Gedagte vir kinders: Mooi en lelike dinge begin in jou hart.
Oorsig: Tydens die Here Jesus se
bediening het sy woorde en dade bekend geword aan die godsdienstige leiers in
die hoofstad van Jerusalem. Hy het egter dikwels daar in Galilea in die noorde
waar Hy grootgeword het, bedien, en daarom kon hulle nie in alles vanuit
Jerusalem ’n oog oor Hom hou nie. Op ’n stadium het hulle lede van die
strengste godsdienstige party, die Fariseërs, asook sommige Skrifgeleerdes wat
die wet ywerig saam met hulle eie mondelinge tradisie daaroor gehou het, Hom
kom besoek.
Hulle sien toe dat die dissipels nie water op hulle hande gegiet het voor
ete nie en daarom volgens hul rituele onrein was. Hulle het dit afgekeur (v.2).
In die Ou Testament sien ons dat net die priesters onder sommige omstandighede
sulke voorskrifte gehad het (Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Maar in daardie tyd het die Fariseërs en die al die Jode nie geëet as
hulle nie deeglik hande gewas het nie, omdat hulle vasgehou het aan die
gewoontes (oorlewering/tradisie) van die ou mense (v.3). So wou hulle kontak
met die heidenwêreld beperk. Nadat die Here Jesus hulle persoonlik geantwoord
het (v. 4-13), het Hy die hele skare na Hom geroep om sy antwoord vir almal te
verduidelik (v.14): Geen kos wat van buite af in mense ingaan, maak onrein nie,
maar eerder die dinge wat van iemand se hart uitgaan. Elkeen wat ore het, moes
hoor (v. 15-16).
Toe Hy weg van die skare in ’n huis gekom het, het sy dissipels oor sy
gelykenis gevra (v.17). Hy het toe gevra of hulle ook so sonder verstand was.
Hulle moes begryp dat alles wat van buite af in die mens ingaan, nie ingaan in
die hart nie, maar in die maag en heimlik uitgaan en al die voedsel rein maak
(v. 18-19). Hy het toe verduidelik dat net dit wat uit die mens se hart
uitgaan, ’n mens onrein maak (v.20). Hy het toe op 12 kenmerke gewys wat van
binne kom, uit die hart, en mense onrein maak: Slegte gedagtes, egbreuke
(owerspelle), hoererye (porneia),
moorde, diefstalle, hebsug (slegte begeertes/bedrog), boosheid, losbandigheid,
afguns (bose oog), lastering, hoogmoed, dwaasheid (ligsinnigheid). Daarmee het
die Here Jesus nie net die oorlewering van die ou mense oor allerhande wassinge
vir gewone mense wat nie in die Bybel was, verwerp nie, maar het Hy ook
duidelik gemaak dat ook sekere seremoniële wette uit die Ou Testament wat na
Hom heengewys het, na sy kruis nie meer sou geld nie.
Besprekingsvraag: Waarom was daar eksterne rituele en seremonies in die Ou Verbond?
Insig: Die Here Jesus maak dit hier duidelik dat Hy gesag het om ’n nuwe bedeling aan te kondig. Dit gaan nie daaroor dat Hy maar bloot, soos mense ook vandag, die Ou Testament bevraagteken en daarmee sanksie gee aan elke rebel wat elke heersende orde uitdaag nie. Nee, Christus eer en bevestig juis die diepste bedoeling van die wet, maar maak ook duidelik dat die koninkryk van God in Hom werklik naby gekom het. Ja, ’n nuwe era sou deur Hom aanbreek. Soos wat Noag en sy nageslag na die sondvloed toegelaat is om, anders as Adam en Eva (vgl. Gen. 1:29-30), die vleis van diere te eet (vgl. Gen. 9:3), so sou mense, nadat Jesus Christus gekom het, toegelaat word om voortaan enigiets met danksegging te kon eet (1 Tim. 4:1-4). Daarom moet ons sy saamroep van die skare verstaan as ’n verklaring wat tot vandag toe in ons ore weerklink: Hy openbaar die diepste bedoeling van die wet, wys die vervulling in Hom aan en toon ook aan waar onreinheid eintlik setel.