Lees: Jes. 8:23-9:1-6
Gedagte vir kinders: Die Here
Jesus se heerskappy bring volmaakte vrede en geluk.
Oorsig: Die profeet Jesaja het God se oordeel in hoofstuk 8 aangekondig
en gesê dat hulle vyand uit die Noorde sou inval om Israel en Juda in te neem.
Maar nou verkondig Jesaja ook goeie nuus. Hy profeteer van ’n tyd waar dit nie
langer donker sal wees soos toe God die stamme in die Noorde, Sebulon en
Naftali, begin verneder het nie. Want God sou daardie dele eerste in ere
herstel, onder meer die weg na die see wat ’n gewilde roete was vir die nasies,
die deel wat tot oorkant die Jordaan gestrek het en wat ook die gebied van die
heidene genoem is (8:23 - sommige vertaal dit met “Galilea van die heidene”
soos bv. ook Mat. 4:15).
Jesaja profeteer dan verder dat daardie
volk wat in duisternis geleef (gewandel ) het, ’n groot lig gesien het. Hy praat
in die verlede tyd om te wys hoe vas en seker dit sal gebeur. Ja, hierdie volk
wat woon in die land van doodskaduwee, oor hulle het ’n lig geskyn (v.1).
Jesaja vertel dan dat God die nasie baie gemaak het en vertel vier keer, onder
meer deur beelde van oestyd en oorlog-einde, van groot blydskap: (1) Mense se
vreugde is groot gemaak; (2) hulle is vrolik voor God se aangesig, (3) soos iemand
vrolik is in die oestyd, (4) soos iemand juig as die buit verdeel word as die
oorlog verby is (v.2). Jesaja gebruik dan beelde van die bevryding uit die
slawerny uit Egipte van hierdie nuwe bevryding: Die juk wat gedruk het, die
stok op die rug, die roede van die drywer, is verbreek. Hy vergelyk dit ook met
die bevryding wat die volk later beleef het toe God hulle hulle deur Gideon van
die Midianiete bevry het (v.3). Hy wys ook daarop dat elke soldateskoen en uniform
wat vol bloed is, in die vuur gegooi sal word (v.4).
En dan gee Jesaja die rede waarom dit
sal gebeur: ’n Kind is gebore en deur God vir ons gegee. Die heerskappy is op
sy skouer en Hy sal genoem word met verskillende name wat vir ons ’n idee gee
van sy Persoon en werk wat natuurlik net die Messias kan wees.