Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om die Heilige Gees in ons te
laat werk.
Oorsig: Die apostel Paulus is besig om die Galasiërs te
praat oor ware vryheid deur Jesus Christus. Hulle moet hierdie vryheid nie so
uitlewe dat dit daarop uitloop dat hulle die sondige lewe van die vlees uitlewe
en mekaar dan byt en opeet (verslind) nie (v.13-15). Dan spel hy uit wat dit
beteken vir Christene: Wandel deur die Heilige Gees se krag; dan sal julle
nooit die begeertes van die sondige mens (vlees: sarks) deurvoer (volbring) nie (v.16). Die apostel verduidelik dan dat
hulle as nuwe mense in Christus nou in ’n stryd gewikkel is waar die sondige
mens (vlees) begeertes het wat teenoor die werk van die Heilige Gees in hulle staan,
en die Heilige Gees werk weer goeie begeertes wat teenoor die sondige mens se werke
staan. Hierdie begeertes staan teenoor mekaar sodat hulle nie maar kan doen wat
ook al by hulle opkom nie (v.17).
Die apostel gaan dan
voort om die werke (meervoud) van die vlees uit te spel en op te stel teenoor
die vrug (enkelvoud) van die Gees. Die lys van vleeslike werke is nie volledig
nie, maar voorbeelde van “dergelike dinge” (v.21). Ons kan dit hier indeel in seksuele
sondes (sewende gebod: owerspel hoerery, onreinheid, ongebondenheid), heidense
afgodery en bygeloof (eerste gebod:
afgodery en towery), relasionele sondes (onderlinge verhoudinge, d.w.s. tweede
tafel van die wet: vyandskap, twis, jaloersheid toornigheid, naywer, tweedrag,
partyskap, afguns, moord), en ongebonde oorgawe aan die liggaam (dronkenskap,
brassery). Die wat sulke dinge doen sal die koninkryk van God nie beërwe nie
(v.19-21).
Hierteenoor stel die
apostel die negevoudige vrug van die Gees. Ons kan dit breedweg indeel in drie ankerdeugde
wat in God gegrond is (liefde, blydskap, vrede), drie deugde wat veral met ons naaste te doen het
(lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid), en drie deugde wat veral met ons
persoonlike verantwoordelikheid te make het (getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing
(v.22). Vgl. laasgenoemde met die laaste werke van die vlees. Hierdie vrug is
nie teen die wet nie (v. 23) en daarom kan ons daaraan lug en oorgawe gee in
ons lewe. Die apostel versterk hulle dan deur daarop te wys dat dit moontlik is
omdat hulle aan Christus behoort en daarom deur Hom die vlees en sy hartstogte
gekruisig het (v.24). Deur Jesus Christus se kruisiging het hulle deel gekry aan
hierdie gekruisigde lewe. Daarom kan hulle dit nou deur die geloof ken dat sy
Gees in hulle werk (vgl. Gal. 3:1,5). So moet hulle dit nou ook in die geloof steeds
laat geld en daarom deur die Gees wandel (v.25). Daarom kan hulle nie soekers
wees van ydele eer wat uit die eie-ek opkom en vanuit daardie punt mekaar
uittart en mekaar beny (v.26) nie.
Besprekingsvraag: Kan ons die sondes van die ou mens in ons ooit
te bowe kom?
Insig: Die Christen is in hierdie lewe onvermydelik in ’n stryd betrokke. Dit geld op elke lewensterrein en elke ouderdom – ouer, tiener, laerskoolkind, getroud, enkellopend, bestuursposisie, teeskinker of posbode. Die Christen beleef daagliks twee soorte verskillende begeertes wat op hom of haar appel maak: Die werkinge van die Heilige Gees teenoor die begeertes van die sondige natuur. Die vlees (sarks) moenie hier verwar word met die blote liggaamlike en materiële nie, maar beteken eerder die sondige ou mens na die sondeval. Die vuil prent hiervan in sy werkinge word hier teenoor die heerlike kenmerke van die nuwe lewe opgestel. Vergelyk en sien die verskil van die lelike teenoor die lieflike. Laat die groter prent diep op jou inwerk. Daarna kan ons op onderdele dieper ingaan.
Seksuele sonde (porneia is hier omvattend
bedoel in al sy uitinge), manipulasie van die bonatuurlike op verdagte maniere,
sieklike verhoudings met ander mense en groepe, en gebrek aan persoonlike
dissipline is steeds groot werklikhede. Familie- en kerktwiste is voluit
ingesluit en hoor die waarskuwing: Diegene wat in hierdie dinge lewe sal die
koninkryk van God nie sien nie. Kyk egter hierteenoor na die lieflikheid van
die vrug van die Gees. Dit begin soos ons kan verwag, met liefde. Dit is
gegrond in wat God vir ons deur sy Seun gedoen het (vgl. Rom. 5:5) en het
blydskap en vrede tot gevolg en spoel oor na ons optrede teenoor ons naaste en kenmerkende
optrede in ons persoonlike lewe. Let op: Hierdie vrug herinner ons aan Jesus
Christus self. En ons mag gelykvormig word aan sy beeld deur die Heilige Gees
wat dit ons werk (Rom. 8:29).
Dit bring ons by die oop geheim van so ’n onmoontlike lewe. By mense is dit
onmoontlik, maar nie by God nie, want Hy het aan ons sy Seun en sy Gees gegee.
Hierdie werking begin nie omdat ons iewers op standaard gekom het nie. Die Gees
begin in ons werk wanneer ons glo in Christus wat die standaard in ons plek kom
handhaaf het. Sy versoening en opstanding en hemelvaart was as die oorsaak dat
die Gees uitgestort kon word. Deur die eenvoud van geloof in Christus mag ons
die heerlike werk van die Gees in ons lewe ken (vgl. Gal. 3:2,5). Elkeen wat
aan Christus behoort, deel in die voorreg om die nuwe lewe deur die Gees te
ken. En nou word ons opgeroep om daarin te lewe. Dit beteken dat die werk van
die Gees kragtiger in jou lewe is as die begeertes van die afvallige mens
(vlees), al voel dit dalk nie so op ’n gegewe tydstip nie (vgl. v. 17). En tog,
God het ons toegerus deur sy Seun se versoening en deur sy Gees se werking, teen
beide die sondeskuld en die sondemag (vgl. v.16).
Daarom moet ons ook naas die oop geheim die oproep hier hoor: Wandel deur
die Gees (v. 16, 25). Wat beteken dit? Dit beteken dat ons besef dat om aan Christus
te behoort, implikasies het en dat ons ons voortdurend daaraan oorgee. Dit
beteken dat jy sal hoor dat jy saam met Christus gekruisig is. Hierdie
verkeerde vleeslike begeertes kon net op een manier oorwin word – deur te
sterf. Dit het Christus vir ons gedoen. Deur ons vereniging met Hom deur die
geloof beteken dit dat ons ook nou gekruisig is vir die ou lewe (vgl. Gal.
2:20; 6:14). Dit word reeds by die doop aan ons toegesê. Ons is vry deur Hom,
vry van die veroordeling van die wet, om vir Hom te lewe. Dit beteken wel ook
dat die wie dit te glo, ook die implikasies van die gekruisigde lewe aanvaar.
Daarom is daar die bewustelike daaglikse keuse om ons nie te laat lei deur die
begeertes van die vlees nie, maar wel deur die beheersing van die Gees. Dit is
wat dit beteken om te wandel deur die Gees. Elke gelowige moet leer om dit proefondervindelik
te leer ken in hul eie omstandighede. Jy ontwikkel ’n aanvoeling vir die Gees
se leiding en jy maak gebruik van die genademiddele om jou onder die invloed en
beheersing van die Gees te hou. In gemeenskap
met God in Christus groei die nuwe lewe en kan ons die begeertes van die ou
mens oorwin.
En as ons val? Dan staan ons op, bely ons sonde en neem ons toevlug opnuut
tot Christus en die Gees. Dit kom soms deur diepe pyn en beproewing heen dat
ons leer om dieper hierin te wandel, maar dit mag deur sy genade wel gebeur. Onthou
ook die wonderlike belofte van die Skrif oor die Heilige Gees vir die wat om Hom
bid (Luk. 11:13). Hierdie oorwinning word ’n werklikheid deurdat ons aan twee
dinge gelyktydig vashou: (1) Die oorwinning lê nie in ons eie krag nie en kan
net deur Jesus Christus en die Gees in ons ’n moontlikheid word. (2) Die
oorwinning sluit ook nie ons verantwoordelikheid uit nie. Dit is ons wat moet
stryd voer teen ons sondige ou mens in die krag van die Gees op grond van Christus se versoening.
Ons moet bewustelik ons self oopstel vir die werking van die Gees, van die
genademiddele gebruik maak, en voortdurend nee sê vir die begeertes van die
vlees en ja vir die Gees. En so word die lewe van Gees met die lieflike gevolge
en vrugbaarheid daarvan ons deel. So wandel ons in die ruimtes omdat die
veroordeling van die wet weg is en ons ook nie meer fokus op die minimum wat
gevra word nie, maar eerder die maksimum wat nou moontlik is omdat die Heilige
Gees ons aanvuur.
Werke geraadpleeg:
Douglas J Moo, Galatians, Baker Exegetical Commentary.
Tony Merida, Galatians, Christ Centered Exposition.
Albert Vanhoye & Peter S Williamson, Galatians: Catholic Commentary on
Sacred Scripture.
Matthew Henry
Moontlike preekskema:
1.
Die werklikheid van die
stryd.
2.
Die oop geheim van die
stryd.
3.
Die oproep in die
stryd.