2024/08/17

Na wie toe sal ons gaan?

Lees: Joh. 6:60-71

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het die woorde van die ewige lewe. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus vir die mense verduidelik het dat Hy die Brood van die lewe is en dat sy vlees geëet en sy bloed gedrink moet word, het baie van sy volgelinge (dissipels) gesê: “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” (v.60). Vroeër wou hulle Hom met geweld Koning maak, maar sy woorde het hulle nou laat wegdraai. Tog het Hy geweet dat hulle hieroor murmureer (let wel) en hulle net gevra oor wat hulle dan sal doen as hulle die Seun van die mens sien opvaar waar Hy tevore was (v.61-62). Hy het ook verder verduidelik dat dit die Gees is wat lewend maak en dat die vlees van geen nut is hiervoor nie. Die woorde wat Hy egter tot hulle gespreek het (en tot ons), is gees en is lewe (v.63).

Hy het hulle ook daarop gewys dat daar sommige is wat nie glo nie. Hy het ook van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie en wie hy was wat Hom sou verraai (v.64). Hy het toe vir hulle verduidelik dat dit om hierdie rede was dat Hy vir hulle gesê het dat niemand na Hom toe kan kom as dit hom nie deur sy Vader gegee is nie (v.65). Daarna het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie (v.66). Dit is toe dat die Here vir die twaalf apostels wat Hy aangestel het, gevra het of hulle nie ook wil weggaan nie (v.67).

Soos elders (vgl. Mat. 16:15-16) het Petrus ook hier namens die groep geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.” (v.68-69). Die Here Jesus se antwoord hier was nie om Petrus op die skouer te klop nie. Hy het eerder daarop gewys dat al het Hy twaalf uitverkies om sy apostels te wees, dat een nogtans ’n duiwel was, met ander woorde, ’n instrument in die hand van die duiwel was. Daarmee het Hy Judas Iskariot bedoel, die seun van Simon. Hy sou die Here Jesus verraai en was een van die twaalf (v. 71).  

Besprekingsvraag: Watter alternatiewe soek mense op wat van Jesus Christus wegdraai? 

Insig: Jesus Christus probeer duidelik nie om sy woorde ter wille van mense aan te pas nie. As dit vir sommige tot aanstoot is en hulle Hom dan wil verlaat, moet dit maar gebeur. Dit is selfs deel van ’n bepaalde reiniging wat moet plaasvind. Hier sien ons ’n suiwering vanaf die skare, na dissipels, na die apostels self, en uiteindelik selfs onder die apostels. Natuurlik was die Here Jesus se woorde oor sy vlees en bloed op daardie tydstip moeilik verstaanbaar vir die oorspronklike hoorders. Maar diegene wat bereid was om nederig by Hom te leer (vgl. Mat    11:29), sou mettertyd beter begryp en verstaan.

In die onmiddellike konteks gee die Here ook reeds twee wenke op die vraag na waarin die antwoord dan lê vir hulle wat eerlike soekers is: Hulle moet (1) weet dat hulle dit in die lig van sy Hemelvaart, daar waar Hy tevore was (let wel), beter sal verstaan waaroor dit gaan (v.62).Hulle moet verder ook (2) weet dat sy woorde geestelik is en geestelik verstaan moet word (v.63). Vandag weet ons by die verdere ontvouing dat ons dit by die nuwe verbond in sy bloed, spesifiek by Nagmaal, al dieper en dieper mag waardeer en verstaan. En tog, is daar diegene wat weggaan en te kenne gee dat Jesus Christus nie aan hul verwagtinge voldoen nie (v.66). Ons sien dit ook vandag in Nagmaal wat al hoe ligter eur sommiges getaks word, of dat daar geensins daarmee omgegaan word nie. By hierdie mense wat weggaan word die diepste hart openbaar - mense wat aanvanklik sy dissipels was. Wat is ons verwagtinge van Jesus, die Christus? Aan die begin van die 21ste eeu is daar ’n opsigtelike afvalligheid onder hulle wat eens deel van die Kerk van Christus was. En die vraag konfronteer daarom ook vir ons : “Wil julle nie ook weggaan nie?”

Maar let op: Die Here Jesus se vraag is nie die van iemand wat verleë is nie. Dit is eerder ’n oproep om te antwoord. Sy hele betoog is deurtrek van en gegrond in God se ewige Raad. Hy herhaal: Niemand kan na Hom toe kom as die Vader dit nie vir iemand gee nie (v.65; vgl. v. 37,39,44-45). Dit is hierdie laaste woorde wat ook finaal daartoe aanleiding gee dat sommige dissipels nie meer met Hom wandel nie. Aan die ander kant gee dit ook ’n bepaalde rustigheid om te weet dat elkeen wel sal kom as die Vader (en die Seun; vgl. Mat. 11:27) dit gee en openbaar. Die Here is so min verleë dat selfs nadat Petrus sy heerlike belydenis-antwoord gegee het oor Hom, Hy dadelik stel daar binne die twaalf ’n instrument van die satan is (vgl. ook Mt. 16:22-23). Hoë posisie in die Kerk is daarom nie vanself die teken dat iemand reg is nie. Dit behoort ons almal in die Kerk wakker vir sy Woord te hou. Dit beteken egter nie dat ons daarom nou elkeen se belydenis moet wantrou nie. Daar is eenvoud in Christus se uitnodiging en belofte vir elkeen wat kom (v.37,40). Ons moet wel die vermaninge lewendig hou in die Kerk en daarop wys dat iemand wat geproe het van die heerlike dinge van die nuwe verbond dan wegval, dubbeld skuldig word (vgl. Hebr. 6:4-8). Laat ons dan nederig wees en die Here vra om ons sy diep en ondeurgrondelike dinge te leer (Jer. 33:3). En laat ons in die krag van sy Gees Godvrugtig lewe en so ons verkiesing vasmaak (2 Pet. 1:5-10).

Petrus se antwoord op die Here se vraag is hier ’n opsigtelike ekwivalent van sy bekende belydenis ook later (Mat. 16:16). En sy antwoord hier help ons ook om deur die basiese alternatiewe te dink. Na wie toe sal ons dan gaan as Jesus Christus nie die antwoord is nie? Dit impliseer eerstens dat ons na iemand toe sal gaan. Sommige wil juis dit ontken dit en stel dat egte sogenaamde dapperheid jou laat erken dat jyself moet sterk wees en jou eie potensiaal ontdek. Jy moet daarom nie krukke en gode vir jouself projekteer nie (Freud en ook Feuerbach), maar eerder vrykom om outentiek te lewe op die maat van “’I did it my way”. Maar dit is ten diepste ’n baie troostelose opsie vol selfbedrog en ekkigheid oor die asem wat in jou neus is (Jes. 2:22). Op die lange duur kan niemand hulself ook werklik daarmee troos nie, want die gewete en die dood en die wederkoms spook by mense, veral by diegene wat eens gedoop is. Maar vir wie wel erken dat die versekering van heil en ware troos so nodig is en wat ander opsies navors, is daar heelwat sogenaamde aanbiedinge anders as Jesus, die Christus. Daar is die leringe van Mohammed, of Boeddha of Confucius of Zoroaster, of Plato of ’n ander filosoof wat moontlik vir iemand soos lewende water lyk. Wat dan ook al gekies word, dit behoort ten minste een te wees wat raad met die dood het, waarin die wegwysers dit oorwin het en geloofwaardig belowe om jou in lewe en in sterwe anderkant die dood ook te kan troos en lei. Dit is wat die wegwysers en ook die hedendaagse sekulêre antwoorde nie kan doen nie. Dit kan hoogstens tydelik bly wees oor goeie omstandighede, of baie gefrustreerd omdat omstandighede sleg is en ons net hierdie lewe het om dit reg te stel. Petrus help ons egter met die egte antwoord. Daar is geen ander as Jesus die Christus nie. Die woorde van die ewige lewe is by Hom en ons mag dit glo en erken en deur Woord en sakrament dieper daarin ingelei word.        emelvaartH  

Werke geraadpleeg:

John Bergsma, The Word of the Lord, Year B.

Frederik Dale Bruner 

Matthew Henry