Lees:
Jes. 42:1-9
Gedagte vir kinders: Jesus is die
Kneg van die Here wat Homself vir ons oorgegee het.
Oorsig: In Jesaja 41 hoor ons twee keer dat die profeet Jesaja uitroep:
“Kyk.” Hy beklemtoon daarmee dat afgode niks en niksseggend is (41:24;29). En
dan lees ons aan die begin van die volgende hoofstuk God se oplossing vir daarvoor
’n sondige en gebreekte wêreld: “Daar is my Kneg...” Ons hoor dat God hierdie Kneg,
(1) sy Uitverkorene noem en (2) dat sy siel in Hom ’n welbehae het en (3) dat
Hy sy Gees op Hom gelê het en (4) dat Hy die reg na die nasies sal uitbring.
(v.1). Jesaja gaan dan voort om te
beskrywe hoe hierdie Kneg dit sal doen.
Hierdie Kneg van die Here sal nie optree soos die wêreldheersers en tiranne wat skreeu of uitroep en hulle stem op die straat laat hoor nie. As iemand soos ’n geknakte riet is wat klaar nie sterk is nie, sal Hy dit nie breek nie, en as iemand soos ’n dowwe lamppit is wat op die punt is om uit te brand, sal hy dit nie uitblus nie (v.2-3). Hoe sal Hy dan optree? Hy sal met getrouheid die reg uitbring, m.a.w. God se wil bekend maak soos dit is (vgl. NAV). In terme van die beeld van die riet en die lamppit hoor ons verder dat Hyself nie dof sal brand of geknak word totdat Hy God se reg op aarde gebring het nie, m.a.w. Hy sal deurdruk tot Hy God wil gevestig het. En dit wat Hy doen sal so groot wees dat selfs die verste eindes van die aarde, die eilande soos hulle dit genoem het, dit kan verwag (v.4).
Jesaja gaan dan voort om te sê dat God, die HERE, die lewende God wat alles geskape het en wat aan mense asem en gees gee, die volgende gesê het – dat Hy hierdie Kneg geroep het en sy hand vat en bewaar en Hom gee as ’n verbond en lig aan die volk Israel sowel as aan die nasies (v.5-6). Die doel daarvan is sodat blindes se oë geopen en dat gevangenes uit die tronk gelei mag word. Hy beskrywe dit dan verder as mense wat in die gevangenis in die duisternis gesit het, nou uitgelei word (v.7). Hierna bevestig die Here weer deur die mond van Jesaja dat sy naam HERE is en dat Hy sy eer aan geen ander sal gee en spesifiek sy lof aan mensgemaakte afgode nie (v.8). Hy wys dan daarop dat Hy die Een is wat nuwe dinge kan verkondig voordat dit gebeur. Die bedoeling is dat ons daarom moet hoor wat Hy reeds vooraf oor hierdie Kneg gesê wat nog sou kom en wat hierdie wonderlike dinge sou doen waarvan Jesaja hier gepraat het.Besprekingsvraag: Hoe kan ons knegte van die Allerhoogste wees in ons
tyd?
Insig: Hierdie gedeelte is een van die
vier bekende Kneg-liedere waarvan ons in Jesaja 40-55 lees wat heenwys na die
Messias (vgl. Jes. 42:1-9; 49:1-13; 50:4-11; 52:13-53:12). Sommige wys daarop
dat die Kneg maar net Israel is, aangesien daar baie plekke is wat Israel God
se kneg genoem word in Jesaja (vgl. Jes. 41:8; 44:1-2; 45:4; 48:20). Hier is
dit egter duidelik dat van ’n besondere enkeling gepraat word wat ook vir die
volk ’n verbond is (v.6). Dit gaan oor iemand wat instaan vir Israel en wat die
getuienis van God se volk beliggaam, maar hulle ook kan verlos om te wees wat
hulle veronderstel is om te wees. Reeds in die Ou Testament is tekens daarvan in
iemand soos Koning Dawid. Soos wat Dawid ’n uitverkorene uit die volk genoem
word wat met olie gesalf is en daarmee per implikasie met die Heilige Gees (Ps.
89:20-21; 1 Sam. 16:13), lees ons hier van die groter Dawid, Dawid se Here
(Ps.110), wat die Uitverkorene is. In Jesaja 9,11 en 32 lees ons dat hierdie
Kneg die Koning is. In die Kneg-liedere hoor ons dat hierdie Koning, uitverkore
en gesalf met God se Gees (vgl. Jes. 61:1), ook dieGod se Kneg is in wie Hy ’n welbehae het wat op ’n
baie besondere manier optree om ons te verlos en God se reg te herstel en na
die nasies te bring.
Die wyse
waarop Hy dit doen is so onvergelyklik. Die groot heersers van die wêreld het
hulleself dikwels laat geld deur brute krag en deur op veral die swakkes te
trap. Ook vandag hoor ons dikwels van magnate en tiranne en onderdukkers wat mense
laat sê: Daar is eintlik nie reg en verkeerd nie; waarheid is bloot ’n magspel;
alles gaan uiteindelik net oor geld en mag. Mag is reg en bepaal wat reg is.
Die gevolg van hierdie verkeerde gevolgtrekkings is egter dat dit die
oortuiging voed dat net die sterkste oorleef. In so ’n wêreld kom die Kneg van
die Here, Jesus Christus, om te toon dat die sterkste inderdaad oorleef, maar
dit word eers duidelik wanneer ons begin sien wie selfs die dood kan oorleef.
En die wyse waarop Hy dit doen is nie om ons te vertrap nie, maar om sy lewe
vir ons oor te gee. Sy hele aardse bediening getuig daarvan, want Hy is
sagmoedig en nederig van hart (Mat. 11:29) . Hy breek nie, ook vandag, die
geknakte riet nie, en Hy blus nie dowwe lamppitte uit nie. Hy genees en herstel
eerder deurdat Hy Homself vir ons oorgee. Die armes van die wêreld en elkeen
wat voor Hom hul armoede erken, mag in Hom die genadige en genesende Verlosser
vind wat uitlei na die lig en God se reg. Hoe is dit moontlik? Want deur sy
kruisdood vestig Hy God se reg op so ’n wyse dat ons daarvan kan vry kom, maar
ook daarvoor vrykom sodat ons in sy lig kan lewe.
Ja, so word
Hy vir die wêreld gegee as ’n verbond van die nasies (v.6). In Hom het God se
verbond vanaf Israel oopgebreek na die hele wêreld. Verbond beteken dat daar ’n
wettige en noue band van liefde is waarin ons met die lewende God mag wandel. In
Hom kan die geslagte van die aarde geseën word, kan ons geseën word (Gen.12:1-3;
Gal. 3:8,14). Verbondseën word deur Hom dus ’n werklikheid oor ons lewens. Dit
beteken onder meer dat omdat God het ’n behae in sy Kneg en in sy werk (v.1), Hy ook deur ons
verbondenheid aan hierdie Kneg, ’n behae in ons het. So kan ons ook knegte van
die Allerhoogste word. Dit is die Kerk as liggaam van die Kneg by uitstek. In
sy Naam en in sy krag kan die Kerk ook dienaars wees wat sy werk bewustelik
voorsit in sy Gees. Laat ons daarom ag slaan op die wyse waarop Hy die reg na die
nasies uitbring en in die krag van sy Gees waardig die roeping optree - daar
waar Hy ons geplaas het.
Werke geraadpleeg:
Tim
Chester, Isaiah for You.
J. Alec
Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries
John N
Oswalt, NIV Application.
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Matthew
Henry.