2013/06/13

Patriotnotas (3)

Brett McCracken kan altyd hoortyd gegee word. Hy skryf hier, op sy eie Independance Day, woorde wat waardig is om die patriotnotas te haal. Dit handel oor die verband tussen plek, patriotskap en Sehnsucht. Die betekenis van Sehnsucht kan gerus by die skakel dieper bestudeer word. Vir die haastiges is dit genoeg om nou te sê dat dit gaan oor daardie soms intense hunkering en verlange na dit wat jy nie regtig in woorde kan omsit nie. Lewis het baie hiervan gemaak en gereken dat dit iets is wat die Here in ons geplaas het om intuïtief te weet dat daar meer in die lewe is as die hier en nou. McCracken sien patriotskap as iets wat meer eksistensieel as ideologies is. Dit gaan vir hom om die dankbaarheid wat jy voel vir spesifieke nuanses van kultuur, geskiedenis, landskap en mense wat deel van jou menswees geword het. Hy tref 'n onderskeid tussen patriotskap en nasionalisme. Sommige mag miskien verskil hiermee, maar die volgende is die moeite werd om te vertaal: 

Patriotskap is 'n goeie ding. Dit is die natuurlike emosionele konneksie wat ons met plek het. Ons is bedraad om te hunker na die idee van tuiswees. Dit was waarna die Israeliete gehunker het in die Sinaï-gebergte. Dit was waarna die Hobbits gehunker het (die Shire) gedurende hul Middel-Aarde avonture. Dit was wat deel uitgemaak het van C.S. Lewis se Sehnsucht:

'n Nostalgiese verlange vir die "Groen heuwels" van sy Belfast kinderjare, "die lae gesigseinder van die Castlereagh Heuwels wat ons gesien het van die vensters van die kinderkamer."
Ja, patriotskap is provinsiaal en "self-gefokus." Noodwendig so. Elkeen het 'n ander plek wat hulle "tuis" noem, 'n ander samestelling van kultuur wat hulle vertroetel. Die verskeidenheid van patriotskappe (Amerikaanse patriotskap vs. Sweedse patriotskap byvoorbeeld) hoef nie beskou te word as kompeterende patriotskappe nie. Dit moet eerder dien as die bevestiging van die rykdom en kompleksiteit van kultuur en 'n viering van die diversiteit van God se wêreld. Dit is natuurlik om te voel "my land is beter as joune!" en dit hoef nie 'n slegte ding te wees nie. As niemand hierdie trotse gevoel gehad het nie, sou die Olimpiese Spele 'n sluimersessie Disney se EPCOT sentrum baie minder interessant gewees het. As ek na 'n vreemde land reis, wil ek hê dat die mense wat ek daar ontmoet trots sal wees op hul land en kultuur. As ek na Switserland sou reis en die Switserse burgers wat ek ontmoet sou aandring dat hul sjokolades, berge en horlosies "niks besonders" was nie, sou ek baie teleurgesteld wees.
Lewis het in The Four Loves geskrywe dat gesonde patriotskap gebaseer is op 'n liefde vir tuiswees en dat dit nie in die minste aggressief is nie:

"Dit vra net om alleen gelaat te word. Dit word net militant om te beskerm wat dit liefhet. Vir enige regdenkende mens wat net 'n greintjie verbeelding het bring dit 'n goeie gesindheid jeens buitelanders. Hoe kan ek my my tuiste liefhê sonder om te besef dat ander mense, nie minder geregverdig nie, hulle tuiste liefhet? Wanneer jy eers besef dat die Franse van cafe’ complet hou net soos ons van spek en eiers - man, sterkte vir hulle en laat hulle dit hê. Die laaste ding wat ons wil doen is om oral net soos ons eie tuiste te laat wees. Ons sou nie tuis wees as dit nie anders was nie."

Daarom gaan ek op hierdie Independance Day, nie sleg voel oor my trots op Amerika nie. Ek gaan nie wegkruip van patriotskap as sou dit enigiets anders wees as 'n natuurlike en goeie ding om te voel nie. Ek sal egter versigtig wees om dit nie te verwar met nasionalisme nie. En ek sal nie vergeet dat, as Christene, ons eerste liefde die koninkryk van God moet wees nie. Dit kom voor en bo enige liefde vir my land, maak nie saak hoe suiwer en edel my liefde vir my land is nie.
Ten diepste behoort my liefde vir my tuiste met al sy nostalgiese resonanse - Gettysburg, Old Faithful, college football tailgating, Norman Rockwell, Kansas City barbecue, cherry cobbler - my hemelwaarts te rig. Dit behoort my hart te roer, maar nie te versadig nie. Dit behoort die vure van Sehnsucht te stook net soos wat die Ierse heuwels dit vir Lewis gedoen het.