2022/03/23

Oom Ches oor romantiek

Het jy al ooit 'n klein seuntjie hoor kla dat hy by 'n treinstasie moet aanhang en vir 'n trein moet wag? Nee; want om binne 'n spoorwegstasie te wees is vir hom om binne 'n spelonk van wonders en 'n paleis van digterlike genot te wees. Want vir hom is die rooi lig en die groen lig op die seinbord soos 'n nuwe son en 'n nuwe maan. - GK Chesterton

Oom Ches, soos ons hom in hierdie reeks noem, het die vermoë om die mor in jou hart tot bedaring te bring. Dit is geen geringe  saak nie, want selfs verloste Israeliete kan nog steeds in die woestyn agterbly (vgl. 1 Kor. 10). En oom Ches help verrassend baie om die beloofde land sommer in jou eie land, jou eie huis en op jou eie werf te vind. In die bekende artikel van hom waarna ons die vorige keer gekyk het, gaan ons hierdie keer by ’n spesifieke element van oom Ches se oop geheim aanhaak. Dit is sy oog vir romantiek, selfs in ongemaklike situasies:

“Maar eintlik is hierdie romantiese siening van sulke ongerieflikhede net so prakties soos enige ander praktyk. Die ware optimis wat in sulke dinge 'n geleentheid vir genot sien, is net so logies en baie meer sinvol as die gewone "verontwaardigde belastingbetaler" wat 'n geleentheid vir grimmigheid sien.”[i]


Oom Ches het sterk daarop aangedring dat daar op die langtermyn niks so prakties is soos ’n goeie filosofie en ’n romantieke verbeelding nie. Oor die belangrikheid van ons filosofie het hy dit alreeds geëien by loseerders, maar ook in oorlog:

“Ons dink dat dit vir 'n eienaar wat 'n loseerder oorweeg, belangrik is om sy inkomste te ken, maar dit is nog belangriker om sy filosofie te ken. Ons dink dat dit vir 'n generaal wat op die punt staan ​​om 'n vyand te beveg, belangrik is om die vyand se getalle te ken, maar dit is nog belangriker om die vyand se filosofie te ken.”[ii]

En hiermee, dames en here, stel ek u opnuut voor aan om Ches. U het nie gedink dat oom Ches kan praat oor Rusland en die Oekraïne nie. Maar pas besef u dat hy iets geweldig daaroor en sommer ook jou toekomstige huurder gesê het. Terug na ons punt toe: 

2022/03/22

Oom Ches oor ongerief en dergelike avonture

In die vorige aflewering is die bekende G.K. Chesterton, Oom Ches soos ons hom maar in die volksmond kan noem, aan die orde gestel. Hy verteenwoordig die heerlike alternatief op die visie van suspisie wat soveel ongeloof by ons in stand hou. In hierdie aflewering gaan ons, soos voorgeneem, fokus op ’n bekende artikel van hom, On running after one’s hat.[i] Hierdie ryk en humorgeurende artikel illustreer op treffende wyse oom Ches se gawe om die wonder in alles raak te sien. Ons weet in teorie dat ons almal veronderstel is om die lewe in groter mate as avontuur te sien. Maar ons het ook iemand nodig wat aan ons die nodige middele gee om ons te help om so te wees. Wel, in oom Ches het ons iemand wat ons hiermee kan help. 



Genadetyd is nog hier

Lees: Luk. 13:1-9

Gedagte vir kinders: Wie die Here se roepstem hoor, moet duidelik antwoord en vrugte dra.

Oorsig: Die Here Jesus was met sy apostels op pad na Jerusalem om die groot versoening tussen God en mense deur sy kruis heen te bewerk. Op pad daarheen het Hy oor baie dinge van God se koninkryk gepraat. Hy het ook wonders gedoen en vrae wat opgekom het hanteer. Een so ’n geval het plaasgevind toe mense vir hom berig gebring het van die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, wat in daardie tyd daar aangestel is. Hy het deur sy soldate sekere Galileërs in die tempel doodgemaak terwyl hulle offers gebring het. So het die bloed van die mense gemeng geraak met die offers van die diere (v.1). Daarmee het hulle deur geweld duidelik maak wat met enigeen gebeur wat die Romeinse mag probeer teengaan.  

Die Here Jesus het hierop geantwoord deur vir die mense te vra of hulle dink dat hierdie Galileërs met wie dit gebeur het, groter sondaars was al die Galileërs uit die Noorde van die land omdat hulle so moes omkom (v.2). Hy het self geantwoord dat die antwoord nee is, maar hulle moes tog die regte boodskap hieruit kry.  Hulle moes weet dat almal wat hulle nie bekeer nie, net so sal omkom (v.3). Die Here het hierna ’n verdere voorbeeld bygevoeg wat ook met ander mense as die Galileërs gebeur het. Daar was 18 mense op wie die toring van Siloam in daardie tyd geval en hulle gedood het. Hy het gevra of ook daardie mense meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon (v.4). Weer eens was sy antwoord nee. Ook hier was boodskap dieselfde. As mense hulle hul nie bekeer nie, sou hulle almal net so omkom. Die tragiese gebeure was dus wel ’n vingerwysing na die tragiese einde van die tweede dood na hierdie dood (vgl. Op. 22:11-15) as hulle hul nie tot die lewende God bekeer nie (v.5-6).

Hierna het die Here Jesus ’n gelykenis vertel. Daar was ’n man wat ’n vyeboom in sy wingerd gehad het. Dit het waarskynlik daar gestaan omdat die grond so vrugbaar daar was. Die man het daarom gekom en vrugte daaraan gesoek, maar niks gekry nie (v.6). Toe het hy vir die tuinier gesê dat dit nou al drie jaar is wat hy kom om vrugte daaraan te soek en niks kry nie. Die tuinier moes dit daarom uitkap omdat dit net die grond onvrugbaar maak. Die tuinier het egter gepleit dat hy dit nog een jaar moes laat staan totdat dit hy weer gespit en mis gegooi het. As dit dra dan vrug dra, goed, maar indien nie, kon dit die volgende jaar uitgekap word. Die vyeboom staan vir Jerusalem en vir elkeen tot vandag toe wat nie reageer op die boodskap van Jesus Christus en die bewys daarvan lewer deur vrug te dra wat by die bekering pas nie.

Vir elkeen wat wil

Lees: Luk. 13:18-35

Gedagte vir kinders: Jesus Christus roep elkeen persoonlik om op sy roepstem te antwoord.     

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem waar Hy deur sy sterwe en opstanding sou seker maak dat die koninkryk van God in mense se lewens ’n werklikheid word. Om iets hiervan te verduidelik, het Hy onder meer die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg vertel (Luk. 13:18-21; vgl. Mt.13:31-33). Hierdie gelykenisse gaan daaroor dat die skynbare klein begin van God se koninkryk uitbrei tot iets baie groot. By die mosterdsaad gaan dit spesifiek oor hoe groot en wyd dit uitbrei en by die suurdeeg hoe diep dit inwerk in alles.      

In daardie tyd het iemand vir Christus ook gevra of die wat gered word, min is (v.22-23). Die Here Jesus het nie direk op hierdie vraag geantwoord nie, waarskynlik omdat ons so maklik daaroor kan praat asof dit net ’n syfer is. Hy het eerder geantwoord dat hulle elkeen self hard moes stry om in te gaan (v.24). Dit beteken nie dat hulle moes werk vir hulle verlossing nie, maar wel om moeite maak om God se weg van verlossing te waardeer. Hulle moes dit doen op ’n wyse dat hulle nie bloot weet van Christus nie, maar so dat Hy, die eienaar van die huis, hulle sou ken as deel van sy eregaste (v.25). Die Here Jesus verduidelik dan dat dit nie genoeg was dat hulle selfs in sy teenwoordigheid geëet en gedrink het nie. Dit gaan daaroor of Hy hulle ken omdat Hy in ’n egte verhouding met hulle is. Anders is hulle, selfs naby aan Hom, steeds werkers van ongeregtigheid (v.27). Die smart sal vir sulke mense baie wees wanneer hulle hul bekende voorvaders en profete in die koninkryk sien, maar self uitgedryf buite toe. Meer nog, allerhande mense sal uit alle oorde van die aarde kom en wel aansit in die koninkryk. Maar hulle moes weet dat die gangbare verwagtinge omgekeer sal word (v.28-30.)

Die Fariseërs het toe na Jesus gekom en Hom gewaarsku om daar te vertrek omdat Herodus Antipas Hom wou doodmaak (v.31). Die Here Jesus het egter geantwoord dat Hy sy werk van duiwels uitdryf en genesing sou klaarmaak en dat Hy wel sou vertrek na Jerusalem om daar te sterf, soos dit met baie profete die geval was (v.32-33). Hy het deur die verwysing na drie dae ook reeds gesinspeel op sy opstanding uit die dood. Hierna het Hy getreur oor Jerusalem en twee keer die naam uitgeroep. Hy wou Jerusalem met sorg bymekaar maak soos ’n hen haar kuikens, maar hulle wou nie (v.34; vgl. Dt. 32:11; Rut 2:12; Jes. 31:5). Die gevolg hiervan sou wees dat die tempel verwoes sou word. 

2022/03/03

Oom Ches vir ons tyd

Maroela Media het hierdie stuk goedgunstig geplaas. Dalk kan dit 'n reeks word:

Sommige studente begin al meewarig glimlag as ek oom Ches vir die soveelste keer aanhaal. Ek praat nou van G.K. Chesterton, veelsydige Britse Joernalis (1874-1936). “Maar hy is dan Ingels”, hoor ek iemand sê, “en hy was Rooms-Katoliek”, voeg iemand anders ingelig by. My eerste antwoord is eenvoudig dat ons Heer se genade groter is as wat ons dink. En my verdere antwoord is dalk oorbekend: God het daarvoor gesorg dat mense hom nie verafgod nie, en hom daarom maar Engelsman en Rooms Katoliek gemaak. Maar hier is my troefkaart in Afrikaner-land. Chesterton was pro-Boer tydens die Anglo-Boereoorlog. 


Hy was die tipe man wat Boere nie sal omgee om oom Ches te noem nie, want sy hart was op die regte plek. En oom Ches had ’n baie besondere gawe: Hy kon en kan vistas vir jou oopbreek wat jy eenvoudig nie sien kom het nie. En hierdie gawe is so belangrik vir elkeen van ons wat hartlik stry om minder soos murmurerende Israeliete en meer soos positiewe Kalebs te leef. Dit is ook uiters belangrik vir ’n geslag wat blykbaar dink dat die huidige opvolge van 50 skakerings van grys na die donkerder en dierliker kant toe, die enigste fassinering is wat daar is, al roep die donker ook al hoe dieper in. 

Versoeking wat weerstaan is

Lees: Luk. 4:1-14

Gedagte vir kinders: Jesus is ons Verlosser, want Hy het die satan se versoekings weerstaan.  

Oorsig: Die Here Jesus se amptelike bediening het begin toe Hy in die Jordaan gedoop is (Lk. 3:21-22). Daar het die Gees op Hom neergedaal en die stem uit die hemel bevestig dat Hy die geliefde Seun van God is. Net hierna hoor ons uit sy geslagsregister ook dat Hy seun van Adam is wat seun van God was (Lk 3:23,38). Die vraag is nou wat hierdie tweede Adam as Seun van God gaan doen? Ons lees dat Hy vol van die Gees in die woestyn gelei is (4:1). Dit herinner ons aan Israel wat veertig jaar in die woestyn was. Jesus Christus was veertig dae daar waarin hy niks geëet het nie en deur die duiwel versoek is (v.2). Beraders wys daarop dat jy baie meer weerloos is wanneer die akroniem HALT in jou lewe waar is (Hungry, Angry, Lonely, or Tired).

Na veertig dae het Jesus begin honger word, en ook hier het die satan sy kans gesien. Hy het gesê dat as Jesus die Seun van God is (soos by sy doop uit die hemel gesê is), Hy moes sê dat die klip ’n brood word (v.3). Die Israeliete het deur honger in die woestyn hul verhouding met God verbreek, maar die Here Jesus het nie en aangehaal uit Dt.8:3. Daar staan dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie, maar van elke woord van God (v.4). God se wil bring lewe voor enigiets anders. Die duiwel bring hom toe op ’n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ’n oomblik se tyd (v.5). Hy sê toe dat aan Jesus dat hy aan Hom al hierdie mag en heerlikheid sal gee (as die owerste van hierdie wêreld – Jn. 12:31) as Jesus hom aanbid (v.6-7). Die Here het hierdie keer die satan weerstaan deur te sê dat hy moet weggaan en uit Dt. 6:13 aangehaal. Daar staan dat jy die Here jou God moet aanbid en Hom alleen dien (v.8).             

Toe bring die satan Jesus na Jerusalem en stel hom op die dak van die tempel. Hy het toe gesê dat Jesus Homself moes neerwerp van daar af. Die satan het op Ps. 91:11-12 gewys waar daar staan dat God sy engele sal beveel om jou te bewaar en dat hulle jou op die hande sal dra sodat jy nie miskien jou voet teen ’n klip stamp nie (v.9-11). Die Here Jesus het hom egter gewys op ander woorde in die Skrif wat ook in ag geneem moet word. Daardeur het die Here ons geleer dat ons Skrif met Skrif moet vergelyk en moeilike gedeeltes in die lig van duideliker gedeeltes moet verstaan. Ons moet dus alle gedeeltes in die Bybel met mekaar in verband bring en in Dt. 6:16 staan ook dat jy die Here jou God nie moet versoek nie (v.12). Toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy ’n tyd lank van Jesus gewyk (v.13). En so het die Here Jesus oorwinnend, in die krag van die Gees na Galilea teruggekeer (v.14).           

Besprekingsvraag: Hoe stry ons vandag teen die basiese versoekinge wat ons hier sien?

Insig: Die Bybel vertel ons van bekende beproewings en toetse. Dink aan Josef en Abraham en Job wat sterker anderkant uitgekom het. Daar is ook toetse wat gedop is, soos Israel in die woestyn en Saul as koning. Niemand van ons het nog altyd elke beproewing deurstaan nie, hetsy in woorde, dade, gedagtes, gesindheid of versuim. Die media herinner ons daagliks aan toetse wat gedop word, en daarmee aan die gevallenheid van die mens. In Adam en Eva het ons almal die doel gemis en mis dit steeds dikwels. Ons behoort ten regte baie bewus te wees van eie gevallenheid. Daarom is die wet as spieël en tugmeester belangrik. Die is juis so dat ons Jesus Christus sien skitter in die woestyn. Hy het teenoorgestelde toestande as Adam in die tuin, maar bly gelowig en lojaal. Israel murmureer in die woestyn, soos ons, en sondig. Maar Jesus Christus bly optree in die krag van die Gees en tree oorwinnend anderkant uit.

Aanskou sy heerlikheid

Lees: Lk. 9:28-36

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus se heerlikheid sal eendag vir almal duidelik wees.  

Oorsig: Net voor hierdie gedeelte kom die dissipels by die oomblik van waarheid waar hulle moet sê wie hulle dink Jesus is. Petrus antwoord dan dat Jesus die Messias van God is (v.20). Hierna wys die Here Jesus hulle daarop dat Hy baie moet ly en verwerp en doodgemaak word en dat Hy op die derde dag sal opstaan (v.22). Hy wys hulle daarop dat elkeen wat sy dissipel wil wees, ook bereid moet wees om hulself te verloën en selfs elke dag kruis toe te gaan (v.23). Die belofte is egter dat die heerlikheid op pad is en dat sommige van hulle reeds iets daarvan sou sien (v.27). Iets hiervan sou sommer reeds agt dae daarna plaasvind (v.28).

Die Here Jesus het toe die binnekring van sy dissipels, Petrus en Johannes en Jakobus, saamgeneem en op ’n berg (Hermon, of bes moontlik Tabor) geklim om te bid. Later sou Johannes en Petrus terugverwys na ook  hierdie gebeure. (Joh. 1:14; 2 Pt. 1:16-18). Die dissipels was deur slaap oorweldig, maar toe hulle wakker word, sien hulle die Here Jesus in heerlikheid en twee manne wat by Hom staan (v.32). Wat gebeur het, was dat terwyl die Here Jesus gebid het, sy voorkoms anders geword het en sy klere skitterwit. Volgens Mattheus het sy gesig geblink soos die son (Mt. 17:2). Die twee manne was Moses en Elia. Hulle verskyning bevestig ook vir ons dat daar lewe na die dood is. Hulle het in heerlikheid daar verskyn en spesifiek met die Here Jesus gepraat oor sy uitgang (letterlik: eksodus) in Jerusalem (v.31). Daardeur het hulle hulle verwys na sy dood wat ’n bevryding vir God se kinders sou bring. Dit sou soos ’n nuwe eksodus wees, maar hierdie keer uit die slawerny van die sonde en die dood.