weer vir elke gelowige. Wag met volharding daarop. Dit beteken dat ons enersyds nie kits-mense sal wees nie, maar andersyds ook nie mense sonder ywerige verwagting nie. Dit is wat egte Christelike hoop ook kan doen. Dit beteken daarom dat ons vra, en bid en klop, maar andersyds ook nie probeer om dit deur halfgebakte manipulering waar te maak nie. Die goeie nuus is dat verbondsmense wat hulle self vanuit hulle dieptes op hul genadige HERE werp, mag uitkyk vir die nuwe dag van krag en genade en konkrete antwoorde wat Hy bring.

Let ook op hoe die saak uitkring. Dit is onmoontlik net die saak van een individu. Hierdie saak is uiteindelik vir die hele Israel van God (vgl. Jes. 44:5; Gal. 6:16). Almal wat met God in sy verbond in Christus lewe, het nodig om te leer wat dit is om op die Here te wag, vir tyd en ewigheid. Uiteindelik stuur dit af op iets wat selde so duidelik soos hier reeds in die Ou Testament genoem word – dat die Israel van God verlos word van al sy ongeregtighede. In Christus het dit gebeur (vgl. Mat 1:21, Tit. 2:14; Rom. 11:26). En eenmaal sal die Israel van God finaal vry wees van alle ongeregtighede op die nuwe hemel en aarde. Intussen sal daar dieptes kom, maar ons sal telkens aanroep en wag omdat Christus die diepste dal reeds deurgaan het. Hy is nie verhoor nie, sodat ons verhoor mag word. Hy het die hel in ons plek gedra sodat verbondskinders uit hul dieptes opgetrek kan word (Ps. 40:1-2).

Werke geraadpleeg:

John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.

Geoffrey Grogan, Psalms.

Walter Brueggemann, Psalms.

Tremper Longman III, Psalms.

Byassee J, Brazos, Theological Commentary.

Reardon, PH, Christ in the Psalms.

Matthew Henry.