2024/07/26

God se Raadsbesluite en ons vrae

Lees: Job 38:1-11

Gedagte vir kinders: Die Here leer ons deur sy wonderlike skepping om Hom te vertrou.

Oorsig: Die boek Job bestaan uit ’n inleiding en slot waar daar oor die lewe van Job vertel word. En dan vind ons drie siklusse van gesprek/dialoog oor Job se lyding. Dit bestaan uit argumente tussen Job en sy drie vriende wat soms eerder soos sy vyande klink (Elifas, Bildad en Sofar). Dan vind ons ’n laaste groot betoog deur Job en ná hom ’n jonger vriend genaamd Elifas. En dit bring ons dan by God se antwoord uit in ’n storm waarin Hy dan vir Job ondervra en leer en by Job wat daarop antwoord. In Job 38 vind ons die gedeelte waar God uiteindelik vir Job begin antwoord. Vanaf hfst. 38:1 tot 40:2 vind ons besondere sketse van sowat 20 geskape dinge wat iets van die reikwydte en kompleksiteit, misterie en skoonheid van God se skepping aantoon. In vers 1 tot 11 word vanaf vers 4 spesifiek gefokus op die aarde (v.4-7) en die see (v.8-11).

Ons lees dat God Job uit ’n storm geantwoord het (v.1). Hy het daarop gewys dat Job God se raadsbesluite tot duister maak deur sy woorde sonder kennis (v.2). En toe het die HERE Job opgeroep om sy heupe te gord soos ’n man wat gereed is vir konfrontasie, maar ook volwasse gsprek. Die HERE sou vir Job begin ondervra en Job moes die HERE dan onderrig (v.3). Die HERE het begin met die aarde en Job gevra waar hy was toe God die aarde gegrond het. Hy moes laat weet of hy daaroor insig het. Wie het byvoorbeeld die afmetings daarvan bepaal of die meetsnoer/maatband gespan. Job weet dit mos (v.5). En dan word die beeld van fondament-klippe gebruik waarop geboue ingesink en gebou word. Waar is die aarde s’n? En as ons die beeld van die hoeksteen moet gebruik waarop geboue opgerig is, wie het die hoeksteen van die aarde gelê? (v.6). Ja, dit het gebeur toe die môresterre saam gejubel het, wat heenwys na die seuns van God, die engele, wat gejuig het oor die aarde as wonderbare skeppingswerk (v.7).

Hierna word daar oorgegaan van die aarde na die see. Wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek het, toe die see soos ’n kind uit die moederskoot voortgekom het? (v.8). Ja, toe het die Here die wolk tot ’n bo-kleed/doek van die see gemaak en met donkerheid toegedraai soos ’n baba (v.9; vgl. 2020). Hy beskryf ook digterlik hoe Hy die grens vir die see uitgebreek het en grendel en deure gemaak het waardeur die see nie kan kom nie (v.10). Hy het so eintlik vir die see gesê: Tot op hierdie grens mag jy kom  en nie verder gaan nie; en hier word ’n grens gestel vir jou trotse golwe (v.11).       

Besprekingsvraag: Op watter vlak moet iemand wees om God se besluite te bevraagteken?  

Insig: Job het God se Raadsbesluit tot duisternis gemaak omdat hy nie die groot Raadsman se leiding in sy donker gehad het nie. Tot vandag toe is die sogenaamde teodisee-vraagstuk - God se geregtigheid in hierdie wêreld van lyding – ’n vraagstuk wat baie maklik meer duisternis as lig tog gevolg het as God nie ons Raadsman is nie. 

Ongelowiges het natuurlik hul eie vrae en dring soms aan tot oorgawe aan sataniese sinisme, maar ook gelowiges beland in moeilike situasies waar ook hulle vrae het oor lyding en die bose jou wil verwar. Hier is dit gelowiges wat worstel. Job het as edele in die land Us, moontlik as afstammeling van Abraham buite die lyn van Israel, nie die voorreg gehad om as deel van die verbondsvolk en met groter openbaring tot sy beskikking te werk nie. Ons het die voorreg. Ja, ons moet raaksien dat God se Openbaring aan Job vanuit die storm, deel van die Openbaring is wat ook ons tot vandag toe baat. Wat ’n voorreg om in te luister en te besef dat God ook vandag met jou praat oor dit wat in jou lewe voor Hom nie sin maak nie.

Dit is opmerklik dat God Job nie afransel en sy vrae bloot dooddruk nie. Tog gaan Hy ook nie bloot in op Job se vrae op sy eie vlak nie. Dit toon reeds aan ons dat dit nie op ons eie vlak en met ons kategorieë sal sin maak nie. Weliswaar is God ferm met Job, maar hy praat met Hom ook soos ’n volwasse man wat aangegord moet wees en neem hom en ons deur ’n wandeling deur sy skepping waarin Hy die Gids is. Dit is duidelik dat hierdie skepping allerhande inhoud het wat verbasing uitlok, wat vol geheimenisse en misterie is, wonderskoon en soms skrikwekkend, en duidelik heeltemal buite ons beheer. In ’n sekere sin verwys God spelenderwys hierna en daar is ’n sin waarin ons bloot uitgenooi word om dit in te drink en ons oë oop te maak vir die wonders en die vreemdheid. Dit beteken dat ons wegkyk van onsself na God se skepping en dit waardeer en geniet, maar ook dat ons op gepaste wyse vol ontsag daarvoor sal wees. En dan, soos Spreuke ons leer, soms afleidings te  maak uit God se skepping vir ons lewe, ook vir ons morele orde (vgl. 6:5-7; 30:24-31). Dit beteken dat ons ook die skepping sal waardeer as heenwyser na God se morele orde. God se morele orde is soos die skepping wonderskoon, skrikwekkend en ver bo ons begrip en verstand om die dieptes daarvan te peil. Deur God se uitnodiging tot sy vreemd-heerlike skepping, moet ons ook besef wat dit veronderstel as jy God se Raad en reg wil peil. Dit vereis eenvoudig iemand baie groter as kleine mensekinders om hoegenaamd op 'n vlak te kom ons net kan begin om beter insig daaroor te hê. Dan mag ons dalk beter insig in sy Raadsbesluite begin hê en ietwat beter verstaan hoe heerlik en asembenewend sy orde en geregtigheid is en waarheen Hy met sy skepping en sy kinders op pad is.

In Jesus Christus het ons wel reeds toegang tot Hom en mag ons beter begin verstaan, al begryp ons nog steeds ten dele. Ja, dit maak nog steeds vir ons moeilik sin dat die regverdige soms soveel onreg moet lei, totdat ons Hom, die Regverdige, sien wat gewillig onreg gely het vir ons. Sodat ons in ons donkerste ure mag weet dat God ons nooit sal verlaat nie. En dat daar altyd weer lewe uit die dood sal wees, geborg deur die opstanding van die Seun van God. God maak van alle lyding sin deur sy Seun se oorwinning oor die dood vir ons, en sal alles vir sy kinders ten goede laat meewerk. En nou mag ons, hoe langer hoe meer, aan die Christus wat meer as Job onregverdig gely het, gelyk word. Deel daarvan is dat ons ook hoe langer hoe meer die geheimenisse van God se skepping ondersoek om so iets meer te waardeer van wie God is en hoe Hy is. Dit is “’n mooi boek waarin alle skepsele, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God duidelik laat sien, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid.” (NGB 2).

Vir Job was dit sekerlik die grootste troos dat God bemoeienis met hom maak en met hom praat. En Job, die gelowige, herroep sy ondeurdagte woorde en krete voor God  en het berou daaroor. Hy slaan sy hand op sy mond. Sy bekering tot God verdiep. Job leer om nie van hoorsê oor God en met God te praat nie. Dit insiggewende is dat Hy dit leer deur God se Woord en God se skepping - Algemene Openbaring en Besondere Openbaring. Ons moet leer om weg te kyk van onsself vir Jesus Christus se verlossing, maar ons moet ook leer om weg te kyk van onsself na God se skepping. In die proses moet ons leer om dit te waardeer en te geniet vir al die misterie en verwondering daaraan verbonde wat soveel groter as ons eie klein wêreldjie is. Ons moet ook leer om God te vertrou wat in Christus vir ons alles ten goede laat meewerk, ook as sekere dinge swaar is om te aanvaar of te verstaan in ’n gebroke wêreld (vgl. Rom. 8:28). Hierdie God laat alles afstuur op ’n einde wat baie heerliker is as Job se einde. Kinders van God se grootste verwagting sal oortref word en God sal uiteindelik soos aan Job, aan al sy kinders goed doen, ver bo wat hulle bid of dink (vgl. Deut. 8:16; Ef. 3:20-21). Hy sal die trane afdroog en ewige vreugde sal op hulle hoofde wees (Jes. 35:10).

Werke geraadpleeg:

John Bergsma, The Word of the Lord, Year B.

Anderson, F.I. Job. Tyndale Old Testament Commentaries (TOTC). (Anderson het besondere gedagtes by hoofstuk 38)

Longman, T. Job. Baker Commentary on the Old Testament Wisdom and Psalms.

Walton, J.H. Job. NIV Application Commentary