Gedagte vir
kinders: Die Kerk verkondig die Naam van die Here Jesus is en die Bose moet vlug.
Oorsig: In die vorige deel het ons
gehoor van die eerste kragtige teken wat die Here Jesus gedoen het om te wys
dat die koninkryk van God deur Hom naby die mense gekom het. Dit het juis op
die Sabbat gebeur en in die sinagoge. Dadelik toe hulle uit die sinagoge in
Kapernaum gegaan het, het hulle saam met Johannes en sy broer Jakobus, in die
huis van Simon en sy broer, Andreas gekom. (v.29). Die skoonma van Petrus (hy
was dus getroud; vgl. 1 Kor. 9:5) het siek gelê aan koors (Lukas, die dokter
noem dit ’n hewige koors; vgl. Luk. 4:38) en dadelik het hulle die Here Jesus
daarvan gesê (v.30).
Die Here het toe na haar
gegaan, haar hand geneem en haar opgerig (letterlik: opgewek) en ons lees dat
die koors haar dadelik verlaat het. Wat het sy toe gedoen? Sy het die mense
bedien (diakoneo). Toe dit aand
geword het en die son onder was (m.a.w. net na die Sabbat), het hulle na die
Here Jesus almal gebring wat (1) ongesteld was en (2) van duiwels besete was
(v.32). Daar was so ’n toeloop dat die hele stad eintlik by die deur saamgekom
het (v.33). Baie wat aan allerhande soorte siektes gely het, het Hy gesond
gemaak en baie duiwels is uitgedryf. Hy het die duiwels egter nie toegelaat om
te praat nie, omdat hulle Hom geken het (v.34).
Die volgende oggend, vroeg
in die more, toe dit nog diep in die nag was, het Hy opgestaan en uitgegaan en
na ’n eensame plek vertrek en daar gebid (v.35). Simon (Petrus) en die wat by
Hom was het Hom gevolg (gesoek), en toe hulle Hom vind vir Hom gesê: “Almal
soek U.” Die Here Jesus het egter vir hulle gesê: “Laat ons na die naburige
dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek.” Die Here Jesus het dus nie daarin
belang gestel om mense se verskillende behoeftes en nuuskierigheid te bevredig
nie. Hy het sy rede ook daarna gegee oor waarom hulle na die ander naby dorpe
moes gaan: “... want daarvoor het Ek uitgegaan.” (v.36-38). En so het die Here
deur die hele Galilea, daar in die Noorde van Israel, rondgegaan en spesifiek
in die sinagoges twee dinge gedoen as
teken van die koninkryk wat gekom het: Hy het (1) gepreek en (2) duiwels uitgedryf
(v.39). Die Here Jesus het dus nie bloot sy eie ding probeer doen nie, maar
aangesluit by die aanbidding van sy tyd waar die God van Israel vereer en sy
Woord gehoor en geleer is. En prediking het voor duiweluitdrywing en genesing
gekom.
Besprekingsvraag:
Hoe sit die Kerk
van Christus vandag nog steeds sy bediening voort?
Insig: Die bediening van die Here Jesus het dit
sigbaar kom toon dat die wêreld baie gebroke is, maar ook dat sy redding en
genesing groter is. Hy is die groot
Geneesheer wat gekom het om liggaam en siel te verlos van die magte van die
duisternis en van die Bose. Ons kan dit net begin waardeer as ons besef dat
iets drasties fout is in hierdie wêreld. Die Bybel maak dit duidelik dat die wêreld
besmet is deur die sondeval. Duiwels wat beheer oor mense kry, allerhande
siektes en kwale en gebrokenheid is bewyse van die gevalle werklikheid waarin
ons leef. Maar deur sy aardse bediening toon Jesus Christus dat Hy omvattend
red en heelmaak en dat dit eendag volmaak sal wees. Die Sabbat was teken van
die rus en vrede en herstel wat eenmaal volkome sal wees. Daarom was dit so
gepas dat bevryding op hierdie dag gestalte sou kry. Die Kerk getuig steeds
daarvan, insonderheid op die oorwinningsdag.
Ons sien ook duidelik waartoe die Kerk van Jesus bevry word. Daarvan is die skoonmoeder van Petrus so ’n wonderlik eenvoudige teken. Die oomblik toe sy genees word, begin sy om diensbaar te wees. Let op: Ons word gered en heelgemaak om diensbaar aan ander te wees. Dit het in die kern gestaan van Christus se koms na die aarde (vgl. Mk. 9:33-37; 10:42-45). Die Kerk het deur die eeue ook bekend gestaan as die instelling wat dien en wat lyding versag.
By Jesus Christus is dit egter
deel van ’n omvattende bediening waar Woordverkondiging sentraal staan. Die diensbaarheid
strek wel ook uit na die lyding van mense (vgl. Hand. 6:2-3). As liggaam van
Christus sit die Kerk hierdie benadering voort, maar bedien omvattende genesing
in Christus. Dit het daarom met Woord en sakramente te doen en sondebelydenis
en herstel. Dit het ook te doen met gebede en sorg oor gebroke werklikhede.
Dit is hier ook
duidelik waardeur die hele bediening gedra en omvou word: Diepe gemeenskap met
God self. Dit is opmerklik in Christus se bediening hoe gereeld Hy voor en groot
gebeure die stilte en gebed opgesoek. Hier, vroeg in die môre, nog diep in die
nag (vgl. Ps. 57:9; 88:14; 92:2-3; Hooglied 3:2-4). Christus se gemeenskap met
God word vernuwe in die gebed. Daarsonder is sy hele bediening ondenkbaar. Die geld
ook van sy Kerk. Gebed is die gepaste wyse waarop ons voor God verskyn en ook verhoring
mag beleef (Mat. 6:6). Dit was ook die nederige weg waarlangs die Christus kruis
toe gegaan het, ook toe niemand meer saam kon waak nie. Sodat ons in Hom nou
reeds opgerig mag word en mag dien en oorwinnend mag wees oor die magte van die
Bose. Dit stel hoë eise aan die Kerk om in die krag van haar Heer die bediening
van bevryding en omvattende genesing te bedien. In Hom en in sy krag - deur Woord
en sakramente, deur gebed en diens, is dit steeds moontlik en steeds werklik.
Werke geraadpleeg:
John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.
Mary Healy, The Gospel of Mark.
Ben Witherington, The Gospel of Mark.
Michael Card, The Gospel of Passion.