Gedagte
vir kinders: Die Here Jesus is ons Verlosser omdat Hy bereid was
om vir ons te sterf.
Oorsig: In sy
bediening op aarde het daar ʼn belangrike oomblik in die Here Jesus se bediening
aangebreek. Hulle het uitgegaan daar na die dorpe in die Noorde van Israel wat
Cesarea-Filippi genoem word. Dit was die gebied waar Filippus, die seun van
Herodes, die Keiser wou eer en ook sy naam daarby noem. Dit was ’n heidense gebied
waar die Keiser as godheid behandel is en ook waar die Griekse god, Pan, vereer
is. En juis daar, te midde van die ander godsdienste vra Hy toe vir sy
dissipels wie die mense se dat Hy is (v.1). Hulle het geantwoord dat sommige sê
Johannes die Doper en ander Elia, en ander een van die profete. En toe vra Hy
hulle persoonlik: Maar julle, wie se julle is Ek? Petrus het toe geantwoord: U
is die Christus (Gesalfde; v.28-29).
Die Here Jesus
het hulle toe streng beveel om niemand van Hom te vertel nie. Die rede is dat
mense, selfs die dissipels, nog nie begryp het wat dit beteken het dat Hy die Gesalfde
is nie. Hy het hulle toe begin leer dat die Seun van die Mens (vgl. Esegiël se
“mensekind”; Dan. 7:13) baie moet ly en verwerp word deur die godsdienstige
leiers, die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes, en gedood word en na
drie dae opstaan (v.30-31). Dit het hulle egter nie verstaan nie, maar Hy het
dit reguit vir hulle gesê. Petrus het toe die Here eenkant geneem en oor sy
woorde oor lyding begin bestraf. Maar die Here Jesus het Hom omgedraai na sy
dissipels en hulle aangekyk en Petrus bestraf en gesê: Gaan weg agter my, satan
(teenstander), want jy bedink nie die dinge van God nie, maar van die mense
(v.32-33).
Hy het toe die
skare saam met sy dissipels na Hom geroep en vir hulle uitgespel wat dit
beteken om Hom te volg. So iemand moet bereid wees om homself te verloën en
bereid wees om die kruis op te neem, wat booswigte en slawe gedoen het wanneer
hulle op pad was na hul kruisdood, die mees skandelike dood van hul tyd, en Hom
so te volg. Die Here het verduidelik dat elkeen wat sy lewe wil red, dit sal
verloor, maar dat elkeen wat sy lewe om die evangelie ontwil verloor, dit sal
red. Hy het hulle ook gevra wat dit sal help om die hele wêreld te win, maar
aan jou siel skade te ly. Want wat sal ’n mens kan gee as losprys vir sy siel?
Hy het dit toe ook verder duidelik gemaak dat elkeen wat hulle vir Hom en sy
woorde skaam in ’n ontroue (owerspelige) geslag, moet weet: die Seun van die
mens sal Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die
heilige engele (v.34-38).
Besprekingsvraag:
Op watter maniere kan ons steeds vandag soos Petrus hier wees?
Insig: Christus se vraag
hier word uiteindelik vir ons elkeen persoonlik: Maar julle, en jy, wat sê jy
van die Jesus wat onder ons kom woon het? Die plek waar Jesus dit vra, tussen
die skynbaar magtigegodsdienste, toon aan dat die vraag juis gevra kan/moet word
te midde van magtige heersende opinies. Ook vandag hoor ons steeds heelwat
antwoorde van die tydsgees, waarvan sommige baie vroom voorkom: Hy is besonders,
soos een van die profete, selfs soos Elia wat hemel in die opgeneem is (vgl.
Mal. 3:1; 4:5). As ons egter in ag neem wat Christus van Homself geopenbaar en gesê
het, bevredig “groot profeet” nie. Hy was of ’n duiwelse verleier en/of
sielsiek met ’n god-kompleks, of Hy was wel groter as enige profeet.
Petrus bely dat Hy die Christus is. Daarmee erken hy het dat Jesus die Gesalfde uit die geslag van Dawid is (vgl. Ps. 2:20; 89:38). In Markus is hierdie belydenis ’n draaipunt waarnatoe daar opgebou is. Maar van hier af word dit ook duidelik uitgespel wat dit beteken - dat dit op lyding en die kruis uitloop. Steeds word ons idees van sukses en oorwinning en prestasie saam met Petrus uitgedaag.
Dit is onblotend
om te hoor hoe Christus dieselfde een bestraf wat pas tevore so heerlik oor Hom
kon praat. Na die stem uit die hemel, gaan die Here Jesus uit woestyn toe om
die satan te weerstaan. Ook hier, nadat die belydenis oor Hom deur Petrus, weerstaan
Hy net daarna die satan se werk. En Hy gaan kruis toe, die enigste manier waarop
ons gered kon word. Let op: Die werk van die satan is hier om die dinge van
mense te bedink. Die teologie van die kruis beteken dat ons nie glorie los van die
kruisweg opsoek nie.
Die implikasies van
die kruis dui op Christus, maar ook op sy volgelinge. Ook ons idees van
glorie en heerlikheid moet ondersoek word. Het dit raad met lewe, maar ook met
sterwe? (vgl. HK 1). En wat beteken dit presies om jou kruis op te neem? Bloot
jou sorge omhels? Nee, dit beteken dat jy bereid is om jou eie doodsvonnis te teken,
uitvaagsel te wees ter wille van Christus, selfs die mees skandelike dood te
ondergaan sou dit nodig wees. Daarom beteken dit ook in kleiner dinge die
bereidheid om ter wille van Hom jou werk of besigheid te verloor. Dit beteken
die bereidheid vir selfverloëning, vir veragting, gebrek aan promosie by die
werk, en om jouself te gee vir ander.
Tog is dit ook
so wat ons juis die lewe vind. Daar is ’n groot bevryding daarin geleë om jouself
te bevind in die posisie waar jy minder omgee oor dood, vrees, lyding, pyn, en
beheptheid met jouself en jou prestasies. Generaal Maximus in die film Bravehart
het voor die oorlog reeds vir sy soldate gesê: “Julle is alreeds dood!” Dit geld
op 'n blye manier reeds vir elke gedoopte
Christen (vgl. Rom. 6:3-7). Jy is reeds dood, want Christus het die dood reeds
namens ons deurgegaan. Laat dit nou tel in jou lewe deur die krag van die Gees
en lê die ego-drama af. Want jou siel is belangriker as die hele wêreld. Daarom
het Hy ons gered om liggaam en siel aan Hom te behoort (vgl. Ps. 49:7-9).
Elkeen van ons het ’n afspraak met die dood. Daarom gaan dit eintlik net oor
die wyse waarop jy jou lewe verloor. In Christus en sy kruis, is die enigste
manier om dit sinvol te doen (vgl. Gal. 2:20).
Werke geraadpleeg:
John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.
Mary Healy, The Gospel of Mark.
Ben Witherington, The Gospel of
Mark.
Michael Card, The Gospel of Passion.