2013/09/17

Belhar-kritiek uit die buiteland

Kevin DeYoung het bepaalde simpatie met die Belhar-belydenis. En tog het hy uiteindelik fundamentele probleme daarmee. Kyk hier, hier, hier, hier en hier om 'n opinie en verwysings uit die buiteland te kry van iemand wat van binne uit reformatories daarmee moes worstel. Glo dit of nie, maar binne sy eie kerkverband is die Belhar-belydenis daar ver oor die waters aanvaar. DeYoung kan die konsekwensies tussen die lyne lees, veral as hy bekende teoloë in Suid-Afrika se interpretasie sommer bo-op die die lyne sien kronkel. DeYoung eien die trajek van die meta-narratief treffend. En wat hy sien, lyk vir hom gekondisioneer deur alte bekende Zeitgeist-walms. Miskien sal iemand van buite af 'n gewigtiger impak hê op onse mense wat die reuk van politieke korrektheid al heeltemal te gewoond geraak het. 

2013/09/10

Genade moet skoon gedrink word

Robert Farrar Capon is onlangs oorlede. Kyk hier, hier en hier om jou aptyt vir die man se werk aan te wakker. Ek het een van sy bekende aanhalings oor die Reformasie vertaal vir ons kerkblad. Capon laat ons besef dat die Reformasie nie as opgewarmde kos bedien kan word nie. Ons het nodig om in die gloed daarvan te gaan staan as ons dit vars wil opskep. Hier is dan nou 'n poging om Capon in Afrikaans te laat praat oor daardie woord wat bedoel is om ons 'n geseënde dwarsklap te gee:

2013/09/06

La Tua Semplicità - Domingo en Groban

Hierdie lied is afkomstig van die album "Amore Infinito: Songs Inspired by the Poems of John Paul II." Die Engelse vertaling is blykbaar nie heeltemal akkuraat nie, maar gee darem 'n idee van waaroor dit gaan. Hier is nou vir ons 'n voorbeeld van hoe om duiwels uit te dryf. 

 

2013/08/28

Niemand anders verdien dit nie

Dit is die moeite werd om daarop te let dat die woord verlosser in die Nuwe Testament agt keer op God van toepassing gemaak word, op Jesus sestien keer, en op hoegenaamd niemand anders nie, nooit nie. En tog was die Griekse woord soter (verlosser) 'n redelik algemene term in die klassieke wêreld. Dit is as eretitel op beide menslike konings en militêre oorwinnaars toegepas, asook op die groot gode en helde van die mitologie. Maar dit gebeur nie in Nuwe Testamentiese Christenskap nie. "Verlossing behoort aan ons God wat op die troon sit ... en aan die Lam" (Op. 7:10). Niemand anders verdien eers die woordeskat nie. - Christopher J. H. Wright in The Mission of God, p. 120.

2013/08/23

Skuld, skaamte, vrees

Wat in my en jou hart aangaan, gaan dikwels ook in die harte van baie ander aan. Ons steek gewoon ons begeertes en denke en emosies by mekaar aan. En, soos vroeër reeds genoem, ons dryf maklik soos bootjies rond op die dalende of stygende watervlak van ons kultuur. Daarom is dit baie belangrik om nie net te vra wat in die roersele van my en jou binneste aangaan nie, maar ook: Wat gaan in die hart van ons tyd en ons land en ons kultuur aan?
Kom ons neem voorbeelde van huidige nuusmakers. Hoe uiteenlopend die sake van Oscar Pistorius en Egipte mag wees, hulle het ook baie te make met die ratwerk van Oscar en die Egiptenare se omgewings. Daardeur word onreg deur individue nie verskoon nie, en ons kan steeds dankbaar wees dat daar instellings is wat, hoe gebroke ook al, in Egipte en in Suid-Afrika nog poog om deur ’n regstelsel persoonlike verantwoordelikheid te toets. Dit gaan nou nie hier oor ’n poging om regter te probeer speel nie. Ons laat dit oor aan diegene wat daarvoor geroep is. Die fokus hier is om te vra wat gaan aan in die hart van gemeenskappe wat deur hierdie dinge gekenmerk word. Hierdie vraag kan maklik op twee wyses die punt ignoreer. Danie Goosen het onlangs daarop gewys dat ’n liberale idee van vryheid op twee wyses hieroor kan mistas. Jy kan of die verband van 'n gemeenskap met die individu te veelseggend of te niksseggend maak. Bewus van hierdie skeeftrekkkings, kom ons probeer die roeringe van gemeenskappe peil deur te fokus op die invloed van drie groot werklikhede: skuld, skaamte, en vrees.

2013/08/20

Blomkamp en Elysium

Elysium: Neill Blomkamp Fools the Critics Again
Ek oefen my Boere-Ingels, bloot omdat ek dit reeds op fakebook moes doen, hier vir 'n paragraaf lank oor Neill Blomkamp van District 9-faam se nuwe Elysium. Die skakel wat hier en  daar gebied is belangriker. Dit vestig ons aandag daarop dat liberales dalk Blomkamp se dekonstruksie en polities inkorrekte kortribhoue mis.

2013/08/10

Reformasie en troebel tye

Ons reken mos maklik dat ons tydsgewrig ’n revolusionêre tydvak is. 'n Mens is egter maklik in die versoeking om die belang van jou eie tyd te oorskat. Hier is net so 'n kort herinnering aan die turbulente tye van die Reformasie. Dit kan miskien help om die bysiende kyk op ons eie situasie te verlig deur kenis te neem van onstuimige toestande buite ons tydsradars. Mathison (p. 83) beskryf die rustelose toestande ten tye van die Reformasie so: