In Spreuke 26:4-5 lees ons die bekende en skynbaar teenstrydige woorde:
“Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid
nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.
Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid,
sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.”
’n Algemeen bekende verklaring
hiervan is dat omstandighede bepaal watter vers van toepassing is. En dat ons
wysheid nodig het, onder leiding van God se Gees, om te bepaal wanneer ons met
watter soort optrede teenoor goddelose en moedswillige mense moet optree. Soms
moet jy terugpraat en soms nie. Daar is nie net een regte antwoord nie. Daarom,
as iemand wysheid nodig het, laat hom dit van God bid, en dit sal aan hom gegee
word (Jak. 1:5).
Hierdie antwoord kan ons egter maklik
laat voel of ons steeds in die lug hang. En tog dryf hierdie antwoord ons reeds
uit tot gebed, wat alreeds ’n goeie ding is. Maar ons kan darem ook meer
hieroor sê en ou bekende en betroubare verklaarders soos John Gill en Matthew
Henry het darem ook lankal meer hieroor gesê. Byvoorbeeld: As iemand grootpraat
en raas en heftig is, moenie ook so optree nie. Moenie ook roem en raas en
rumoer nie. As iemand leuens vertel of dreig of swartsmeer, moet ook nie op dieselfde
wyse optree nie, want dan word jy net soos die dwaas. Aan die ander kant, as jy
reken daar is darem nog hoop vir die domastrantheid, of as jy verdere dwaasheid
wil verhoed, of as jy ter wille van ander nie kan stilbly oor die dwaasheid
nie, of as die dwaas net wys sal wees sin sy eie oë, antwoord hom dan in so ’n
geval na sy sotheid. Soms is dit in meerdere belang dat jy nie mag stilbly nie.
Hierdie toepassings help ons om die saak van die twee verse in Spreuke al baie
meer konkreet en toepaslik aan te pak.
Daar is ook ander verklaring wat hierby aansluit. Eerstens: Antwoord ’n dwaas nie volgens die sotheid van sy egoïstiese of narsistiese of afgodiese verstaansraamwerk nie, anders word jy self ook so selfie-georiënteerd of behep met jou nietige gode wat af is. Aan die ander kant, antwoord die dwaas na sy sotheid om te wys wat die konsekwensies is van dwase denke.
Een van die bekende logiese argumente teen drogredenasies is om
die absurde gevolge aan te toon as die dwase argument konsekwent aanvaar word. Kortom
dus, antwoord die dwaas nie deur die verdagte vertrekpunte van sy verdagte
platform te aanvaar nie, anders word jy ook so as jy hierdie valse en vleeslike
voorveronderstelllings aanvaar. Antwoord die dwaas egter ook na sy sotheid deur
die wrange vrugte daarvan aan te toon.
Uiteindelik het ons steeds wysheid nodig en daarvoor moet ons bid. Maar hierdie verse help ons om te besef daar is tog basiese werkswyses wat deur die eeue gebruik is om weg te bly van sotheid: Moenie volgens die styl en vertrekpunte van die dwase antwoord nie, maar vermaan wel wanneer nodig om te wys op die afgronde wat volg op sotterny. En natuurlik, laat ons voor alles waak en om die genade bid dat ons nie self die dwaas sal wees teenoor wie ander moet getuig nie. Volgens Spreuke begin dwaasheid by iemand wat nie ontsag vir God het nie en daarom dink dat hulle verhewe is. Ons sal almal voor die regterstoel van God verskyn. En daar aan die regterkant van die Vader sal Christus Jesus wees, wat óf die wonderlikste Advokaat sal wees oor al ons dwaasheid en aantoon dat ons reeds in Hom in rehabilitasie was, óf ons ewige Regter. Wysheid begin en eindig by Hom en in Hom.