Gedagte vir kinders: Die
Woord van die Here is soos saad wat in die grond geplant word.
Oorsig: Die Here Jesus se gelykenisse
spreek tot ons op ’n baie praktiese vlak en hier openbaar Hy aan ons hoe saad
heenwys na sy Koninkryk. In sy bediening het Hy by geleentheid aan die mense
verduidelik dat die Koninkryk van God vergelyk kan word met saad wat ’n mens in
die grond gooi (v.26). En dan, na die saaiwerk, gaan slaap iemand dan en wat
gebeur? Die saad spruit uit en word groot, stukkie vir stukkie en sonder dat
ons verstaan hoe dit gebeur. Daar is iets so vol lewe en krag in die saad self
dat dit vanself vrug voortbring. Eers is daar net die halm, maar later die aar,
en dan uiteindelik die volle koring in die aar. En dan, wanneer die vrug dit
toelaat, is dit tyd om die sekel in te steek en te oes, omdat die oes daar is
(v.27-29).
Die Here Jesus het dit ook verder aangevul met ’n bykomende
beeld. Hy het weer gevra waarmee die koninkryk van God vergelyk kan word en
watter soort gelykenis daarmee kan help (v.30). Toe het hy die beeld van ’n
mosterdsaad gebruik wat een van die kleinste bekende sade in daardie tyd was.
En tog, wanneer dit gesaai is, kom dit op en het die groter geword as die
groentesoorte. Sommige verklaarders verduidelik dat dit ’n manier gehad het om
enige stuk grond in te neem. Die Here Jesus brei dan die beeld uit en stel dit
voor asof dit groot takke maak vir die voëls (v.31-32). Dit herinner ons aan die
beeld van Es. 17:23; 31:6 en Dan. 4:9. Daar is Israel beskryf is as die skynbare
klein volkie, maar wat so uitgroei dat die voëls (nasies) by hulle tuiskom,
eerder as by die Empaaier. Nou stel die Here die mosterd-struik so voor, dat
dit takke uitstoot sodat die voëls van die hemel (nasies) onder sy skaduwee nes
kan maak. So sou die koninkryk van God uiteindelik die vervulling wees van dit
waarna Israel alreeds heengewys het.
En so het die Here Jesus ook deur ander gelykenisse die Woord
tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan (v.33). Hy het nie sonder
gelykenisse met hulle gespreek nie. Die rede is dat die tyd vir ander maniere voor
sy kruisiging en opstanding nog nie gereed was nie. Tog het Hy afsonderlik vir
sy dissipels dit alles uitgelê (v.34). En vandag is ons, die wat ore het om te
hoor, in die bevoorregte posisie om om te hoor wat Hy vir die dissipels
verduidelik, sowel as om in die res van die Bybel te hoor wat hy verder openbaar
het aan sy apostels. En tog is die gelykenisse so ryk dat ons nooit daarmee klaarkry
nie. Dit bevat beelde wat ons op ons moet laat inwerk om ’n verbeelding te
ontwikkel wat gerig is op die Koninkryk van God.
Besprekingsvraag: Hoe gee
hierdie gedeelte hoop in situasies wat verlore lyk?
Insig: Ons word hier opgeroep om diep na te dink oor die wonderbare en misterieuse krag van saad en daarmee van die Woord en die koninkryk van God. Die krag van die koninkryk is bedoel om ons lewensvisie om te dop. Wat is regtig belangrik en wat het regtig mag? As ons besef wie Jesus Christus is, en hoe kragtig die skynbare klein begin is wat in Hom op die wêreld losgebreek het en steeds voortgaan, slaan dit ons asem weg. Ja, die koringkorrel moes eers in die grond val en sterf (Joh. 12:24), maar die oes was en is ontsaglik groot. Dit oortref uiteindelik selfs Empaaiers waarby mense van die aarde dikwels rus en vrede soek in ruil vir magserkenning. In en deur die Kerk van Jesus Christus word die koninkryk van God in tyd en ruimte wêreldwyd sigbaar. Selfs diegene wat daarteen wil optree, kan nie help om dit na te boots deur skole en instellings van sorg en liefdadigheid nie. Ons word daarom geroep om visie te behou vir Kerk en Koninkryk in tye van skynbare swakheid.
Ons word ook opgeroep om moedig te
wees. Die krag van die Koninkryk breek onvermydelik deur in tyd. Uiteindelik
sal daar ’n heerlike oes wees aan die voleinding. Ons moet oefen om ons einde telkens
in verband te bring met die groot oes. Hoe heerlik sal die heiliges nie
uiteindelik skitter nie; hoe groots sal die koninkryk uiteindelik nie wees nie!
Dit sal gebeur en niemand kan dit keer nie. Daarom mag ons moed hê waar daar ook
al magte soos Kommunisme, Islam-fundamentalisme of Oosterse godsdienste heers.
Nader aan huis, ons kan ook moed hou in pluralistiese omgewings of op plekke
waar die media en opvoeding skynbaar heeltemal sekulêr geword het. Ons kan ook moed
hou oor ’n geliefde wat skynbaar ondeurdringbaar is. En die predikant of
sendeling kan moed hou oor ’n bediening wat skynbaar vrugteloos lyk. Ja, ons
kan moed hou oor onsself wat dalk so verdor en vrugteloos lyk. Die Woord het
krag en kan telkens weer deurbreek in die vreemdste omstandighede.
Maar dan moet ons ook leer om die Woord
te koester. Die skare het wel gehoor, maar let op, dit is aan die dissipels uitgelê.
Dit beteken dat ons persoonlik na die Here Jesus sal gaan en sal vra dat Hy
deur sy Woord en Gees Homself aan ons persoonlik sal openbaar, ook deur sy
misterievolle gelykenisse. En dan sy Woord in ons hart bewaar en vertrou dat
dit soos saad sy werk sal doen in ons. Dit roep ons ook op om sy Woord so te
bedien dat ons die krag daarvan nie probeer kontroleer of ryp druk nie. Soms is
daar mense wat reken dat beter tegnieke of druk die saak deurvoer. Ons moet
leer om die krag van God en sy prosesse te vertrou, nou, maar ook vir die pad
na die voleinding. Op sy tyd sal die volle oes ingesamel word. Intussen kan ons
plant en natgooi, maar onthou: Dit is God wat laat groei (vgl. 1 Kor. 3:6). Daarom
mag ons gelate sy kosbare Woord koester en versprei. Saai daarom jou saad in
die môre, en
laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal
geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie (Pr. 11:6).
Werke geraadpleeg
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year B.
Mary
Healy, The Gospel of Mark.
Ben
Witherington, The Gospel of Mark.
Michael Card, The Gospel of Passion.
Matthew Henry