Bailie reken dat die evangelie 'n desakraliserende krag in ons midde is. Toe die voorhangsel in twee geskeur en die offers afgeskaf is in Christus, kon godsdienstigheid nooit weer dieselfde wees nie. Vir Bailie het dit op voetspoor van Girard daarmee te doen dat Christus as sondebok die skuldverplasingsmeganisme eens en vir altyd aan die kaak gestel het as niksseggend buite Hom. Ek het nie volle vrede met hul verengde siening van die betekenis van Christus se kruisdood nie, maar dit is nou nie ter sprake nie. Die vars invalshoek wat Bailie bring is dat dit die unieke roeping van Christus is om die desakralisering van godsdiens te bemiddel op so 'n wyse dat dit gepaard gaan met 'n verhoging van godsdienstige sensitiwiteit. Dit klink soos 'n kontradiksie, maar dit is juis wat dit so uniek maak! Net Christus kan dit doen dat jou offerdrang afgeskaf word terwyl jou godsdienstige sensitiwiteit verhoog. En hier kom nou Bailie se witblits opmerking: As Christenskap nie nie sy regmatige plek inneem nie, vind daar eenvoudig 'n desakralisering in die wereld plaas wat inplof in sekularisering. Desakralisering word dus verwring tot sekularisering. En as jy nog nie regop sit nie, maak gereed vir die tydbom-uitspraak: Sekularisasie sal een of ander tyd herkonstitueer in een of ander offersisteem. Gewaarborg.
Sekularisasie lyk aanvanklik na 'n algehele breuk met godsdiens, maar dit begin altyd van voor af om dieselfde patroon te herhaal. Waarom? Indien jy bekend is met mense en verder erken dat René Girard iets beethad oor jaloesie en spanning wat oplaai tot by die punt van sondebokontlading, behoort jy nie verbaas te wees nie. Bailie roep ons op om uit te kyk vir die sogenaamd algehele breuke in die geskiedenis. Uiteindelik doen die "nuwe begin" presies dieselfde as wat godsdiens nog altyd gedoen het: Die bloed vloei vir een of ander saak soos wat die nuwe weergawe van offers gebring word. Vra maar vir die Franse revolusie. En verligte sekulêre mense is te blind om te besef dat hulle nie werklik vry is van die offermotief nie.
Die enigste vraag is daarom wat in die sekularisasie-gang geoffer gaan word. Dit is die verdienste van die bydrae van René Girard dat hy hierdie siklus uitgeken en vir ons gewys het. Die swaartekrag-wet van begeerte is so duidelik voor ons oë dat ons dit maklik kan mis. Girard help ons om die waarheidsmoment in postmoderniteit te erken en dit tog op sy kop te keer. Die dogma van "die geweld van enige teorie" word omgedop om "die teorie van geweld" op die tafel te plaas. In die proses doen hy iets wat min denkers skynbaar regkry: Om, terwyl jy saam met postmoderne denkers dink, teen en anderkant hul raamwerke te dink en te werk.
Die enigste vraag is daarom wat in die sekularisasie-gang geoffer gaan word. Dit is die verdienste van die bydrae van René Girard dat hy hierdie siklus uitgeken en vir ons gewys het. Die swaartekrag-wet van begeerte is so duidelik voor ons oë dat ons dit maklik kan mis. Girard help ons om die waarheidsmoment in postmoderniteit te erken en dit tog op sy kop te keer. Die dogma van "die geweld van enige teorie" word omgedop om "die teorie van geweld" op die tafel te plaas. In die proses doen hy iets wat min denkers skynbaar regkry: Om, terwyl jy saam met postmoderne denkers dink, teen en anderkant hul raamwerke te dink en te werk.
Om dus modernistiese hermeneute van die Bybel te hoor gorrel oor Jesus wat deur die gemeente later geidealiseer is, is om in die versoeking te wees om hoogmoedig te glimlag oor die tydbom wat bokant hul koppe tik. Hulle het geen verweer teen die lading wat weer noodwendig gaan oplaai nie. Maar jy verloor skielik jou glimlag en word kwaad as jy besef dat hulle ander met hulle saamsleep. Die waan van die konsensus van die elite is bevange. Die modernistiese mite dat jy buitekant die hermeneutiese proses staan vanwaar jy nou eindelik kan ontmitologiseer op grond van die nuuste mitologiese wetenskapsnavorsing, sou werklik snaaks wees as dit nie so tragies was nie. Bailie help ons om in te sien dat die gnostiese misleides bloot saamwerk aan die nuutste latente offersisteem waaraan hulle meewerk. As Jesus nie die Christus, die Seun van die lewende God is nie, is dit die voorspelbare uitkoms. Maar nou, Chrsitus is waarlik die Redder wat gekom het om ons vry te maak, die lading op Homself geneem het, omdat net Hy dit kon doen. Laat ons dan maar gaan ontlaai, nie net met ons woorde en frustrasies nie, maar veral met ons sonde, by Hom. Hy is die Enigste een wat die sonde van die wêreld kan wegdra.