2015/06/19

Bordwell oor Žižek, en dalk ook die Kerk

David Bordwell, die teoretiese filmkenner, het my nommer. Al verskil ons waarskynlik sterk oor geloofsake, wandel ek graag in die gange van sy gedagtes, natuurlik met die volle wapenrusting aan. Ek sou graag wou glo dat dit iets te make het met die grondstrukture van die algemene genade waarby Bordwell dikwels inskakel. Die aanhaling wat hier volg as reaksie op die veelsydige Marxistiese filosoof en kultuurkritikus, Slavoj Žižek, is 'n goeie voorbeeld. Dit bevestig dat enigeen wat nugter die grondslae van sy eie spesialis-gebied opsoek, moontlik iets te sê het vir hulle wat ons voorgaan in meta-analises. Dit lyk vir my of Bordwell nie net vir  Žižek iets te sê het nie, maar sommer ook vir menige kerke en teoloë wat naïef rondswem in die waters van hul erkende en onerkende meesters. Besluit maar self as jy die volgende woorde van Bordwell hoor:

"Most important, although I didn’t have Žižek in mind when I wrote the essay, he himself instantiates all the conceptual commitments and rhetorical habits I criticize. His work is a pastiche of many, widely varying intellectual sources (from Ernest Laclau to Stephen Jay Gould). He is an associationist par excellence. His use of films is purely hermeneutic, with each film playing out allegories of theoretical doctrines. And he never doubts his masters Hegel and Lacan, exemplifying the tendency I characterize this way: “The pronouncements of Lacan, Althusser, Baudrillard, et cie are often simply taken on faith” 

Kom ons haal die soliede punte stelselmatig uitmekaar vir beter besinning oor dit waarteen ons almal moet waak:
  • Daar is konsepsuele verbintenisse en retoriese gewoontes wat ons het wat dalk gekritiseer moet word. Ed De Bono het reeds lankal daarop gewys dat baie van ons verskille te make het met persepsie en nie met logika nie. Dit is op hierdie vlak wat ons so maklik by mekaar verbypraat en so maklik by ons eie konsepsuele verbintenisse verbykyk, gewoon omdat ons nie anders kan as om ook deur hulle te kyk nie.
  • Ons kan soveel intellektuele bronne hê dat ons op eklektiese wyse daarmee omgaan. Die gevolg is dat ons dit nie georden inspan nie, maar op 'n wyse waar ons onsself verskoon dat ons met die model van pastiche werk - 'n handige verweer in die wereld van eklektisisme.
  • Ons kan so verbind wees aan ons eie idees dat ons assosiasie-slawe word (is daar in Afrikaans 'n woord soos assosianis?). Met ander woorde, om die begrippe van C.S. Lewis te gebruik, ons gebruik dit wat voorhande is bloot instrumenteel om ons te herinner aan die reeds bekende, in plaas van om dit te ontvang as iets wat juis ons eie wêreld met sy assosiasies oorstyg. 
  • Ons kan films en narratiewe bloot op hermeneutiese wyse allegories begin lees om ons gunsteling temas te onderskryf en die unieke lyne van die storie met sy narratiewe genot eintlik op die agtergrond skuif.
  • Ons verbintenisse, bewus en onbewus, aan die eintlike meesters wat ons meta-narratief, kan so slaafs wees dat daar eintlik nie meer plek vir bevraagtekening deur die groot Meester is nie. Die sluit ook die groot meesters van Pomoland in. Die oomblik wanneer daar so omgegaan word met die meta-narratief en sy meesters, het ons net 'n onvermydelike nuwe weergawe van "deur die geloof alleen", met ander woorde die implisiete nuwe gesagsbron van onfeilbaarheid. 

Om by die laaste punt te begin, uiteindelik het ons almal, onontwykbaar een of ander vorm van onfeilbaarheidsbron. Die punt is dat jy epistemologies selfbewus genoeg moet wees om dit te erken en uit te ken in jou lewe en dan eerlik daarmee om te gaan. Dit is tragies wanneer kerkleiers naïef hul losstaande Bybelteksies laat rondswem in die stroom van hul eintlike meta-narratief.

Ons sou ook kon vra of die tweede punt en die laaste twee punte nie strydig met mekaar is nie: Enersyds pastiche-agtig en eklekties en andersyds denkmeesters met 'n bepaalde eenheidsvisie? Het ons nie hier met botsende belange te make nie? Die antwoord hierop is die gerieflike, dog wenslike, "nie noodwendig nie", iets wat veral genoegdoening verskaf wanneer dit aan postmodernes, van alle mense, gesê moet word. Te maklik gaan die verswygde hogere grond en subtiele eenheidsvisie van diegene wat 'n oorlog teen sekerheid voer, by ons verby. Geseënd daarom is hulle wat dekonstruksioniste dekonstrueer, want hulle sal leiers genoem word wat ons teruglei na soberheid. Die rede is dat jy met al jou baie uiteenlopende en speelse bronne, jouself nog steeds maklik kan bluf oor die onderliggende metafisika wat jou denkskemas, denkbeelde, en denkrigtings onderlê. Ons kan, en dit moet menige postmoderne dissipel duidelik hoor, ook speel-speel oor die afgrond jaag. Thomas Oden noem dit "the myopias of a particular time."  

Ons middelste punte bly oor en roep om uitbreiding. Lewis het by geleentheid van 'n familielid naby aan hom die volgende gesê: "Sy gedagtes was te aktief om 'n akkurate ontvanger te wees." Dit is helaas 'n probleem waarmee ons almal worstel. Dit is die moderne, maar ook die postmoderne kondisie/toestand/besetenheid. Ons moet eenvoudig leer om die deug van nederigheid te beoefen en die bereidheid hê om na nuwe horisonne verplaas te word, sonder om bloot die bekende te herhaal. Waarom sal ons hierdie opwindende ding nie doen nie? Die woord hoogmoed en selftevredenheid kom by my op. Ware allegorie maak moeite om by die letterlike betekenis aan te sluit en dit verder te ontsluit, het oom Thomas van Acquino ons lankal geleer. Dan is jy nederig genoeg om deur die teks self begelei te word en nie van bo-af iets daarop af te forseer nie. Ons moet ons ook in die geval van goeie stories laat begelei na die moontlike waters van rus wat langs die natuurlike lyne van die storie self loop. Natuurlik doen ons dit versigtig soos slange en op die uitkyk vir afgode, maar laat die opreg soos duiwe wees ook nie ontbreek nie. Dit is heilsaam om telkens te erken dat my eie ervaringsveld beperk is. En juis wanneer ons op hierdie wyse ons lewe aan 'n wereld  "verloor" wat groter as ons en ons persepsies is, vind ons dit in 'n voller mate terug.

Onthou egter Bordwell se kritiek op Žižek. Bordwell sou waarskynlik sê dat Žižek se probleem juis is dat hy die vorige paragraaf sou beaam, maar dan telkens weer sy lewe aan sy onbetwiste meesters, Hegel en Lacan oorgee. Hy kan uiteindelik homself nie prysgee aan 'n wereld anderkant sy bekende bakens nie. Oorgawe is onvermydelik. Jou meester sal bepaal hoe wyd jou horisonne sal strek. Kerkleiers behoort daarom eintlik baie wye horisonne, en riviere, te hê. Hulle behoort nie te skik vir tendensieuse stroompies nie.