Wys tans plasings met die etiket Maroela Media. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Maroela Media. Wys alle plasings

2022/03/03

Oom Ches vir ons tyd

Maroela Media het hierdie stuk goedgunstig geplaas. Dalk kan dit 'n reeks word:

Sommige studente begin al meewarig glimlag as ek oom Ches vir die soveelste keer aanhaal. Ek praat nou van G.K. Chesterton, veelsydige Britse Joernalis (1874-1936). “Maar hy is dan Ingels”, hoor ek iemand sê, “en hy was Rooms-Katoliek”, voeg iemand anders ingelig by. My eerste antwoord is eenvoudig dat ons Heer se genade groter is as wat ons dink. En my verdere antwoord is dalk oorbekend: God het daarvoor gesorg dat mense hom nie verafgod nie, en hom daarom maar Engelsman en Rooms Katoliek gemaak. Maar hier is my troefkaart in Afrikaner-land. Chesterton was pro-Boer tydens die Anglo-Boereoorlog. 


Hy was die tipe man wat Boere nie sal omgee om oom Ches te noem nie, want sy hart was op die regte plek. En oom Ches had ’n baie besondere gawe: Hy kon en kan vistas vir jou oopbreek wat jy eenvoudig nie sien kom het nie. En hierdie gawe is so belangrik vir elkeen van ons wat hartlik stry om minder soos murmurerende Israeliete en meer soos positiewe Kalebs te leef. Dit is ook uiters belangrik vir ’n geslag wat blykbaar dink dat die huidige opvolge van 50 skakerings van grys na die donkerder en dierliker kant toe, die enigste fassinering is wat daar is, al roep die donker ook al hoe dieper in.