2013/06/28

Lukas en tradisie nuut gelees

Indien jy Lukas nuut wil lees en hulp nodig het, kan Gil Bailie jou dalk help. Vergun my om jou te prik met n paar gedagtes en dan oor een saak dieper te delf.

Die geboorteverhaal van Christus bevat instruksies oor hoe om Lukas te lees. Dit is eintlik alreeds 'n mini-evangelie. Die evangelie word verder so vertel dat jy dit nie net een keer kan lees nie. As jy klaar is, wil jy teruggaan omdat jy nou sekere beskrywings in 'n nuwe lig lees. En elke keer wanneer jy klaar is, gebeur die dieselfde proses van voor af! Om die evangeliebeskrywing reg te lees beteken verder nie in die eerste plek 'n literêre of filosofiese of teologiese analise nie. Lukas impliseer dat ons soos Maria te werk moet gaan: Bewaar dit in jou hart. Moenie in die slaggat van die Verligtingsrasionalisme trap nie.

Een van die verrassende dinge wat ons vinnig in Lukas begroet is hoe hierdie skrywer wat op die heidene, randfigure en vroue fokus, met die Ou Testament omgaan. Dit wemel van Ou Testamentiese verwysings in die lofsange van die mense in die geboorteverhaal. Selfs heidene en randfigure moet weet dat die wortels van die Ou Testament die konteks bied om sin te maak van wat hier gebeur. Bailie maak dan 'n insiggewende stelling: Egte vernuwing kom altyd uit die tradisie en nie vanuit 'n ander plek nie. Die implikasie is dat die verhouding Ou en Nuwe Testament vir ons die arche-tipe hiervan is.  

Kom ons fokus dieper op Bailie se woorde: Ware vernuwing kom altyd  deurdat jy op 'n dieper vlak peins oor die tradisie waaruit jy gekom het. 'n Mens sou kon argumenteer dat die arche-tipe vernuwing inderdaad aan ons leidrade verskaf van hoe ware vernuwing werk, maar dan is dit eers nodig om die gunsteling gonswoord van afvallige Bybelverklaarders te dekonstrueer.
Afvalliges reken dat die Nuwe Testament bloot die Ou Testament en daarmee die tradisie "herinterpreteer". Die vraag is egter: Herinterpreteer na die beeld van wie? Getrouheid aan die tradisie beteken dat dit nie willekeurig kan geskied nie.

Dit is nie wat Bailie of hierdie posstuk in die oog het nie. As jy hierdie evanglie in jou hart bewaar, kan jy onmoontlik uitkom by die Verligtingsarrogansie wat buite die teks wil staan en hoogmoedig afkyk. Om te stel dat Lukas 'n herinterpetasie van die skrywer of gemeente oor God is, is bloot om te demonstreer dat die modernisme dik in jou are loop. Sulke hermeneutiese meerderwaardigheid voldoen nie aan die basiese vereistes vir die Maria-manier van verstaan nie. Indien ons hiervan bekeer is, en ja, dit is inderdaad die enigste uitweg, is ons gereed om tradisie en vernuwing  na sy ware gestalte te takseer en te wys hoe die Bybel ons hierin voorgaan: Vernuwing gebeur altyd vanuit jou tradisie; nie deur te probeer om met 'n skoon lei te begin nie. Vernuwing storm nie uit die bloute op ons af nie.

Danie Goosen verduidelik hierdie saak uitvoerig vir ons eie tyd. Dit is nodig om vele cliches oor verandering en vernuwing die mond te snoer. Jy het tradisie nodig as jy vernuwing met swaartekrag wil hê. Bailie verduidelik dit aan die hand van 'n gedig van Louis Simpson wat handel oor hoe arm middelklas-mense bly as hulle snobisties na hul vadere se tradisies kyk: 

IN THE SUBURBS

There’s no way out.

You were born to waste your life.

You were born to this middleclass life

As others before you

Were born to walk in procession

To the temple, singing.


Ons dwaal, soos gewoonlik, na ten minste twee kante toe oor hierdie saak. Sommige wil vernuwe sonder enige "tradisiekettings". Dit is onmoontlik. Jy is altyd alreeds deel van 'n bepaalde tradisie en soms bloot epistemologies bewusteloos. In elk geval is tradisie meer soos 'n gids en minder soos 'n tronk of kettings, soos iemand, ek het vergeet wie, dit raak opgesom het. Uit die boks denke val gewoonlik maklik in een of ander nuwe voorspelbare tradisie-boks. Sterker gestel: Buit die boks denke is dikwels so verskriklik binne die boks van een of ander onsigbare, oppervlakkige tradisie!

Die ander afgrond is tradisionalisme. Jaroslav Pelikan het tydlose woorde geuiter oor die verskil tussen tradisie en tradisionalisme. Tradisionalisme gaan oor die dooie geloof van die lewendes. Tradisie gaan oor die lewende geloof van die dooies. Tradisionalisme wil klakkeloos herhaal. Maar daarmee toon jy eintlik dat jy nog nie gesnap het waaroor dit gaan nie. Dit is waarom ons so versigtig moet wees as ons monumente van die helde van die verlede bou. Christus het self diesulkes met die sterkste woorde moontlik vermaan toe hulle die grafte van die profete geeer het (Mt. 23:29-32). Daar is gewoonlik 'n ongelooflike selfmisleiding aan die verering van die vaders verknoop. As ek voorvaders gesê het, het ek waarskynlik vinnig 'n dawerende handeklap gekry. As ek sê vaders, was die handklap dalk anders gerig. Tien raaie wie het lankal hierdie behandeling tot by die skande van 'n kruis ontvang.

Dit is een van die redes waarom ek dink dat Hendrik Verwoerd selfs deur regses nie begryp word nie. Maar dit nou daar gelaat. Dit vra wysheid, vaardigheid en leiding van bo om die tradisie outentiek en vernuwend te interpreteer vir die hede. Een van die eerste wenke van hoe om dit te doen, is om nie bloot na jou gunsteling helde te  luister nie, maar eerder te let op wie hulle leermeesters was. So kry jy alreeds 'n beter idee van waarmee hulle besig was. Ons behoort die lyne so ver as moontlik terug te trek tot ons al die varieërende toepassings van 'n bepaalde saak onder die oë gekry het. So het jy 'n baie beter idee van watter idee en watter beginsel nou eintlik ter sprake is. As dit niks anders doen nie, bewaar dit jou daarvan om die Fariseërnuk te gou onder lede te kry. En tog is dit eintlik so eenvoudig. Maria wys ons reeds aan die begin van Lukas hoe om met die openbaring van God om te gaan. Gaan lees Lukas met jou hart.