Wys tans plasings met die etiket ekonomie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket ekonomie. Wys alle plasings

2013/07/31

Die dors van jaloesie

Hier is nou 'n verklaring wat meer dinge verduidelik as wat ons dalk wil hoor. Dit help jou om 'n enigma te ontrafel. Dit is 'n raaiselagtige fenomeen wat nie net in SA manifesteer nie. Kyk egter dieper as net die voor die hand liggende toepassings in Suid-Afrika. Niemand van ons wil graag hoor dat jaloesie nader aan ons beginsels en stryde is as wat ons dink nie: "Thus it was precisely in those parts of France where there had been most improvement that popular discontent ran highest."

'n Boer in die Bothaville distrik het my vertel van sy ontnugtering toe hy opheffingswerk begin doen het op sy plaas, veral nadat hy 'n boer-van-die-jaar toekenning ontvang het. Die vakbond het skielik op hom toegesak en hy het meer probleme met sy werkers gehad as ooit tevore. Waarom? Bogenoemde artikel verduidelik die psigo-politiek ten grondslag van sulke tipe aksies.

Moet egter nie die drie vingers verbygaan wat terugwys nie. Die artikel toon aan hoe dieselfde saak ook in Frankryk plaasgevind het. Ook in Afrikaners se binnegevegte kan ons dieselfde motiewe vinnig ruik indien ons neuse oop is. Hoe meer mense dieselfde is, hoe meer begeer hulle dieselfde dinge en hoe makliker bots hulle ambisies. Enige volkstaat behoort hierdie feite deeglik te verreken. Die volgende vertaling uit die genoemde stuk moet dalk iewers gegraveer word:

2013/07/05

Mistasting oor gelykheid

Kom ons voltooi die mistasting trilogie met 'n derde aflewering wat ook wyer strek as ekonomie. Dit gaan oor die gebruiksfrekwensie van die woord gelyheid, meer bekend as "equality." Dit gebeur dikwels dat mense die woord in ons land gebruik om apartheid mee te demoniseer. Nou, ek dink nie dit is wys om enige tydperk uit die verlede te verheerlik as sonder sondesmet nie. Maar ek dink ook nie dit is goed om sonder nuansering en definisie die verlede te demoniseer nie. Die woord gelykheid word darem alte breedkwastig gebruik. Ilana Mercer herinner ons in haar onlangse besinning oor die Amerikaners se Independance Day aan iets wat baie meer gedebatteer behoort te word: Gelykheid voor die wet en gelykheid van regte was die oorspronklike bedoeling van die Amerikaners se onafhanklikheidsverklaring. Hulle wou dieselfde regte as die Engelse hê. Maar dit het nie terselfdertyd ook sosiale en ekonomiese gelykheid beteken nie. Dit vind geen ondersteuning in die politieke tradisie wat uit die Declaration of Independance voortgevloei het nie. Daar is wel 'n beweging wat hierdie saak verder wou laat strek, sê Mercer. Dit word die Franse Revolusie genoem. Hierdie onderskeid lyk vir my baie belangrik indien ons sinvoller wil gesels oor die verlede en hede van ons eie land.

2013/07/03

Mistasting oor zero-som denke

Indien jy die verduideliking wat volg aanvaar, kan jy nie meer op die ongekwalifiseerde beskrywing inkoop dat die rykes ryker en die armes armer word nie. Meer nog, dit is een van die beste maniere om vir mense soos ek en jy te help om van jaloesie op enige vlak vry te kom. Dat iemand anders met baie geseënd is, beteken nie dat ander nou net tevrede moet wees met wat oorbly nie. Nee, God se seën brei altyd uit en kan ook vir jou en my vul tot ons bekers oorloop. Dit sluit natuurlik baie, baie meer as ekonomiese voorspoed in. Ons behoort wel tevrede te wees met wat ons het (Heb. 13:5) en behoort ook moed te skep dat die Here diegene verhoog wat hulself onder sy kragtige hand verneder (1 Pt. 5:6). In my kerk sing ons 'n gesang met die volgende grootse woorde:

God neem die persoon die aan nie
Onderskeid, volk of tyd
God sien dit nie aan nie
Hy is ryk oor alle mense
wat Hom roep, wat hom soek
Sonder perk of grense

Ky nou met hierdie gesindheid na die denkfout wat in die insetsel aangetoon word:

Misgissing oor die gebreekte venster



2012/08/16

Denke van dankbaarheid

Net so 'n voorloop ietsie om die aptyt aan te wakker. Dr. Peter Leithart bied hierdie termyn 'n vak genoem "Gift and Gratitude" aan by die instelling waar ek klasloop. Dit maak deel uit van 'n boek wat DV volgende jaar gaan verskyn. Dink Seneca, dink Mauss en postmoderne filosowe soos Derrida se gissings wat uiteindelik aan die lewende Woord gemeet word. Leithart stel dat die basiese probleem met Descartes se cogito ergo sum (ek dink, daarom is ek) aanval was die hele basis waarvandaan dit lanseer is - twyfel in plaas van dankbaarheid. 'n Filosofie wat lanseer vanuit gawe en dankbaarheid, sê Leithart, sal heeltemal anders lyk. Dit het uiteindelik gevolge in elke uithoek, selfs in ekonomie en politieke filosofie. 'n Mens wonder byvoorbeeld of Heidegger iets, let wel, nie alles nie, beethad toe hy gestel het: denken ist danken. Sekere dramas van Shakespeare (bv. King Lear) toon trekke dat hy Seneca gelees het en wys hoe spanning ontketen wanneer gawe en opgawe nie in gepaste interaksie dans nie. Gehoek? Ja, hoe kan dit anders as ons die eggo's van genade in hierdie mymeringe hoor. Genade-denke behoort mos te resoneer met dankbaarheid en nie met dankbarheid nie. Ek hoop om van tyd tot tyd 'n paar klasnotas hier te deel. 

2011/10/13

Armoede: 'n stap in die regte rigting

Die Acton Instituut het onlangs in samewerking met verskeie organisasies 'n internasionale veldtog van stapel gestuur om die alternatief te bied op sovele inisiatiewe wat armoede wil verlig, maar eintlik die teendeel bewerk. Gaan gerus na PovertyCure se webwerf vir meer inligting. Hier is 'n insetsel wat hul basiese doelstellinge verduidelik. Ek het nie alles in detail gelees nie, maar dit lyk ten minste na 'n stap in die regte rigting.