Gedagte vir kinders: Die Here Jesus wil ons harte in die eerste plek hê.
Oorsig: Tydens die Here Jesus se bediening het sy woorde
en dade bekend geword aan die godsdienstige leiers in die hoofstad van
Jerusalem. Hy het egter dikwels daar in Galilea in die noorde waar Hy
grootgeword het, bedien en daarom kon hulle nie in alles vanuit Jerusalem ’n
oog oor Hom hou nie. Op ’n stadium het hulle lede van die strengste
godsdienstige party, die Fariseërs, asook sommige Skrifgeleerdes wat die wet
ywerig saam met hoe hulle eie mondelinge tradisie daaroor, Hom kom besoek.
Hulle sien toe dat die dissipels nie water op
hulle hande gegiet het voor ete nie en daarom volgens hul rituele onrein was.
Hulle het dit afgekeur (v.2). In die Ou Testament sien ons egter dat net die
priesters onder sommige omstandighede sulke voorskrifte gehad het (Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Maar
in daardie tyd het die Fariseërs en die al die Jode nie geëet as hulle nie
deeglik hande gewas het nie, omdat hulle vasgehou het aan die gewoontes
(oorlewering/tradisie) van die ou mense (v.3). Wanneer hulle van die mark af
kom waar hulle sake gedoen het met onreine heidene, eet hulle nie as hulle nie eers
gewas het nie. So het hulle ook baie ander gewoontes gehad soos die wassery van
bekers en kanne en kopergoed en bedde (v.4).Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het
die Here toe gevra waarom sy dissipels nie maak soos die tradisie was nie, maar
met ongewaste hande geëet het (v.5).
Die Here Jesus het toe uit Jes. 29:13 aangehaal
en gesê dat dit profeteer oor hulle skynheiligheid. Jesaja het gesê dat die
volk met hulle mond en lippe die Here eer, maar dat hulle hart ver van Hom is
(v. 6). Dit is egter tevergeefs om leringe te leer wat net gebooie van mense is
(v. 7; vgl. HK antw. 91). In hulle geval het hulle die gebod van God nagelaat
om aan tradisies vas te hou. Hier was dit tradisies oor wassery van kanne en
bekers en ander dergelike dinge van dieselfde soort (v.8). Hy het dit toe
herhaal dat hulle dit goed verstaan om die gebod van God opsy te sit en so
eerder hul tradisies te onderhou (v.9). Hy gee toe ’n voorbeeld. Moses leer in
die tien gebooie om jou vader en moeder te eer (Ex. 20:12) en later selfs dat
hy wat vader of moeder vloek sekerlik moet sterwe (vgl. Ex. 21:15,17). Hulle
het egter gesê dat as jy sekere geld bedoel vir die ouers, as offer vir die tempel
belowe, jy nie iets vir vader of moeder hoef te doen nie (v.10-12). Dit kom dan
daarop neer dat jy God se wet eintlik kragteloos maak deur jou byvoegings.
Hulle het ook baie ander dinge op dieselfde manier gedoen. Daarna het Hy ook
die skare saamgeroep om dit vir almal verder te verduidelik (v.14).
Besprekingsvraag: Presies wanneer en hoe raak ons moderne Fariseërs?
Insig: Ons moet hier probeer om eers in die skoene van die Fariseërs te kom sodat die krag van Christus se vermaning ons dieper kan tref. Die Fariseërs was deel van ’n vernwuwingsbegewing onder die Jode wat seker wou maak dat God se volk weer sal uitstaan op aarde. Hulle het hulself beskou as dissipels van Moses wat sedert Josua die opdragte van die wet hou, ook soos dit mondeling voortgesit is (in die sg. halakah). Die doel was om mense te help om God se wet te onderhou. Wanneer dit weer suiwer gevolg sou word, sou die wêreld dan sien hoe God vir Israel seën. Hul basiese uitgangspunte was: (1) wees prontuit oor wat God se wil is, (2) maak baie dissipels, en (3) bou ’n heining van beskerming rondom die wet. In kontak met ’n heidenwêreld, het hulle toe bepaalde gebruike aangeneem wat aanvanklik net vir priesters by die offers en die eet van offers nodig was (vgl. Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Hulle het dus ’n soort priesterskap van alle gelowiges, sonder Christus, reeds in die ou verbond begin voorstaan. Die feit is egter dat God se Woord dit nie so beveel het nie. Boonop mis hulle die feit dat seremoniële seremonies hul vervulling vind in die koms van Christus. Daarom moet ons die vermaning hoor: (1) Ons kan deur byvoegings aan die Woord van God die gang en trajekte van die Bybel in Christus mis. (2) Ons kan deur die fokus op uiterlike kenmerke die punt mis oor wie waarlik rein is voor God.