Hier volg enkele dele uit Reardon se reeds genoemde artikel in Afrikaans. Sy verduideliking is kort, maar baie kragtig. Daar lê wêrelde en geskiedenisse opgesluit in sy woorde. En die bepaalde soort Kantiaanse skaduwee wat hy aantoon moet nie misgekyk word nie. Dit is, dink ek, nie moontlik om die benarde posisie van teologie in Suid-Afrika te begryp sonder hierdie insig van Reardon nie. Die betekenis en invloed van Nominalisme en Voluntarisme moet baie duideliker in ons woordeboeke onderstreep wees. Dit help baie om die storie van teologie in Amerika, maar ook Suid-Afrika, te ontrafel:
"Populêre moraliteit in die huidige Amerikaanse
kultuur is diep in die skuld by beide die Nominalisme van die Laat Middeleeue
en die Voluntarisme van die Verligting. Aangesien ek hierdie skuld as
betreurenswaardig beskou, sal dit dalk goed wees om te begin met 'n kort
verduideliking van hierdie terme.
Volgens die Nominalisme van die Laat
Middeleeue, word ons konsepte geskep deur ons denke. Na aanleiding van hierdie
teorie, neem ons inligting, verkry deur ons sintuie, en ons gebruik hierdie
data om samehangende vorm te gee aan daardie abstraksies wat as "idees”
bekend staan. Dit beteken dan dat "waarheid" 'n skepping is van ons
denkprosesse. Ons deel die gemeenskaplike "name" (nomina) van die
dinge, maar nie die eintlike waarheid waarna hierdie name verwys nie.
Hierdie teorie van kennis vorm die basis van
die Verligting se Voluntarisme. Volgens hierdie morele skool, skep die menslike
wil (voluntas) die morele norme, baie soos wat die menslike verstand abstrakte
konsepte skep. Morele redenasie is diensbaar aan 'n verbintenis van die wil, en
morele norme word bevestig deur die morele keuses. Die morele wet is gebaseer
op 'n morele besluit.
Buite hierdie keuse is daar geen morele wet nie,
net soos wat daar geen "waarheid" buitekant menslike opvattings daarvan
is nie. Die enigste "morele beginsel" is 'n akte van die keuse. Alle
etiek is gekose etiek. Daar is geen blywende morele norme wat werklik - in re -
"daar buite" is nie. Daar is niks wat "bestaan" wat
bevele aan die gewete kan dikteer nie."
Reardon eindig
sy betoog met die volgende woorde: "Hier is my eenvoudige tese: Die mens se
kapasiteit vir morele persepsie is inheems aan sy geskape wese. Of sy persepsie
verlig is deur die Evangelie en verhef deur Goddelike genade, of nie, is
irrelevant tot die oorsprong daarvan; daar is wette waardeur alle mense gebind is
as gevolg van die geskape orde."