Lees:
Luk. 4:1-14
Gedagte vir kinders: Jesus is ons Verlosser, want Hy het die
satan se versoekings weerstaan.
Oorsig: Die Here Jesus se amptelike
bediening het begin toe Hy in die Jordaan gedoop is (Lk. 3:21-22). Daar het die
Gees op Hom neergedaal en die stem uit die hemel bevestig dat Hy die geliefde
Seun van God is. Net hierna hoor ons uit sy geslagsregister ook dat Hy seun van
Adam is wat seun van God was (Lk 3:23,38). Die vraag is nou wat hierdie tweede
Adam as Seun van God gaan doen? Ons lees dat Hy vol van die Gees in die woestyn
gelei is (4:1). Dit herinner ons aan Israel wat veertig jaar in die woestyn
was. Jesus Christus was veertig dae daar waarin hy niks geëet het nie en deur
die duiwel versoek is (v.2). Beraders wys daarop dat jy baie meer weerloos is wanneer
die akroniem HALT in jou lewe waar is (Hungry, Angry, Lonely,
or Tired).
Na veertig
dae het Jesus begin honger word, en ook hier het die satan sy kans gesien. Hy
het gesê dat as Jesus die Seun van God is (soos by sy doop uit die hemel gesê
is), Hy moes sê dat die klip ’n brood word (v.3). Die Israeliete het deur
honger in die woestyn hul verhouding met God verbreek, maar die Here Jesus het nie
en aangehaal uit Dt.8:3. Daar staan dat die mens nie van brood alleen sal lewe
nie, maar van elke woord van God (v.4). God se wil bring lewe voor enigiets
anders. Die duiwel bring hom toe op ’n hoë berg en wys Hom al die koninkryke
van die wêreld in ’n oomblik se tyd (v.5). Hy sê toe dat aan Jesus dat hy aan
Hom al hierdie mag en heerlikheid sal gee (as die owerste van hierdie wêreld –
Jn. 12:31) as Jesus hom aanbid (v.6-7). Die Here het hierdie keer die satan
weerstaan deur te sê dat hy moet weggaan en uit Dt. 6:13 aangehaal. Daar staan dat
jy die Here jou God moet aanbid en Hom alleen dien (v.8).
Toe bring
die satan Jesus na Jerusalem en stel hom op die dak van die tempel. Hy het toe
gesê dat Jesus Homself moes neerwerp van daar af. Die satan het op Ps. 91:11-12
gewys waar daar staan dat God sy engele sal beveel om jou te bewaar en dat
hulle jou op die hande sal dra sodat jy nie miskien jou voet teen ’n klip stamp
nie (v.9-11). Die Here Jesus het hom egter gewys op ander woorde in die Skrif
wat ook in ag geneem moet word. Daardeur het die Here ons geleer dat ons Skrif
met Skrif moet vergelyk en moeilike gedeeltes in die lig van duideliker
gedeeltes moet verstaan. Ons moet dus alle gedeeltes in die Bybel met mekaar in
verband bring en in Dt. 6:16 staan ook dat jy die Here jou God nie moet versoek
nie (v.12). Toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy ’n tyd lank van
Jesus gewyk (v.13). En so het die Here Jesus oorwinnend, in die krag van die
Gees na Galilea teruggekeer (v.14).
Besprekingsvraag: Hoe stry ons vandag teen die
basiese versoekinge wat ons hier sien?
Insig: Die Bybel vertel ons van bekende
beproewings en toetse. Dink aan Josef en Abraham en Job wat sterker anderkant
uitgekom het. Daar is ook toetse wat gedop is, soos Israel in die woestyn en
Saul as koning. Niemand van ons het nog altyd elke beproewing deurstaan nie, hetsy
in woorde, dade, gedagtes, gesindheid of versuim. Die media herinner ons
daagliks aan toetse wat gedop word, en daarmee aan die gevallenheid van die
mens. In Adam en Eva het ons almal die doel gemis en mis dit steeds dikwels.
Ons behoort ten regte baie bewus te wees van eie gevallenheid. Daarom is die
wet as spieël en tugmeester belangrik. Die is juis so dat ons Jesus Christus sien
skitter in die woestyn. Hy het teenoorgestelde toestande as Adam in die tuin,
maar bly gelowig en lojaal. Israel murmureer in die woestyn, soos ons, en
sondig. Maar Jesus Christus bly optree in die krag van die Gees en tree
oorwinnend anderkant uit.