2015/06/19

Bordwell oor Žižek, en dalk ook die Kerk

David Bordwell, die teoretiese filmkenner, het my nommer. Al verskil ons waarskynlik sterk oor geloofsake, wandel ek graag in die gange van sy gedagtes, natuurlik met die volle wapenrusting aan. Ek sou graag wou glo dat dit iets te make het met die grondstrukture van die algemene genade waarby Bordwell dikwels inskakel. Die aanhaling wat hier volg as reaksie op die veelsydige Marxistiese filosoof en kultuurkritikus, Slavoj Žižek, is 'n goeie voorbeeld. Dit bevestig dat enigeen wat nugter die grondslae van sy eie spesialis-gebied opsoek, moontlik iets te sê het vir hulle wat ons voorgaan in meta-analises. Dit lyk vir my of Bordwell nie net vir  Žižek iets te sê het nie, maar sommer ook vir menige kerke en teoloë wat naïef rondswem in die waters van hul erkende en onerkende meesters. Besluit maar self as jy die volgende woorde van Bordwell hoor:

"Most important, although I didn’t have Žižek in mind when I wrote the essay, he himself instantiates all the conceptual commitments and rhetorical habits I criticize. His work is a pastiche of many, widely varying intellectual sources (from Ernest Laclau to Stephen Jay Gould). He is an associationist par excellence. His use of films is purely hermeneutic, with each film playing out allegories of theoretical doctrines. And he never doubts his masters Hegel and Lacan, exemplifying the tendency I characterize this way: “The pronouncements of Lacan, Althusser, Baudrillard, et cie are often simply taken on faith” 

Kom ons haal die soliede punte stelselmatig uitmekaar vir beter besinning oor dit waarteen ons almal moet waak:
  • Daar is konsepsuele verbintenisse en retoriese gewoontes wat ons het wat dalk gekritiseer moet word. Ed De Bono het reeds lankal daarop gewys dat baie van ons verskille te make het met persepsie en nie met logika nie. Dit is op hierdie vlak wat ons so maklik by mekaar verbypraat en so maklik by ons eie konsepsuele verbintenisse verbykyk, gewoon omdat ons nie anders kan as om ook deur hulle te kyk nie.
  • Ons kan soveel intellektuele bronne hê dat ons op eklektiese wyse daarmee omgaan. Die gevolg is dat ons dit nie georden inspan nie, maar op 'n wyse waar ons onsself verskoon dat ons met die model van pastiche werk - 'n handige verweer in die wereld van eklektisisme.
  • Ons kan so verbind wees aan ons eie idees dat ons assosiasie-slawe word (is daar in Afrikaans 'n woord soos assosianis?). Met ander woorde, om die begrippe van C.S. Lewis te gebruik, ons gebruik dit wat voorhande is bloot instrumenteel om ons te herinner aan die reeds bekende, in plaas van om dit te ontvang as iets wat juis ons eie wêreld met sy assosiasies oorstyg. 
  • Ons kan films en narratiewe bloot op hermeneutiese wyse allegories begin lees om ons gunsteling temas te onderskryf en die unieke lyne van die storie met sy narratiewe genot eintlik op die agtergrond skuif.
  • Ons verbintenisse, bewus en onbewus, aan die eintlike meesters wat ons meta-narratief, kan so slaafs wees dat daar eintlik nie meer plek vir bevraagtekening deur die groot Meester is nie. Die sluit ook die groot meesters van Pomoland in. Die oomblik wanneer daar so omgegaan word met die meta-narratief en sy meesters, het ons net 'n onvermydelike nuwe weergawe van "deur die geloof alleen", met ander woorde die implisiete nuwe gesagsbron van onfeilbaarheid. 

2015/05/26

Fundamentalisties, en jy?

Lakmoestoetse is nie vandag baie gewild nie. Die rede is dat dit die manier het om dwaasheid met een veeg van die tafel af te vee. Dit is, kla die beswaardes, so fundamentalisties met die waarheid en te enkelvoudig beredeneerd. Die vinnige reduksie tot die absurde was egter nog altyd 'n handige instrument om kaal keisers uit te ken. Oorweeg gerus die volgende geval waar Douglas Wilson hierdie metode toepas op postmoderne hermeneutici se verswygde fundamentalistiese bedrading. 

"If you want to find out who really runs the joint, find out who you are not allowed to apply a creative hermeneutic to. Nobody gets to read Supreme Court decisions the way they read the Constitution. If, for example, our august justices decide that the right to keep and bear arms means that we don’t really have the right to keep and bear arms at all, after a quick experiment you will
readily ascertain that you don’t get to read their decision taking away your right to keep and bear arms as meaning, actually, that you do get to keep and bear arms. And since you have come crashing up to the place where a simple grammatical/historical hermeneutic is required, and no funny business, you have identified your rulers.

Dit is werklik 'n vraag of sekere slimsotte in die wêreld van interpretasie nie met groter beslistheid aan die kaak gestel moet word nie. Volg gerus die geld, maar ook die eise van interpretasie, as jy aanspraakmakers op die kroon wil identifiseer. En ja, maak dit gerus 'n lakmoestoets. Dit bly een van die beste grappe oor postmoderne meerderwaardiges - dat hulle boeke en boeke oor hoordershermeneutiek kan skryf, en dan verwag dat ons dit met respek vir die outeur moet hanteer. Dit is baie na aan seker dat dit een van die sake gaan wees waaroor ons kinders se kinders hierdie huidige geslag gaan uitlag. Kom ons wees dan maar ons tyd vooruit en giggel nou al so 'n bietjie saam met ons toekomstige kleinkinders. Laat die glinstering in die oog ook glad nie ontbreek nie.