2011/09/21

"'n Persoonlike verhouding met die Here" wat naar maak.

Die uitdrukking "'n persoonlike verhouding met die Here" word dikwels goedbedoeld onder Christene gebruik. Daarmee wil ons aandui dat die verbondsverhouding met God iets persoonliks is wat jou hart opeis. Christenskap is nie maar bloot 'n filosofie of gedragskode waar jou kop en jou hart en jou hande op verskillende kontinente bly en net so nou en dan vir vuisvergaderings byeen kom nie. Nee, Christenskap beteken dat jou wese in beslag geneem is en dat daar 'n wonderlike, intieme en egte verhouding tussen jou en God is. Dit is mos kindertuin kategese, sou baie reken. Of nee, wag: Dit is die enigste kategese wat nodig is. Solank kinders net dit gesnap het, net dit in hul harte geskrywe staan, is alles reg. Kategese met al die leerstellinge en doktrines en dogma kan hierdie proses maklik net belemmer. Persoonlike verhouding, persoonlike verhouding - dit is wat saak maak. So lui die postmoderne kategese, Postmodern Cats 101, 201 en 301 se handleidings.

Maar het die Heidelberg Cats (Heidelbergse Kategismus) dan geen antwoord hierop nie? Hulle het, maar blykbaar wil mense nie meer luister nie. Miskien is dit ons skuld. Ons dis dikwels die HK in rasionalistiese gewaad op en is so abstrak en eksistensieel afgewater as wat kan kom - 'n byna onvergeeflike sonde as jy toevlugsoorde soos Veldkamp, om maar een van die bekendstes te noem, op jou rak het. Dit word vertel dat Abraham Kuyper die kinders so kon boei dat hulle op die punte van hulle stoele gesit het as hy vir hulle kategese gegee het. Gebeur dit nog in ons aanbiedings van die 52 weke? Blykbaar het die vissers van sy eertydse gemeente in die week sy verklaring op die Kategismus, E Voto Dordraceno saam see toe geneem om te bestudeer.

Ek wil dit waag om myself baie bloot te stel. As jy nie die moeite wil doen om die Heidelbergse Katte se waarheid met goeie beplanning, passie en kleur oor te dra nie, of ten minste binne 'n konteks van liefde, warmte en geborgenheid nie - en hier is my kop nou op die blok - los dit liewer heeltemal uit. Laat 'n Arminianis wat die Bybel glo hulle eerder met vuur tot by die troon van genade bring as wat hulle deel word van die gevriesde uitverkiesdes.

Maar ons is nog steeds by tweede (derde, vierde) prys. Daar is die eerste prys of ten minste iets wat baie beter is. Dit is vir seker beter as baie goedbedoelde gebrabbel oor die persoonlike verhouding met die Here. Waarom so sterk hierteen standpunt inneem? Het die eerste paragraaf dan nie by die skrywer self ingesink nie? Dit het en drie hoeras daarvoor. Maar, die begrip persoonlike verhouding met die Here, is op sigself so wyd dat jy met 'n ossewa en selfs 'n paar liberale teoloë bo-op daarbinne kan draai. Die groot vraag is: Hoe spel jy jou persoonlike verhouding met die Here? Dit is die vraag wat al die verskil maak. Kom ons neem 'n voorbeeld: Richard Niebuhr het die liberale teologie se definisie van 'n persoonlike verhouding met die Here by geleentheid so beskrywe:

'n God sonder toorn,
bring mense sonder sonde
in 'n koninkryk sonder oordeel
deur die bedienige van 'n Christus sonder 'n kruis

Dit is ongelukkig hoe baie steeds vandag implisiet 'n verhouding met die Here spel as die Bybel en die HK nie meer funksioneer nie. Sonder om die algemene genade daar te ontken, gaan kyk maar net Oprah-verwante programme. En moenie dink dit gaan nie gepaard met mense wat ernsig is met vroom uitdrukkings daarby nie. Wie wil dan nou stry teen mense wat so gevoelvol hieroor is? Beslis nie die duiwel nie. Want sien, bogenoemde beskrywing is 'n pseudo-verhouding wat naar maak, wat die vrees en geregtigheid van God nie ken nie en nie sidder vir die kake van die hel nie. Beteken dit dat hier 'n pleidooi gelewer word vir die rehabilitering van helleprediking? Soos die gevierde apostel dit stel: Nee, stellig nie! In elk geval nie soos wat dit maklik bloot moralisties verstaan word nie: Wees nou 'n goeie seuntjie of dogtertjie sodat jy nie hel toe hoef te gaan nie. Stellig nie! Maar waarvan ons

nie kan wegkom as ons die Bybel as geïnspireerd en nie bloot inspirerend aanvaar nie, is dat ons daar 'n definisie leer wat protesteer teen die goedvoel spookasem wat hierbo genoem is. Bogenoemde is wel gedeeltelik waar nadat ons versoen is. Maar selfs dan is dit juis gebou op sake wat so so maklik skitter in afwesigheid as ons nie die Woord van God hoog ag nie. Dit is die klassieke teken van liberale Skrifomgang. Jy neem net dit wat jou pas en pas dit in binne jou eie sienings van hoe verhouding nou eintlik werk. Die Bybel vertel ons van God wat toorn oor sonde (vgl. Es. 12:19-20; 13:13-16; 14:7-9,13-14,19-21; Rom 1:18,32;2:5-6,12,16 ). Om die God van genade te ken moet ons bewus wees van God se definisie van sonde (Rom. 3:20; 1 Joh. 3:4) en van oordeel en van versoening deur die bloed (Joh. 16:8-11; Hebr. 9:11,22,26). Sonder sentrale waarhede van die evangelie soos toorn en oordeel en sonde en 'n versoening deur bloed kan jy nooit outentiek praat oor ander woorde soos "genade" (Jn. 1:16-18; 2 Kor. 13:5) ,"Hy veroordeel jou ook nie" (Jn. 8:11), "jy is skoon gewas" (Jes. 1:10-18; Ps. 51:4,9,12) nie. Jy kan vir seker nie outentiek praat oor wat Christus nou eintlik daar aan die kruis gedoen het nie (1 Kor. 15:3;2 Kor. 5:21). Heidelbergiaans gestel moet ons maar weer so bietjie gaan leer wat vrae en antwoorde 3-5,8-12,17-19 beteken.

Maar hierdie leer in kategese beteken slegs dat ons die brandhout pak. Dit beteken nie dat alles daarmee reeds reg is nie. Miskien is dit die probleem wat sommige aanvoel en hul toevlug dan neem tot die persoonlike verhouding woordkeuse. Met die bedoeling om die verbondsverhouding met die HERE eksistensieel te beskrywe behoort ons baie simpatiek wees. Die brandhout moet inderdaad aan die brand gesteek word. As die vuur van God kom is daar dan egte brandhout waarmee die vuur kan gloei in die koninkryk van God! Mense sal weet as ons ook eksistensieel aan die brand is. God se vuur kan nie nie baie goed weggesteek word nie. Geen HK op sigself gaan dit doen nie. Daarom moet ons God bid dat Hyself sy Woord sal lewend maak.

Dit is om hierdie rede net reg om 'n ander skynbaar persoonlike verhouding met die Here wat naar maak uit te spel - 'n verhouding wat gespel word met baie tekste en belydenisskrifte en tegniese korrektheid - baie brandhout dus, maar sonder vuur. Een van die eerste tekens van die vuur wat nie daar is nie, is natuurlik die gebrek aan warmte.

Miskien moes dit reeds aan die begin aan die orde gekom het: 'n Peroonlike verhouding met Here is nie eintlik 'n beskrywing wat in die Bybel gevind word nie. Een van die redes hiervoor moet dalk gesoek word in 'n stelling wat John Frame blykbaar by geleentheid gemaak het. Hy het gesê dat elke mens op aarde teen wil en dank alreeds in 'n persoonlike verhouding met die Here staan - versoen of onversoen. Beide groepe neem dit baie, baie persoonlik op!

Die Bybel praat wel baie oor die saak van die persoonlike verhouding  met die Here. En dan sommer ook baie meer uitgebreid - die eintlike rede waarom ons versigtig met ons eie beskrywings moet omgaan. Die Bybelse woord vir die persoonlike versoende verhouding met die lewende God is verbond. Hierdie woord dreun deur die Bybel en vertel ons uiteindelik van die nuwe verbond van God in Christus waarin Hy ons as gelowiges kom intrek het. Die tabernakel en later die tempel het hierdie tipe verhouding al in prentjies aan ons uitgebeeld, afgeskadu. Jesus Christus het dit kom vervul. Die Bybel leer van die begin af dat dit te doen het met reiniging, met 'n voorhangsel vanwee ons sonde wat van God se kant moes skeur vir onverhinderde toegang tot die Allerheiligste, met God se Gees in jou as sy nuwe tempel en sy wet wat in jou hart geskrywe staan (Jer. 31:31-33; Es. 36:25-27; 1 Kor. 6:19; Hebr.10:16). Dit is hoe God deur sy Woord ons leer hoe 'n persoonlike verhouding met die Here gespel word. Dit word oor en oor baie konkreet uitgespel. Jy spel dit met woorde soos volmaakte heiligheid, toorn en oordeel en sonde en 'n kruis. Juis daarom kan ons en moet ons ook gloeiend verder spel met woorde soos reiniging, versoening, barmhartigheid en vryspraak en vergifnis en opstanding. So kom ons agter dat God se toorn evangelie is vir diegene vir wie Hy so omgee dat Hy eerder sy Seun in ons plek gee as om ons aan sy regverdige toorn oor sonde oor te gee. Hierdie boodskap maak sommige naar en is vir ander 'n reuk van die dood tot die dood. Die wat dit wel aanvaar en as voeding neem, vind dat dit die geheim vir ware geregtighed is, dat die voeding soet word en dat hulle waarlik versadig is.

'n Persoonlik versoende verhouding met die Here moet uitgespel word. V-E-R-B-O-N-D is die maklikste en die beste manier om te begin. En as jy prentjies soek, gaan bestudeer gerus maar weer die tabernakel en die tempel. So kry ons meer waardering vir die vervulling hiervan in Jesus Christus ons Here. Die vervulling in Christus beteken dat die voorhangsel geskeur het en dat ons deur Christus nou tempels van God is. Oor so 'n persoonlike verbondsverhouding met die Here kan ons baie gesels.