Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is ons tempel deur wie ons God
aanbid.
Oorsig: Ons lees in Johannes, anders as
in die sinoptiese evangeliebeskrywinge, drie keer van ’n Pasga in Jerusalem
(vgl. Hfst. 2,6,18-19). Dit is hoe ook hoe ons aflei dat die Here Jesus se
bediening ongeveer drie jaar lank was. Hier verneem ons van die eerste keer toe
die Here Jesus opgegaan het na Jerusalem vir die Pasga. Die mense wat ver gekom
het, kon hulle diere verkoop, met die geld reis na Jerusalem, en daar dan met
die geld diere koop wat hulle as offers kon bring (vgl. Dt. 14:24-26. Let op
die oorvloedige lewe hieroor). Ongelukkig het sommige besigheidsmense, die geldwisselaars,
die situasie ook uitgebuit om geld te maak (toerisme-strik). Boonop lyk dit of
hulle die markplek vir die diere saam met die geldwisselaars sommer verskuif
het na die tempel self, daar in die buitehof waar die heidene toegelaat is om
te kom bid (v.13-14; vgl. Mark. 11:15-17; Jes. 56:7; 2 Kr. 6:32-35).
Die Here Jesus het toe ’n sweep van toutjies gemaak
en almal uit die tempel uit gedrywe, ook die skape en die beeste. Die kleingeld
van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. Hy het toe
spesifiek vir die duiweverkopers gesê om hulle dinge daar weg te neem: “Moenie die huis van my Vader (let op) ’n
handelshuis maak nie.” (v.15-16). Sy dissipels het toe onthou dat daar geskrywe
is in Ps. 69:10: “Want die ywer vir u huis het my verteer ...” Die Jode het toe
vir Hom gevra-antwoord watter teken Hy kan toon wat Hom die reg gee om hierdie
dinge te doen? Die Here Jesus het toe geantwoord: “Breek hierdie tempel af, en
in drie dae sal Ek (let op) dit oprig.” Die Jode het toe gesê dat daar al 46
jaar aan die tempel gebou word (sedert 20 v.C. tot 64 n.C.). Hoe sou Hy dit in
drie dae regkry om dit op te rig? (v.17-20).
Die Here het egter oor die tempel van sy liggaam
gespreek. Toe Hy later opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat
Hy dit vir hulle gesê het. Voor sy opstanding was dit egter net vir hulle uitdrukking/gesegde wat hulle nie verstaan
het nie. Daarna het hulle dit beter verstaan en die Skrif geglo (vgl. Ps.
16:10-11) asook die woord wat Jesus gespreek het (v.21-22). En daar, tydens die
Pasga in Jerusalem, het baie ook alreeds in sy Naam geglo omdat hulle die tekens
gesien het wat Hy daar gedoen het. Maar die Here Jesus het Hom nie aan hulle
toevertrou nie, maar Hy het almal geken, selfs sy eie dissipels. En Hy het nie
nodig gehad dat iemand vir Hom sou getuig van wat in mense se diepste harte aangaan
nie (v.23-25).
Besprekingsvraag: Watter tempel is afgebreek en watter tempel is uiteindelik
opgerig?
Insig: Die belangrikste stad in Israel was Jerusalem, die stad van Koning Dawid, en die belangrikste plek in Jerusalem was die tempel. Politiek en godsdiens is plofbare sake. Wie by oor tempelsake moeilikheid maak, kry vinnig met geweld te doen (vgl. Hand. 19). Hierdie tweede groot tempel deur Herodes begin bou, na die eerste tempel van Salomo was boonop besonder groots, een van die wonders van die antieke wêreld. Daar is reeds 46 jaar daaraan gebou en daar sou nog 37 jare gebou word tot die pragstuk klaar was. En tog was dit net vir ses jaar voltooi gewees voor dit tot die grond verwoes is in 70 n.C. Waarom? Omdat Jerusalem die boodskap van die beloofde Messias verwerp het (Luk.19:43-44). Wat is sy boodskap?
Jesus Christus is die vervulling van dit waarvoor die
tempel staan. Ons kan ware aanbidding nie los van Christus bedink of benader
nie. Maar sy geweldige uitspraak in v. 19 bring ons by kruispad: Hy is of baie verwaand,
of Hy is die waarheid en vervulling van die tempel. Hy leer ons dat Hyself die
nuwe tempel is in wie God woon. Deur Hom kry ons voortaan versoening en toegang
tot die Allerheiligste. Hoe kan dit gebeur? Omdat Hy in wie God woon nie met
mate nie, die eksegese van God (Joh. 1:18; 3:34) afgebreek is, maar drie dae
later uit die dood opgestaan het, opgevaar het en gaan sit het aan die
regterhand van die Vader. Deur Hom het ons nou toegang tot die Vader en word
ons geseën. In 70 n.C het Hy met meer as sweep na Jerusalem gekom en die tempel
laat verwoes en die ou bedeling laat verdwyn.
En Hy het ook openbaar dat wie sy vlees eet en sy bloed
drink in die nagmaal, deel kry aan Hom en daarom self ook lewende stene word
van die tempel in Christus (1 Pt. 2:5). Telkens wanneer ons nou deur Hom tot
God nader, beteken dit ook dat ons bereid is om sy reiniging te ondergaan. Ware
aanbidding is belangrik. Wat is daar in jou lewe wat in die pad van ware
aanbidding staan? Is dit nodig dat Christus die sweep ook by ons inlê? Christus
wat die huis van sy Vader soos niemand anders begryp nie (Luk. 2:46,49),
oordeel hier oor geld en besigheid op die verkeerde plek wat in die pad staan
van die huis van gebed vir die nasies. Salomo het reeds by die inwyding van die
tempel gebid dat vreemdes wat maar net in die rigting van Jerusalem sou bid,
deur God gehoor sou word (1 Kon.
8:41-52). In sy Naam kan die nasies steeds kom. In Hom en deur sy Woord
en sakramente word ons tot lewende stene opgebou van sy geestelike huis. En sy
ywer vir ware aanbidding mag ons s’n word, al mag dit ook by ons tot vervolging
lei. Ons kan egter proefondervindelik in sy gemeenskap met die Vader ingetrek
word. Dit beteken ook heerlike gebedsverhoring in sy Naam (Joh. 16:24).
Werke
geraadpleeg:
John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.
Frederick Bruner, The Gospel of John.
Ignatius Catholic Study Bible.
Michael Card, John, the Gospel of Wisdom
Franci Martin &William Wright. Catholic Commentary on Sacred
Scripture.
Matthew Henry.