Wat in my en jou hart aangaan, gaan dikwels
ook in die harte van baie ander aan. Ons steek gewoon ons begeertes en denke en
emosies by mekaar aan. En, soos vroeër reeds genoem, ons dryf maklik soos
bootjies rond op die dalende of stygende watervlak van ons kultuur. Daarom is
dit baie belangrik om nie net te vra wat in die roersele van my en jou binneste aangaan nie, maar
ook: Wat gaan in die hart van ons tyd en ons land en ons kultuur aan?
Kom ons neem voorbeelde van huidige nuusmakers. Hoe uiteenlopend die sake van Oscar Pistorius en Egipte mag wees, hulle het ook baie te make met die ratwerk van Oscar en die Egiptenare se omgewings. Daardeur word onreg deur individue nie verskoon nie, en ons kan steeds
dankbaar wees dat daar instellings is wat, hoe gebroke ook al, in Egipte en in
Suid-Afrika nog poog om deur ’n regstelsel persoonlike verantwoordelikheid te toets. Dit gaan nou nie hier oor ’n poging om regter te probeer
speel nie. Ons laat dit oor aan diegene wat daarvoor geroep is. Die fokus hier is
om te vra wat gaan aan in die hart van gemeenskappe wat deur hierdie dinge
gekenmerk word. Hierdie vraag kan maklik op twee wyses die punt ignoreer. Danie
Goosen het onlangs daarop gewys dat ’n liberale idee van vryheid op twee wyses hieroor kan mistas. Jy kan of die verband van 'n gemeenskap met die individu te veelseggend of te niksseggend maak. Bewus van hierdie skeeftrekkkings, kom ons probeer die roeringe van gemeenskappe peil deur te fokus op die invloed van drie groot werklikhede: skuld,
skaamte, en vrees.


