Wys tans plasings met die etiket Mattheus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Mattheus. Wys alle plasings

2025/09/12

Rus vir vermoeides

Lees: Mat. 11:25-30

Boodskap vir kinders: Die Here Jesus roep elkeen wat swaar kry om by Hom ware rus te vind.

Oorsig: Hoe onbegryplik moes dit nie gewees het om die Here Jesus in sy aardse bediening te beleef nie. En tog, baie stede waarin baie van sy prediking en wonders en tekens plaasgevind het, het dit nie ter harte geneem en hulle bekeer nie. Dit is ook ’n waarskuwing vir ons oor wat ons sal maak met die lewende Christus in ons midde. Onthou, deur sy Gees is Hy ook in ons midde waar twee of drie in sy Naam vergader is. En hoe meer lig ons ontvang, soos Betsaida en Kapernaum destyds wat Hy verantwoordbaar daarvoor gehou het, hoe groter is ons verantwoordelikheid.

Ons lees dat die Here Jesus na sy waarskuwing aan stede soos Betsaida en Kapernaum, ter afsluiting ’n gebed bid. Dit is een van net ’n paar gebede van die Here Jesus wat ons op skrif het. Ons lees dat die Here Jesus begin het deur die Vader (let wel), te loof dat Hy sy werk verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het (v.25). Dit was die Vader se behae om dit so te doen en die Here Jesus loof die Vader daarvoor wanneer Hy verwys na sekere stede se verwerping (v.26). En dan lees ons dat die Here Jesus weer met die mense praat. Hy wys daarop dat alles (let wel) aan Hom oorgegee is deur die Vader en dat niemand (let wel) die Seun ken nie, behalwe die Vader. Verder ken ook niemand (let wel) die Vader nie, behalwe die Seun, en elkeen (let wel) aan wie die Seun dit wil openbaar (v.27).     

En dan roep die Here Jesus, op grond van sy geweldige uitspraak, dat die mense wat nood het, na Hom toe moet kom: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is.” Hy gee ’n wonderlike belofte aan sulke mense: “en ek sal julle rus gee.” (v.28). Hy roep sulke mense verder op om sy juk op hulle te neem en van Hom te leer. ’n Juk is gebruik om beeste in te span vir werk en die verkeerde juk of jukgenoot kon jou baie uitput. Maar die Here Jesus wys daarop dat Hy sagmoedig en nederig van hart is (vgl. Num. 12:3) en dat hulle (en ons) rus vir hulle siele (psiges) sal vind by Hom (v.29). Die rede: Sy juk is sag en sy las is lig (v.30). Dit beteken dat dit nie onuithoudbaar hard is om die juk van Jesus Christus te dra nie. By Hom vind ons dat dit soms moeilik gaan, maar die rus bly en die juk is tog sag en die las lig te midde van moeiliker dae. En bowe-al is daar rus, wat twee maal in die gedeelte genoem word (v.28,29). In die ou verbond is van rus  gepraat as die ou paaie van God se verbond en die beloofde land as God se uiteindelike rus (Ex. 33:14; Jer. 6:16). Die Here Jesus is nou die vervulling daarvan.               ERE sy regsaak sal verdedifg en voeg dan b       

Besprekingsvraag: Wat is die verskil in kenmerke hier tussen die getroues en die ontroues?

Insig: Twee maal hoor ons in hierdie gedeelte oor ware rus (v. 28,29). Dit is waarna ons smag te midde van soveel redes tot onrus in hierdie wêreld – siektes, konflik, geldprobleme, onvervulde verlangens, oorloë, aanvalle, dreigings, skuldgevoelens, angs en vrees. En tog, wanneer die groot antwoord op al hierdie sake, Jesus Christus, in Israel begin optree reageer nie almal positief nie. Hy genees siekes, dryf demone uit, en openbaar sy mag oor die natuur as tekens van God se koninkryk en dat alles aan Hom oorgegee is deur die Vader, maar daar is diegene soos Betsaida en Kapernaum wat meer sien, meer lig ontvang, en tog hulle nie bekeer nie. Waarom nie? Twee redes vanuit verskillende hoeke word hier gegee. 

2025/05/23

Die groot Geneesheer en jy

Lees: Mat. 9:9-13

Gedagte vir kinders: Vir mense wat weet hulle het sonde, is dit goeie nuus dat Jesus Christus die groot Geneesheer is.

Oorsig: Ons lees hier te midde van die wonderwerke van die Here Jesus, hoe dat Hy een van sy apostels geroep het en dat dit ’n strydvraag laat ontstaan het. Hier verwys Mattheus na homself en hoe die Here hom geroep het. In die ander evangeliebeskrywinge word hy met sy ander naam, Levi genoem, maar Mattheus verkies hierdie naam. Wat sy motief was, weet ons nie, maar dit help ons om hom met albei sy name te identifiseer. In daardie tyd het mense dikwels met twee name bekend gestaan.

Mattheus vertel dat die Here hom by die tolhuis sien sit het (v.9). Mattheus was dus ’n tollenaar en hulle het ’n baie slegte naam by die Jode gehad. Die rede is dat hulle Herodes Antipas en die Romeine gehelp het om die belasting by hulle eie volk te hef, en boonop hulself in die proses verryk het. Hulle is daarom deur die volk as verraaiers beskou. En tog, die Here Jesus sien hom en sê: “Volg my.” En dan hoor ons dat Mattheus eenvoudig opgestaan en Hom gevolg het (v.9). Direk daarna hoor ons van ’n huis, Mattheus s’n (Luk. 5:29) waarby Jesus aan tafel was en dat daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel gegaan het (v.10). Dit klink soos ’n fees, maar vir Jode het dit beteken dat jy daar onrein sal word en boonop eet saam met mense met wie jy innige bande het. Die Fariseërs, een van die strengste groepe onder die Jode oor die onderhouding van die wet, het dit so gesien en toe nie vir Christus nie, maar vir die dissipels gevra waarom Hy eet saam met tollenaars en sondaars (v.11).       

Toe die Here dit hoor, het hy vir hulle gesê dat die wat gesond is nie die geneesheer nodig het nie, maar die wat ongesteld is (v.12). Hy het ook verder vir hulle gesê dat hulle moet gaan leer wat die volgende woorde in die Ou Testament in Hosea 6:6 beteken: “Ek wil barmhartigheid hê en nie offerhande nie.” Hy het toe verder gegaan en gesê dat Hy nie gekom het om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering (v.13). Daardeur het die Here twee dinge duidelik gemaak: (1) Hy het nie gereken dat alles wel was met die tollenaars en sondaars nie. Sy doel was daarom genesing wat bekering insluit, soos Hy ook vanaf die begin van sy bediening geleer het (vgl. Mat. 4:17). Dit was (2) ook uit sy woorde duidelik dat net mense wat besef hulle is sondaars en nie reg met God nie,  sy oproep sal hoor om hulle in sy Naam te bekeer.      

Besprekingsvraag: Wat is die verband hier tussen genesing en bekering en sonde?

Insig: Mattheus word net soos ander apostels vroeër, geroep by dit wat sy beroep geword het (vgl. Mat. 4:18-22). Dit is asof die woorde van die Here Jesus met kernkrag sy hart oopmaak as Hy ook vir Mattheus soos die ander dissipels sê: ‘’Volg My.” Iewers behoort elke kind van God ook die persoonlik hierdie roepstem van Christus te hoor. Sy roeping hier het implikasies en leer dat dissipels dikwels moet afsien van die sonde, maar ook van die bekende en van gemaksones. Mattheus was as tollenaar ’n welgestelde man met onder meer ’n huis en onthaalfasiliteite wat hy moes prysgee, maar Christus se roeping was ’n bevrydende oproep weg van die tolhuis en van tollenaar en verraaier en swendelaar en om sonder morele kompas by sy eie volk te wees.

Die wonder is dat hierdie verraaier van sy volk  dissipel en apostel word, ja selfs instrument om een van die geliefde Bybelboeke vir ons na te laat. Dit laat ons besef: As God roep, kyk Hy nie na jou prestasies of sondes vir kwalifikasie nie. Hy roep nie die wat kwalifiseer nie, maar gee eerder sy kwalifikasie aan die wat Hy roep. 

2025/02/15

Verlos van jou grootste verdrukking

Lees: Mattheus 1:18-25 

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is waarlik God en waarlik mens.

Oorsig: Mattheus begin sy evangelie met ’n geslagsregister van Jesus wat Christus genoem word (1:1,16). Hy toon aan dat Jesus na sy mensheid aan sy wettige (nie-biologiese) vader op aarde se kant, uit die geslag van Abraham en Dawid is aan wie die groot beloftes oor die Messias gemaak is. Daarna vertel hy ons oor die geboorte van Jesus Christus. Hy wys daarop dat Maria swanger was deur die Heilige Gees toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, maar voordat hulle saamgekom het in die huwelik (v.18). In daardie dae was ’n verlowing die eerste wettige stap in die sluiting van ’n huwelik, maar hulle het nog nie saamgebly nie. Dit het eers na die tweede wettige stap gebeur. Ons kan ons daarom indink wat Josef moes gedink het toe Maria swanger reeds was. Daar kon tog net een rede wees: Iemand anders het by haar geslaap.

Josef was ’n regverdige man en volgens die Ou Testament moes hy sulke ontrouheid nie aanvaar het nie en kon hy skei (vgl. Deut. 22: 13-24). Maar hy was regverdig en barmhartig en wou dit nie ’n openbare saak maak nie en wou in die geheim van haar skei (v.19). Hy het so die risiko loop dat mense sou dink dat hy dalk die slegte man was wat nie sy verantwoordelikheid aanvaar nie. Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees.” (v.20) Die engel het verder gesê dat sy ’n seun sal hê en dat Josef hom Jesus moes noem. Dit is die Griekse naam vir Josua wat beteken “die Here verlos”. Die Engel het verder verduidelik dat Jesus sy volk van hulle sonde (let wel) sal verlos (v.21). 

Mattheus verduidelik dan dit alles gebeur het sodat die woord uit Jes. 7:14 (uit die Griekse vertaling, die Septuaginta, die LXX) vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal hom Emmanuel noem. Dit beteken, as dit vertaal word: God met ons (v.22-23). Toe Josef uit die slaap uit wakker geword het, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem (v.24). Dit het beteken dat die mense sou skinder oor die mense wat ’n kind gehad het voordat hulle huwelik verseël is. Hy het egter nie by haar geslaap en intiem verkeer totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie. En hy het Hom Jesus genoem, soos hy beveel is (v.25).    

Besprekingsvraag: Wat leer hierdie gedeelte ons oor wie die Christus van die Skrifte is?

Insig: Hierdie agt verse is gelade met lering oor wie Jesus Christus is en wat Hy kom doen het. Dit gaan oor die vleeswording, ’n wonder wat ons verstand te bowe gaan. Een kommentator (Platt) noem hierdie wonder tereg die grootste wonder in die hele Bybel en die grootste misterie in die heelal. Want wat kan meer verstommend wees as dat God mens geword het in Jesus Christus? Dit is die belangrike basis wat ons help om sin maak van waarom Jesus Christus so belangrik, so onopgeefbaar, so onvervangbaar is. 

2023/11/23

Skape en bokke voor die Troon

Lees: Mt. 25:31-46

Gedagte vir kinders: Jesus Christus gaan eendag oor almal oordeel.

Oorsig: Die Here Jesus het net voor sy kruisiging die mense in sy profetiese rede geleer dat ons voorbereid moes wees op sy wederkoms deur die gelykenis van die tien maagde (25:1-13). Hy het ook geleer dat ons die geleenthede en gawes wat die Here gegee het, moet gebruik vir sy koninkryk totdat Hy weer kom deur die gelykenis van die talente (25:14-30). In hierdie gedeelte, sy laaste profetiese rede, leer Hy wat eenmaal aan die einde sal gebeur as Hy die hele wêreld oordeel.

Wanneer Hy, die Seun van die mens, in sy  heerlikheid kom en die heilige engele saam met Hom, sal Hy op sy heerlike troon gaan sit (v.31). Wat ’n gesig sal dit nie wees nie! Dink net: Jesus Christus in al sy heerlikheid met die oordeel wat die Vader in sy hande gegee het. Boonop al die heilige engele saam met Hom en Hy op sy heerlike troon. Geen aardse heerlikheid kan ooit daarmee vergelyk word nie, en die hele wêreld sal almal sal buig voor Hom. Voor Hom sal al die nasies versamel word en hy sal hulle van mekaar afskei soos wat die herder skape (aan sy regterhand) en bokke (aan sy linkerhand) van mekaar afskei (v.32-33). Dan sal die Koning vir die aan sy regterhand sê: Kom, geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Hy sal hulle dan daarop wys dat hulle aan Hom barmhartigheid bewys het: Kos en drinkgoed, huisvesting en klere, en besoeke tydens siekte en gevangenisskap (v.34-36). Die regverdiges sal dan verbaas vra waar hulle dit gedoen het en die Koning sal antwoord: Voorwaar Ek se vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van my geringste broeders, het julle dit aan My gedoen (v.37-40).

Dan sal Hy ook aan die aan sy linkerhand sê om van Hom weg te gaan, as vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. En dan sal Hy hulle wys op hulle gebrek aan barmhartigheid teenoor die geringes wat aan Hom behoort: Geen kos of drinkgoed, huisvesting of klere, of besoeke tydens siekte of gevangenisskap nie (v.41-43). Hierdie mense sal verbaas vra waar hulle dit nie gedoen het nie en die Koning sal dan antwoord: Voorwaar Ek se vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van die geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen het nie. Die Here Jesus het toe verder gegaan en gesê dat sulke mense sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe (v.44-46).   

Besprekingsvraag: Waarom is geseëndes en vervloektes hier beide onbewus van hul dade?

Insig: Ons het hier die laaste boodskap van Jesus Christus voordat Hy gevange geneem is om gekruisig te word. Hy wys ons op die einde en dit wat berei is van die grondlegging van die wêreld af. Die gesig is onvergeetlik: Eenmaal sal Jesus Christus in al sy heerlikheid kom en op sy heerlike troon gaan sit voor die oë van al die nasies. Laat hierdie beeld helder voor ons gees bly. Hy is die sin en doel van die geskiedenis - die Een op wie alles uitloop. Dan sal daar net twee groepe uit al die nasies voor Hom wees: geseëndes en vervloektes.

2023/11/17

Twee visies op God en die lewe

Lees: Mt. 25:14-30

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om ons talente vir Hom te gebruik. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus die gelykenis van die vyf dwase en verstandige maagde vertel het, het Hy nog ’n gelykenis vertel om dit verder te verduidelik: Daar was ’n man wat op reis sou gaan en hy het sy diensknegte geroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Aan die een het hy vyf talente gegee en aan ’n ander een twee, en aan ’n ander, een talent. ’n Talent was meer as 6000 maal meer as ’n dagloon werd (Dus in 2023 ongeveer 5 x 6000 x R300 = R9 000 000). Hy het aan elkeen volgens hulle vermoë gegee. En toe het hy dadelik op reis gegaan (v.14-15). Die een met vyf het toe daarmee gaan werk en vyf ander talente verdien en die een met twee het net so twee ander verdien. Maar hy wat een ontvang het, het dit in die grond begrawe en die geld van sy heer weggesteek sodat dat niemand dit kon steel nie (v.16-18).

Na ’n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en verslag gevra van sy werkers. Die een wat vyf talente ontvang het, kom toe en bring die vyf ander talente wat hy daarby verdien het. Die heer het vir hom gesê: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in om deel te wees van die blydskap wat jou heer (v.19-21). Net so het die een wat twee talente ontvang het, verslag gedoen van die twee talente wat hy daarby verdien het. Die heer het vir hom toe letterlik presies dieselfde woorde gesê as vir die een wat vyf talente by sy vyf ander verdien het (v.22-23).   

Toe kom die een wat een talent ontvang het ook en sê: Meneer, ek het u geken en geweet dat u ’n harde (sterk) man is wat (kan maak wat u wil en wat) oes waar u nie gesaai het nie en kan bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie. Dit het my bang gemaak, en ek het gegaan en die talent in die grond (veilig) weggesteek. Hier is dit dan nou terug wat aan u behoort (v.24-25). Maar die heer het geantwoord: Jou slegte en lui dienskneg. As ek dan oes waar ek nie gesaai het nie en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie, moes jy moes my geld eerder by die wisselaars gegee het sodat ek by my koms rente sou ontvang (v.26-27). En toe het die eienaar gesê dat hulle die talent moes wegneem en gee aan die een wat tien talente het. Hy het gesê dat aan elkeen wat het, gegee sal word en oorvloed sal hê; maar van hom wat nie het nie, weggeneem sal word ook wat hy het (v.28-29). Hy het verder beveel dat hulle die nuttelose dienskneg moes uitwerp in die buitenste duisternis waar daar groot verwyt sal wees - ’n geween en gekners van tande - omdat dit vir altyd te laat sal wees (v.30).

Besprekingsvraag: Watter twee visies op God en die lewe vind ons hier?

Insig: Ons sien hier twee soorte reaksies wanneer mense voor God sal staan. In die vorige gelykenis is die verdeling helfte-helfte; hier is dit twee derdes teen een derde. Dit is belangriker dat die twee soorte reaksies hier uitgeken word. Twee diensknegte kom met vrymoedigheid voor die meester te staan en is selfs opgewonde oor die vrug van hul hande en dit eindig in vreugde. Hoe wonderlik sal dit nie wees om op die laaste dag so voor Hom te verskyn nie! Die ander een kom met vrees en met verskonings en bedekte verwyte. Kom ons kyk in groter diepte na hierdie twee benaderings tot God en die lewe en hul eindbestemmings.

2023/11/13

Voorbereid vir die Bruidegom

Lees: Mt. 25:1-13

Gedagte vir kinders: Ons moet elke dag gereed wees om die Here Jesus te ontmoet.

Oorsig: Ons lees in Mattheus 24 dat die Here Jesus weer kom, in die geskiedenis en uiteindelik met die wederkoms. Vanaf die einde van hoofstuk 24 en in die hele hoofstuk 25 lees ons spesifiek dat Hy sal oordeel en hoe ons daarop voorbereid kan wees. Die Here vertel aan die begin van hierdie hoofstuk hoe die koninkryk van God eenmaal sal wees. Dit sal wees soos tien jongvroue (maagde: simbool van rein lewens) wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet (v.1). In daardie dae het die ongetroude bruidsmeisies saam met die bruid by baar huis gewag vir die bruidegom om haar te kom haal. Dan het almal feestelik saam beweeg na die bruidegom se tuiste waar die huweliksfees gehou is.   

Onder hierdie tien jongvroue was vyf verstandig en vyf dwaas (v.2). Die rede was dat die dwase maagde geen olie met hulle saamgeneem het wat kon help dat die lampe langer sou brand  as die bruidegom nie dadelik kom nie. Die verstandige meisies het wel ekstra olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem (v.3-4). En toe die bruidegom talm om te kom, het almal van hulle vaak geword en aan die slaap geraak (v.5.). Teen middernag het daar ’n uitroep gekom: “Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!” (v.6)

Toe staan al daardie jongvroue op en maak hulle lampe gereed (v.7). Die wat dwaas (onverstandig) was, het toe aan die verstandiges gesê: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe is besig om dood te gaan (v.8). Die verstandiges het toe geantwoord: Miskien is daar dan nie genoeg vir ons almal nie. Gaan julle liewers na die verkopers en koop vir julleself (v.9). Dit was nie noodwendig selfsugtig nie, want hulle kon ook gedink het aan die Bruidegom en watter oneer dit sou wees as almal se lampe doodgaan voordat die verrigtinge klaar is. Dit was ook moontlik om ekstra olie te gaan koop in die nag, al sou dit wel tyd neem.

Terwyl die vyf jongvroue egter gaan om te olie te koop, het die bruidegom toe wel gekom. Die wat gereed was, het toe saam met die bruidegom ingegaan na die bruilof en die deur is gesluit (v. 10). Later kom die ander jongvroue toe ook daar aan en vra: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar Hy het geantwoord en gesê: Voorwaar, ek sê vir julle, ek ken julle nie (v.12). En toe het die Here Jesus die gelykenis vir hulle toegepas: Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens (Jesus Christus) kom nie (v.13). 

Besprekingsvraag: Hoe sorg ons dat ons voorbereid is vir die Bruidegom?

Insig: Hierdie gedeelte leer ons oor twee van die groot leerstellings van die Kerk van Jesus Christus: Die laaste dinge (eskatologie) en die leer van die volharding van die heiliges. 

2023/11/07

Oor egte en slegte kerkleiers

Lees: Mt. 23:1-12

Gedagte vir kinders: Kerkleiers het gesag, maar kan ook dien soos die Here Jesus.

Oorsig: Nadat die leiers opgehou het om die Here Jesus in sy laaste week voor sy kruisiging met woorde uit te vang, het Hy swaar woorde van oordeel oor valse godsdienstige leiers en valse godsdiens uitgespreek tesame met sewe wee-uitsprake. Aan die begin van Mattheus leer die Here ons in ons in die bergpredikasie hoe om te leef. Nou sluit Hy sy aardse bediening af deur te waarsku hoe ons nie moet leef nie. Ons lees dat hy spesifiek met sy dissipels gepraat het oor die skrifgeleerdes (hulle wat aangestel is om die mense God se wet te leer) en die Fariseërs (hulle wat die God se Woord ernstig opgeneem, maar tog hul eie tradisies swaarder as die Woord laat weeg het). Hierdie mense het op die stoel van Moses gesit en dit beteken dat hulle sy gesagsposisie ingeneem het oor wat God  se wil en dit wat Hy beveel (v.1-2).

Die Here Jesus het gesê dat hulle alles moes doen wat die leiers sê, maar dat mense nie soos hulle net moes praat, maar nie doen nie (v.3). Hulle het die wet swaar en moeilik gemaak en op mense se skouers geplaas, maar dit self nie eens met hulle vingers aangeraak nie (v.4). Hulle het al hul werke ook eintlik net gedoen om deur die mense gesien te word. Daarom het hulle gedenkseëls (gebedsboksies en bande) breed gemaak en groot some vir hulle klere wat moes wys dat hulle met die Here wandel (vgl. Ex. 13:9,16; Dt. 6:8). Hulle wou dus uitstaan deur uiterlike kenmerke (v.5). Hulle het ook gehou van die voorste plekke by die maaltye en voorste sitplekke in die sinagoges (v.6). Verder het hulle ook van die begroetinge op die markte gehou en om deur die mense rabbi, rabbi (my grote, my grote) genoem te word (v.7).

Die Here Jesus het toe vir sy dissipels geleer om heeltemal ’n ander gesindheid uit te leef. Hulle moes nie daarin belangstel om hulself met ’n titel soos rabbi te laat noem nie, omdat Christus hulle enigste Leermeester is en hulle almal broeders. Hulle moes ook niemand op die aarde hulle geestelike vader noem nie, want daar is net een en dit is die Vader in die hemele. Hulle moes hulle ook nie leermeesters (kathegetes: persoonlike gids/meester) laat noem nie, omdat net Jesus Christus dit is. Daarteenoor moes die grootste onder hulle eerder die dienaar van almal wees. Wie homself daarom wou verhoog sou verneder word en wie homself verneder, sou verhoog word.       

Besprekingsvraag: Hoe kan leiers tegelyk gesagvol, maar ook diensbaar wees?

Insig: Die Here Jesus lei sy sewe wee-uitsprake teenoor die valse kerk en sy leiers hier in met ’n basiese kontras: valse teenoor egte godsdienstige leiers.

2023/10/26

Ons is gemaak om lief te hê

Lees: Mt. 22:34-46

Gedagte vir kinders: Die Here het ons gemaak om Hom baie lief te hê en ook ons medemens.

Oorsig: Nadat die Here Jesus die tempel gereinig het en die volgende dag die volk weer deur gelykenisse geleer het, het die leiers van die volk Hom probeer vang met sy eie woorde. Hulle het drie vrae (soos satan aan die begin) vir Hom gevra: oor (1) die verhouding met die regering (v.15-22), (2) die lewe na die dood (v.23-33), en (3) die grootste gebod in die wet (v.34-40). Daarna het Hy hulle die belangrike vraag gevra oor die identiteit van die ware Messias (v.41-46). Hier fokus ons op hulle derde groot vraag en daarna sy belangrike opvolgvraag.

Die Fariseërs (Bruner: die suiweres) het gehoor dat die Here Jesus die Sadduseërs (Bruner: die gesofistikeerdes) se monde gesnoer het en toe almal saam teen Hom vergader. Een van hulle wat ’n wetgeleerde was, het Hom toe met ’n vraag probeer vastrek: Hy het gevra: Meester, wat is die grootste gebod in die wet? (v.34-36). Hierop het die Here Jesus die wetgeleerde geantwoord dat jy die Here jou God (let wel) moet liefhê met jou hele hart (die setel van jou menswees) en met jou hele siel (jou diepste menswees) en met jou hele verstand (jou denkende menswees). Dit is die eerste en groot gebod. Die tweede wat hiermee gelykstaan is dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Hiermee het die Here Jesus gebruik gemaak van Deut. 6:45 en Lev. 18b. Hy het toe gesê dat aan hierdie twee gebooie die hele wet (die eerste deel van die Ou Testament) en die profete (die tweede deel van die Ou Testament) hang (v.37-40). Dit beteken dat die hele Bybel van hierdie liefde tot God en jou naaste afhang.

En toe die Fariseërs saamgekom het, het die Here Jesus ook vir hulle ’n vraag gevra. Daarmee het Hy vir hulle ook gesê dat hulle die belangrikste vraag nog nie gevra het nie. Hy het hulle gevra wat hulle van die Messias (Grieks: Christus) dink en spesifiek wie se seun die Messias is. Hulle het geantwoord dat die Messias uit Dawid is (v.41-42). En toe vra Hy vir hulle waarom Dawid dan in Ps. 110: 1 in die Gees hierdie Messias Here noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete? (v.43-44) Hy het dit verder verduidelik en gevra dat as Dawid die Messias dan Here noem, hoe kan hierdie Messias bloot sy seun (nageslag) wees. Niemand kon Hom daaroor antwoord nie (vandag weet ons dat dit was omdat Jesus ook God is). Hulle het toe ook nie meer gewaag om Hom vrae te stel voordat Hy gevange geneem is nie (v.45-46).

Besprekingsvraag: Wat beteken dit dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself?

Insig: Die Here Jesus verdiep en gee fokus aan die eenvoud van God se wil vir ons lewe. Ons is gemaak om geliefd te wees en lief te hê. Maar dan moet hierdie liefde reg begryp en begrond word. Die fokus op God staan sentraal (m.b.t tot die staat en dood vooraf en hier m.b.t. die naaste). Naasteliefde raak gou sentimenteel wanneer dit nie in God begrond bly nie. Die tien gebooie (God se wil) bly daarom ook die konkretisering van die liefdesgebod (Prof. Paul De Bruyn). Maar die liefde tot God hang ook nie in die lug nie. Die liefde tot die naaste is (1) die geleentheid, (2) die toets en (3) die voertuig van die liefde tot God wat in ons lewens oorloop (vgl. 1 Joh. 4:20). Vertikale en horisontale liefde veronderstel mekaar altyd.

2023/10/25

Oor die reg en grense van owerhede

Lees: Mt. 22:15-22

Gedagte vir kinders: Wees gehoorsaam aan die regering, maar nog meer aan jou God.

Oorsig: Nadat die Here Jesus die tempel gereinig het en die volgende dag die volk weer deur gelykenisse geleer het, het die leiers van die volk Hom probeer vang met sy eie woorde. Hulle het drie vrae vir hom gevra en daarna het Hy aan hulle een vraag gevra. Hierdie vier sake is vandag nog belangrik. Dit gaan oor (1) ons verhouding met die regering (v.15-22), (2) die lewe na die dood (v.23-33), (3) die belangrikste sake in God se wet (v.34-40), en (4) die identiteit van die ware Messias (v. 41-46). Hier fokus ons op die eerste saak in vers 15 tot 22.  

Die Fariseërs, die mense wat streng volgens hulle tradisie, die mense aan die wet van God gehou het, het by mekaar gekom (saam raad gehou). Hulle het saam beplan hoe hulle dIe Here Jesus met sy eie woorde kon vasvang in ’n slagyster (verstrik; v.15). Toe het hulle hul dissipels (let wel) met ’n plan na die Here Jesus gestuur, saam met Herodiane. Die Herodiane was mense wat die koningskap van Herodes gesteun het, alhoewel Herodes eintlik ’n koning uit die geslag van Esau (Edomiet) was en nie uit die geslag van Dawid nie. Herodiane het met die Romeinse regering saamgewerk en meer na hul eie mag gekyk as na die Woord van God. Nou het hierdie twee verskillende groepe, Fariseërs en Herodiane wat eintlik min met mekaar saamgestem het, ’n gemeenskaplike teenstander gehad. Die skrikwekkende was dat hulle saamgespan het in hulle vyandigheid teen die Here Jesus (vgl. Ps. 2). Hulle het toe saam na Christus gegaan en begin met vleitaal. Hulle het Hom Meester genoem en gesê dat hulle weet dat Hy (1) waaragtig is en (2) die weg van God in waarheid leer, (3) en Hom aan niemand steur nie, omdat Hy (4) nie die persoon van mense aansien nie (v. 15-16). En toe kom hulle strikvraag: Wat dink U: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie (v.17).      

Die Here het egter hulle boosheid (let wel) bemerk (v.18) en vir hulle gesê: “ Julle skynheiliges, waarom versoek julle my? Wys vir my die belastingmunt.” Hulle het toe vir Hom ’n penning gebring (v.19) en toe het Hy vir hulle gevra wie se beeld en opskrif op die geldstuk is (v.20). Hulle het geantwoord dat dit die van die keiser was. Daarop het Hy vir hulle gesê: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom (v.21). Toe die mense dit hoor, was hulle verbaas en het Hom verlaat en weggegaan (v.22).  

Besprekingsvraag: Watter twee sake moet ons oor die regering gelyktydig handhaaf?

Insig:  Die verhouding tussen Kerk en staat is iets waaroor Christene hulself telkens moet verantwoord. Op briljant eenvoudige wyse leer ons Here ons hier twee basiese dinge oor die staat, ook die heidense staat. Hou ingedagte dat dit hier spesifiek gaan oor kolonisering en die gekoloniseerdes en al die emosie oor belasting wat daarmee saamgaan. Wanneer ons bepaalde voordele gebruik wat die owerheid daarstel, kom (1) sekere belasting hulle toe. Andersyds het hulle (2) bepaalde beperkings.

2023/10/12

Kom, en trek jou bruilofskleed aan!

Lees: Mt. 22:1-14

Gedagte vir kinders: ’n Mens kan nie met jou vuil klere by God se fees opdaag nie.

Oorsig: Die Here Jesus het in die laaste week voor sy kruisiging, daar by die tempel, nadat Hy dit gereinig het, drie gelykenisse vertel. Daarin het Hy hulle geleer oor God se koninkryk en wie Hy daarin is. Na twee gelykenisse oor ’n wingerd het hy toe een vertel van die koninkryk wat is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het (v.1-2). Hierdie koning het sy dienaars uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie (let wel) kom nie. Die koning was egter so besonders dat hy weer ander dienaars uitgestuur het met ’n boodskap wat dit nog duideliker uitspel: “Kyk, my ete het ek berei en my beeste en vetgemaakte diere is geslag en alles is nou gereed. Kom na die bruilof.” (v.3-4; vgl. Jes. 25:6-10).

Maar die genooides het egter baie vreemd teenoor die koning se diensknegte opgetree. Hulle het hulle nie aan die boodskap gesteur nie en weggegaan, die een na sy eie stuk land en ’n ander na sy besigheid (handelsaak). Erger nog, die wat nie weggegaan het nie, het die diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak (v.5-6). Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars doodgemaak en hulle stad aan die brand gesteek (v.7). En toe het hy vir sy diensknegte gesê: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan nou op die kruispaaie (waar baie mense verby beweeg) en nooi almal wat julle mag vind na die bruilof (v.8-9).       

Die dienaars het toe uitgegaan op die paaie en almal bymekaar gemaak wat hulle gevind het, die slegtes sowel as die goeies, en so het die saal van die bruilof vol gaste geword het (v.10). Maar ook daar het iets gebeur wat nie reg was nie. Want toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy een wat nie soos die ander gaste bruilofsklere aan het nie (v.11). Dit het glad nie gepas nie. Die koning het die man selfs toe eers vriend genoem en gevra wat fout is en hoe hy kon inkom by die saal sonder ’n bruilofskleed. Die man kon egter niks antwoord nie, want hy was skuldig. Toe het die koning vir sy dienaars gesê om sy hande en voete te bind en dat hy weggeneem moes word en in die buitenste donker (duisternis) gegooi moes word. Die Here Jesus het toe verder sy bekende waarskuwende woorde oor spyt wat te laat kom, hierby gevoeg: “Daar sal geween wees en gekners van die tande.” En toe het Hy ook ander woorde bygevoeg wat Hy al voorheen uitgespreek het om mense te vermaan om seker te maak dat hulle hoor, maar ook glo en doen: Baie is geroep, maar min is uitverkies (v.12-14).

Besprekingsvraag: Watter verskillende soorte afwysings van die Koninkryk vind ons hier?

Insig: Hierdie derde gelykenis sluit by die voriges aan om ons te leer oor die Koninkryk van God. Ons het reeds verneem dat dit werk in die wingerd en vrugdra beteken. Dit beteken hier ook feestelikheid by God se bruilof, en dat mense die diepste blydskap en innige gemeenskap met God en sy Seun deur sy Gees mag ken.

2023/10/06

Poging tot Godmoord

Lees: Mt. 21:33-46

Gedagte vir kinders: Elkeen wat Jesus nie erken as God se Seun nie, sal verpletter word.

Oorsig: Die Here Jesus het daar by die tempel in die laaste week voordat Hy gekruisig is, ná sy gelykenis oor twee verskillende seuns in ’n wingerd, nog ’n gelykenis oor ’n wingerd vertel. Daar was ’n sekere eienaar (huisheer) wat ’n wingerd geplant het. Hierdie eienaar het baie gedoen om die wingerd te beskerm en op te bou. Hy het ’n heining daarom gesit, en ook ’n parskuip gegrawe waar die wyn gepers kon word, en ook ’n wagtoring sodat dit bewaak kon word. En toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan (vgl. Jes. 5; Ps. 80:8-20; Hoogl. 8:11-12). En toe kom die oestyd van die vrugte nader en hy het sy diensknegte gestuur na die landbouers om sy deel van die vrugte te ontvang (v.33-34). Die landbouers het egter iets baie vreemd gedoen. Hulle het die een geslaan en ’n ander doodgemaak, en ’n ander gestenig (vgl. 1 Kon. 18:13; 22:27; 2 Kr. 24:20 e.v.; 36:16; Jes. 66:5; Jer. 20:2; 26:11; Op. 16:6). Toe hy meer diensknegte stuur, moontlik om groter gesag daaraan te gee, het hulle steeds so gemaak (v.35-36). Laaste het Hy sy eie seun gestuur en gesê dat hulle hom darem sou uitlos en respekteer. Maar selfs toe het hulle eerder geredeneer dat dit die erfgenaam is en hulle hom net moet doodmaak en so die erfdeel self sal kry. Hulle het toe die seun buite die wingerd gegooi (uitgewerp) en doodgemaak (v.37-39). Hy het hulle toe gevra wat die eienaar sou doen. Hulle het geantwoord dat hy die slegte mense ’n slegte dood sou laat sterwe en die wingerd aan ander sou verhuur wat die vrugte op die regte tyd sal gee (v.40-41).

En toe het die Here Jesus na die Woord van God in Ps. 118:22-23 gewys waar daar staan dat die steen wat die bouers verwerp het, ’n hoeksteen geword het, dat dit van die Here gekom het en wonderbaar was in gelowiges se oë. Toe het Hy vir hulle verduidelik dat die gelykenis en hulle oordeel op hulleself van toepassing is. Die Koninkryk van God sou van Israel se leiers weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sou dra (v.42-43). Elke ongelowige wat op hierdie steen van God val, sal verpletter word, maar elke valse leier op wie hierdie steen val, sou vermorsel word. Die owerpriesters en Fariseërs het duidelik verstaan dat Hy van hulle praat. Hulle was egter nie in die hart daardeur tot bekering getref nie. Hulle het eerder gesoek na hoe om Hom in hulle mag te kry. Maar hulle was bang vir wat die skare kon doen omdat die skare die Here Jesus as profeet gesien het (v.44-46).

Besprekingsvraag: Wat leer ons daaruit dat God selfs sy Seun gee ná die profete?

Insig: Hierdie gelykenis toon aan ons God se verstommende liefde en sorg en verdraagsaamheid aan die een kant, en mense se verbasende kwaadwilligheid aan die ander kant. God se sorg kom duidelik na vore in die vyf handelinge in vers 33 wat toon hoeveel moeite Hy met sy werk maak (plant, omhein, verwerk, bewaar en vertrou sy werk toe). Hy stuur ook geduldig weer en weer wanneer mense sy reg en profete verag. Wie is ’n God soos Hy wat vergewe en barmhartig en genadig en lankmoedig en vol troue liefde is? (vgl. Ex. 34:6; Ps. 86:15; Miga 7:18). En tog moes Israel in die Ou Testament reeds weet dat hulle so hul oordeel swaarder kon maak. 

2023/09/28

Gesag teenoor magspel

Lees: Mt. 21:23-32

Gedagte vir kinders: Wees eerlik voor die Here met wat in jou hart aangaan.

Oorsig: Die Here Jesus het kort voor sy kruisiging die verkopers uit die tempel gejaag en die mense geleer dat die tempel volgens die Woord van God ’n huis van gebed genoem moet word en nie ’n rowerspelonk nie (v.12-13). Die volgende dag by die tempel het daar toe owerpriesters en ouderlinge van die Jode na Hom gekom terwyl Hy besig was om die skare te leer. Hulle het Hom toe gevra deur watter gesag Hy sy woorde en dade doen en wie hierdie gesag aan Hom gegee het (v. 23). Die Here het hulle toe met ’n teenvraag geantwoord. Hy het gesê dat Hy hulle sal vertel as hulle een vraag sou beantwoord (v.24): Of die doop van Johannes die Doper van God of net uit mense was. Hulle het toe geredeneer (let wel: nie eerlik probeer antwoord nie)  dat as hulle sê dat dit van God (uit die hemel) was, sou Hy vra waarom hulle dan nie geglo het nie. En as hulle sou sê dat dit net uit mense was (wat hulle eintlik geglo het), moes hulle oppas vir die mense wat Johannes as profeet beskou het (v.25-26). Hulle het toe oneerlik geantwoord dat hulle hulle nie weet nie, en toe het die Here geantwoord dat Hy dan ook aan nie sou sê deur watter gesag Hy sy dade doen nie (v.27).

Hierna het die Here Jesus vir hulle ’n gelykenis vertel om hulle te vermaan. Daar was ’n man wat twee kinders gehad het en hy het na die eerste gegaan en gesê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. Die kind het geantwoord dat hy nie wil nie, maar was later jammer daaroor (hy het berou gekry) en gegaan (v.28-29). Toe het die man ook na die tweede een gegaan en dieselfde gesê. En hierdie kind het geantwoord: Ja, my heer (NAV: Goed Pa), maar hy het nie gegaan nie. Die Here Jesus het toe gevra wie die wil van die vader gedoen het en die leiers het toe geantwoord dat dit die eerste een was. En toe het die Here Jesus vir hulle gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, die belastingeisers (tollenaars) en die prostitute (hoere) gaan julle voor in die koninkryk van God (v.30-31). Hy het dit toe verduidelik deur weer na Johannes die Doper te wys wat gekom het in die weg van geregtigheid (NAB: om die regte pad te wys) en dat hulle hom nie geglo het nie. Die tollenaars en hoere het hom egter wel geglo. En tog het die leiers, toe hulle hierdie wonderwerk sien van mense wie se lewens so verander het, tog nie later berou gekry om Johannes wel te glo nie (v.32). Daarmee het die Here Jesus ook duidelik geantwoord dat Johannes se werk wel uit God was, en daardeur het Hy eintlik ook aan hulle gewys dat sy eie gesag en die van Johannes van die selfde plek af, van God self kom.

Besprekingsvraag: Was die leiers hier opregte waarheidsoekers? Verduidelik jou antwoord.

Insig: Die vraag na waarvandaan die gesag van Jesus Christus kom, en daarmee ook van sy liggaam, die Kerk, is steeds baie relevant. Jesus Christus straal onmiskenbaar gesag uit. Ons verneem duidelik van sy leergesag en dissiplinêre gesag, en hier ook naby die gesagvolle tempel (vgl. Mat. 7:29; 9:6; 18:17-20; 28:18). Hy is óf eg óf baie aanmatigend. ’n Pluralistiese wêreld behoort sy liggaam, die Kerk, ook so te beleef.

2023/09/21

Laastes eerste en eerstes laaste

Lees: Mt. 20:1-16

Gedagte vir kinders: Mense wat klein is voor God, verhoog Hy, maar hoogmoediges val.

Oorsig: Die Here Jesus het vir Petrus (in die vorige hoofstuk) geantwoord dat hulle wat anders as die ryk jong man, alles verlaat en Hom gevolg het, honderd maal soveel sal ontvang en die ewige lewe beërwe. Maar toe het Hy iets belangrik bygevoeg en deur ’n gelykenis verduidelik dat ’n mens moet oppas vir ’n verkeerde houding hieroor: Die koninkryk van God is soos ’n eienaar wat vroeg in die more uitgegaan het om arbeiders te huur om in sy wingerd te werk (v.1-2). Hy het met die arbeiders ooreengekom vir ’n penning op ’n dag, wat gelykstaande was aan ’n stewige dagloon vir hul tyd. Toe het hy hulle uitgestuur in sy wingerd. Omtrent die derde uur (9:00) gaan hy toe weer uit en sien ander wat ledig (sonder werk) op die mark staan. Ook vir hulle het hy gesê om in die wingerd te gaan en dat hy aan hulle sou gee wat reg is. Hulle moes hom dus op sy woord neem, en so het hulle gaan werk (v.3-4). Weer het hy omtrent die sesde (12:00) en negende uur (15:00) uitgegaan en dieselfde gedoen. Hy het selfs die elfde uur (17:00) uitgegaan en ander ledig gevind en gevra: Waarom staan julle die hele dag hier ledig? Hulle het geantwoord dat niemand hulle gehuur het nie. Hy het ook vir hulle gesê om in die wingerd te gaan en dat hulle wat reg is (let wel), sal ontvang (v.5-7).       

Toe dit dan aand geword het, sê die eienaar van die wingerd vir die opsigter: Roep al die arbeiders en betaal hulle hul loon (let wel). Hy het ook gesê dat hy moes begin van die laastes af tot by die eerstes. Hulle wat omtrent 17:00 eers begin werk het, het elkeen ’n penning, die volle dagloon, ontvang (v.8-9). Die eerstes dink toe dat hulle meer sal ontvang, maar hulle het ook elkeen die penning vir ’n volle dagloon ontvang. Toe het hulle baie gekla (gemurmureer) by die huisheer en gesê: Hierdie laastes het maar een uur gewerk en u het hulle gelyk behandel met ons wat die moeite van die hele dag en die hitte gedra het (v.10-12). Die huisheer het toe vir een gesê: Vriend (let wel), ek doen jou geen onreg aan nie. Hy vra hom toe of hy nie ooreengekom het vir die volle dagloon van ’n penning nie. Hy het toe ook vir hom gesê dat hy moes neem wat syne is en heengaan. Hy het bloot gesê dat hy aan die laaste een wou geen net soos aan hom. Hy het gevra of hy dan nie vry is om met sy eie goed te maak soos hy wil nie. Hy het ook gevra of sy oog verkeerd is omdat die eienaar goed is. Toe het die Here Jesus weer sy woorde aan die begin herhaal: So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste. Hy het bygevoeg dat baie geroep, maar min uitverkies is (v.13-16).     

Besprekingsvraag: Wat beteken dit dat laastes eerste kom en eerstes laaste?

Insig: Die leer van onverdiende genade (sola gratia) is baie kosbaar, maar dit is ’n leerstelling wat ons hare deurmekaar vee (Douglas Wilson), ons kan neervel, en teen ons vleeslike grein ingaan. Die vlees werk met selfsug en eiebelang, met rekordhouding en vergelyking. Maar genade is per definisie nie regverdig nie, want dit beteken altyd dat ons baie, baie meer ontvang as wat ons verdien.

2023/09/14

Om van harte te vergewe

Lees: Mt. 18:21-35

Gedagte vir kinders: Hulle wat die Here se vergifnis leer ken het, kan ander mense vergewe.

Oorsig: Die Here Jesus was besig om sy dissipels te leer van nederigheid, sonde in die gemeente, en van tug en herstel. Petrus het toe gevra hoe dikwels ’n mede-broeder teen jou mag sondig en weer en weer vergewe word. Sal dit selfs sewe maal wees, dubbeld meer as die reël onder hulle - drie keer plus een? (v. 21; vgl. Amos 1:3 e.v.). Die Here Jesus het geantwoord dat dit eerder 70x7 moes wees, met ander woorde sonder perke solank daar geluister word (v. 22; vgl. v. 15-16). Daarna het Hy dit deur ’n gelykenis verduidelik. 

’n Sekere koning wou verslag kry oor sy diensknegte se werk met sy geld (v.23). So het daar een na hom gekom wat 10 000 talente skuldig was. Dit was meer as ’n hele provinsie se skuld, (ongeveer 10 000 x R3,25m = R32,5 miljard. Dalk was hy ’n goewerneur). Omdat hy nie naastenby kon betaal nie, het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders as slawe verkoop moes word, saam met alles wat hy gehad het en dat daar so betaal moes word vir sy skuld (v.23-25). Die dienskneg het toe (1) voor die koning neergeval en (2) hom gevra om lankmoedig te wees, en (3) gesê dat hy alles sal betaal (wat hy nie kon nie). Die Koning het hom egter (1) innig jammer gekry, (2) hom losgelaat en (3) die skuld kwytgeskeld (v.26-27). Wat ’n wonderlike vryspraak was dit nie! Maar toe het daar iets baie hartseer gebeur.

Toe daardie vrygespreekte dienaar uitgaan, vind hy een van sy mededienaars wat hom 100 pennings skuld (dagloon x 100: ongeveer R30 000 teenoor sy skuld van R3,25 miljard). Hy het hom aan die keel gegryp en gesê: “Betaal my wat jy skuld.” Sy mededienaar val toe voor sy voete neer en smeek hom toe ook met sy eie liggaamshouding teen die grond en met sy eie woorde van vroeër, om lankmoedig te wees en dat hy alles sou betaal (wat hy kon, v.28-29). Maar hy wou nie en het hom in die gevangenis gewerp totdat hy sy skuld sou betaal. Sy mededienaars was hieroor baie hartseer en het aan die koning alles vertel (v.30-31). Die koning het daardie man toe geroep en vir hom gesê: “Jou slegte dienskneg, al daardie skuld van jou het ek jou kwytgeskeld omdat jy my gesmeek het. Moes jy nie ook so barmhartig wees teenoor jou mededienaar soos ek ook teenoor jou nie?” (v.32-33). Toe het die koning hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy alles sou betaal, wat natuurlik nooit sou kon gebeur nie. En toe het die Here Jesus ’n groot waarskuwing gegee: So sal die Vader aan ons doen wat nie elkeen sy broeder (of suster) van harte sy/haar oortredinge vergewe nie (v.34-35).    

Besprekingsvraag: Waarom is dissipline en  vergifnis  nodig in die opbou van die Kerk?

Insig: In Mattheus 10 leer ons oor die Kerk se uitbou-werk na buite en in Mat 18 hoor ons van die Kerk se opbou-werk na binne (Bruner). Beide is belangrik vir ’n lewenskragtige gemeente. Na binne beteken dit dat ’n gemeente sonder dissipline, maar ook vryspraak, ’n gemeente is wat maklik net ’n gedaante van godsaligheid kan hê. 

2023/09/06

Die Magna Carta van konfrontasie

Lees: Mt. 18:21-28

Gedagte vir kinders: Ons moet soos die Here Jesus met mense werk wat sonde doen.

Oorsig: Die dissipels het pas vantevore vir die Here Jesus gevra wie die grootste in die koninkryk van die hemele is. Die Here het die geleentheid toe gebruik om met sy dissipels te praat oor hoe belangrik dit is om nederig, kinderlik en eensgesind te wees (vgl. Mt. 18:1-14). Daarna het Hy voortgegaan en hulle geleer wat om te doen as ’n mede-dissipel die eenheid verbreek deur sonde. Dit gaan hier oor enige sonde wat duidelik teen God se Woord is en wat gebeur tussen persone as broeders en susters en as deel van die dieselfde gemeente. Die Here Jesus het hieroor gewys op drie basiese stappe.

’n Mens moet eerstens die persoon gaan vermaan tussen jou en hom alleen, en as die persoon luister is die saak uitgeklaar en die mede-broeder (of suster) teruggewen vir die Here (v.15). As die persoon egter nie luister nie, moet die volgende stap geneem word. Jy moet een of twee met jou saamneem as getuies sodat dit kan gebeur wat in die Bybel staan – dat in die monde van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan (v.16; vgl. Dt. 19:15). As die persoon ook na hulle nie luister nie, word dit aan die hele gemeente gesê en as hy daarna steeds nie luister nie, moet die persoon vir jou wees soos die heiden en die tollenaar (v.17). Dit beteken nie dat alle kontak vir altyd verbreek word nie, maar hulle word nou hanteer as mense wat buite die koninkryk staan en nog tot bekering moet kom.    

Die Here Jesus het toe sy vroeëre woorde aan Petrus (Mt. 16:18-19), nou vir al die dissipels en daarmee vir sy hele Kerk herhaal: Alles wat hulle op die aarde bind (gebind aan hul sonde), sal in die hemel gebonde wees; en alles wat hulle op die aarde ontbind (deur vry te spreek), sal in die hemel ontbonde wees (v.18). Hy het dit toe op ’n ander manier herhaal en ons moet onthou om dit in die eerste plek toe te pas op kerklike tug: As twee dissipels saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, sal hulle verhoor word deur sy Vader wat in die hemele is (v.19). Die Here het toe die rede vir hierdie kragtige belofte gegee: Daar waar twee of drie in sy Naam vergader, daar is Hy self in hulle midde (v.20). Let daarop dat die Here Jesus nie gesê het dat Hy dan in hulle midde sal wees nie, maar dat Hy reeds daar is waar hulle in sy Naam vergader is. So het Hy ook bevestig dat Hy God is. Daarom mag elke klein groepie wat opreg in sy Naam bymekaar is om Hom te erken, reken op die kragtige teenwoordigheid en verhoring van gelowiges se gebede, veral by egte vermaning in die gemeente.      

Besprekingsvraag: Waarom het ons makliker konflik met die mense wat naby aan ons is?

Insig: Ons luister hier na die klassieke teksgedeelte oor kerklike tug, wat ook genoem word die Magna Carta van konfrontasie (Bruner). Alle instellings het dissiplinêre kodes, maar die Kerk van Christus het besondere opdragte en besondere beloftes wat in die hemel hieroor eggo en behoort die toon aan te gee. Ons Here is baie duidelik oor die wyse, die proses en die doel.

2023/08/31

Kruisvormige Christene in Hom

Lees: Mt. 16:21-28

Gedagte vir kinders: Ons vind ons volle lewe wanneer ons dit weggee vir die Here.

Oorsig: Dit is een ding om te erken dat die Jesus die Christus is. Dit is iets anders om ook te erken hoe Hy die Messias is en wat dit beteken vir elkeen wat Hom volg. In hierdie gedeelte kry ons met twee definitiewe dele te make. Ons hoor eers hoe die Here Jesus vir Petrus bestraf oor sy siening van sukses (v.21-23). Daarna verneem ons van die Here Jesus se roeping tot dissipelskap (v.24-28).

Net nadat Petrus die wonderlike belydenis gemaak het dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God, het Hy vir hulle gesê dat hulle vir niemand moes sê nie. Mense het Hom  net gesien as ’n aardse koning. Van toe af het die Here duideliker vir hulle begin wys dat Hy in Jerusalem onder die erkende leiers, die ouderlinge , die owerpriesters en die skrifgeleerdes sou ly. Hy sou selfs gedood word en op die derde dag opgewek word (v.21). Petrus het die Here Jesus hieroor eenkant toe geneem en dit selfs gewaag om die Here teen te gaan oor sy woorde: “’Mag God dit keer Here, dit sal U nooit oorkom nie” (v.22). Die Here Jesus het egter omgedraai en vir die dieselfde Petrus wat Hy pas van tevore bemoedig het oor sy belydenis oor die Christus, gesê: “Gaan weg agter my satan! Jy is vir my ’n struikelblok omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” (v.23)

Die Here het daarna vir sy dissipels sy pad verduidelik en wat dit vir sy navolgers sou beteken. Hy het gesê dat as iemand agter Hom wil aankom, hy (1) homself moet verloën, (2) sy kruis opneem en (3) Hom moet volg (v.24). Die rede is dat elkeen wat sy lewe ten alle koste wou red, dit sal verloor, maar dat elkeen wat bereid is om sy lewe ter wille van Jesus te verloor, dit sal vind (v.25). Die Here het bygevoeg dat dit tog niks baat om die hele wêreld te win as jy aan jou siel skade ly nie (v.26). Hy het ook ’n tweede retoriese vraag gevra: Wat kan tog groot of belangrik genoeg wees om jou siel los te koop? Die antwoord is dat daar niks is wat groot genoeg is nie. Jesus het toe daarop gewys dat Hy, die Seun van die Mens, gereed is om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom en dan elkeen sal vergeld volgens sy dade en dit beteken spesifiek of hulle Jesus Christus gevolg het (v.27). Toe het Hy gesê dat sommige onder hulle nie sou doodgaan voordat hulle Hom in sy koninkryk sien kom het nie. Dit het ook gebeur, reeds by die verheerliking op die berg daarna, en later met Hemelvaart en op Pinksterdag (v.28; vgl. Dan. 7:13-14; Hand. 1-2).       

Besprekingsvraag: Kan ons verwagtinge oor die Messias vandag steeds die punt mis?

Insig: Terwyl Petrus in die voorafgaande gedeelte dien tot bemoediging oor die Kerk as kragtige instrumente en ons as deel daarvan, dien hy hier ook as vermaning aan die Kerk om nie instrumente in die hand van die satan te word nie. Die kerkgeskiedenis dui ook op slegte voorbeelde hiervan en ons behoort ook in ons persoonlike lewens op ons hoede daarvoor te wees, veral na ’n geestelike hoogtepunt. Die feit dat jy instrument was beteken nie dat jy nie weer later vermaan moet word nie (vgl. Hand. 2; Gal. 2:11-21).

Hoe gebeur dit? Uit die gedeelte is dit duidelik dat twee dinge nie dig by mekaar gehou word nie. Ons moet enersyds erken dat Jesus Christus wel die Seun van die lewende God is. Ons moet andersyds ook duidelikheid hê oor hoe Hy die Christus is en wat dit vir ons lewens beteken. Want die weg van die Christus loop langs die weg van vernedering en die kruis na die verhoging. Ons praat maklik van die aardse Messias-verwagtinge van destyds wat nie sin kon maak van ’n kruis as deel van die oorwinning nie, maar ons kan steeds so maklik daarin vasval. Dit hang ook by ons steeds saam met ons visie van die suksesvolle lewe. Ons het steeds moeite om dit in verband te bring met die nederige weg waarin ons sekere dinge bewustelik opsê om self ook kruisvormige Christene te word, verbonde aan Hom wat gekom het om die kruisweg te stap en ons te verlos van waan-idees oor die suksesvolle lewe.

Wat beteken dit in praktyk? Ons gelese gedeelte verduidelik dieselfde met drie beskrywings. Die lewende Christus roep jou om (1) jouself te verloën en (2) jou kruis op te neem, en (3) om Jesus Christus te volg. Dit is ’n oproep tot egte dissipelskap en vereis definitiewe keuses. Dit spel in unieke terme uit wat dit beteken om in Jesus te bly (vgl. Joh. 15:5) en in Christus te wees (vgl. Gal. 6:15). In die sentrum daarvan staan die gekruisigde lewe wat net deur verbondenheid aan Christus in ons lewe waar kan word. Dit is ’n lewe waarin daar afgesien word van die self ter wille van Christus, om selfs in die openbaar verguising en onregverdige behandeling te verduur. Dit beteken dat ons teen die kultuur ingaan as dit nodig is en selfs bereid om die uiterste prys van die dood om Christus ontwil te betaal. Tog is dit ook die weg waarop ons nou reeds die lewe vind. Ons vind in elk geval die ware lewe wanneer ons nie so hardnekkig vasklou dat ons nie waag nie (vgl. dapperheid in oorlog), maar dit geld hier in besonder met betrekking tot Jesus Christus wat ook as Regter eenmaal die laaste oordeel sal fel. Die keuse en die vind van LEWE en avontuur in Hom begin egter reeds hier.

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.