Om te protesteer sit in die bloed van Protestante. Juis daarom reken sommige dat dekonstruksioniste dalk beweeg kan word om Protestante te word. Protestante behoort egter volwasse dekonstruksioniste te wees. Hulle trek nie net uitmekaar nie. Hulle betwyfel nie net die voorveronderstellings van die status quo nie. Hulle ruk nie net uit nie. Hulle plant en bou en konstrueer ook aan die hand van 'n Woordstandaard.
Protestante kan onderskei. Hulle begryp die onderskeid tussen struktuur en rigting en ook tussen strategie en taktiek. Hulle kan bevraagteken , maar ook bevestig. Hulle protesteer in die naam van reformasie en nie van revolusie nie. Protestante aanvaar Godgegewe strukture, maar nie noodwendig die windskeef rigtings nie. Protestante wys ook nie net die leegheid uit sonder om dit te vul nie.
En so kan ons aangaan sonder om om noodwendig die harte van voetsoldate te raak wat dikwels uitroep: Maar wat beteken dit prakties in die wêreld van brood, grond en loopneuse? Wel, Douglas Wilson bied aan ons 'n konkrete 21 punt voorstel oor die hoe van Protestantwees vandag. Hy noem dit die grondvlak-taktiek van Christelike weerstand. Hier is nou iets waaroor ons kan praat terwyl ons doen.