2023/11/07

Oor egte en slegte kerkleiers

Lees: Mt. 23:1-12

Gedagte vir kinders: Kerkleiers het gesag, maar kan ook dien soos die Here Jesus.

Oorsig: Nadat die leiers opgehou het om die Here Jesus in sy laaste week voor sy kruisiging met woorde uit te vang, het Hy swaar woorde van oordeel oor valse godsdienstige leiers en valse godsdiens uitgespreek tesame met sewe wee-uitsprake. Aan die begin van Mattheus leer die Here ons in ons in die bergpredikasie hoe om te leef. Nou sluit Hy sy aardse bediening af deur te waarsku hoe ons nie moet leef nie. Ons lees dat hy spesifiek met sy dissipels gepraat het oor die skrifgeleerdes (hulle wat aangestel is om die mense God se wet te leer) en die Fariseërs (hulle wat die God se Woord ernstig opgeneem, maar tog hul eie tradisies swaarder as die Woord laat weeg het). Hierdie mense het op die stoel van Moses gesit en dit beteken dat hulle sy gesagsposisie ingeneem het oor wat God  se wil en dit wat Hy beveel (v.1-2).

Die Here Jesus het gesê dat hulle alles moes doen wat die leiers sê, maar dat mense nie soos hulle net moes praat, maar nie doen nie (v.3). Hulle het die wet swaar en moeilik gemaak en op mense se skouers geplaas, maar dit self nie eens met hulle vingers aangeraak nie (v.4). Hulle het al hul werke ook eintlik net gedoen om deur die mense gesien te word. Daarom het hulle gedenkseëls (gebedsboksies en bande) breed gemaak en groot some vir hulle klere wat moes wys dat hulle met die Here wandel (vgl. Ex. 13:9,16; Dt. 6:8). Hulle wou dus uitstaan deur uiterlike kenmerke (v.5). Hulle het ook gehou van die voorste plekke by die maaltye en voorste sitplekke in die sinagoges (v.6). Verder het hulle ook van die begroetinge op die markte gehou en om deur die mense rabbi, rabbi (my grote, my grote) genoem te word (v.7).

Die Here Jesus het toe vir sy dissipels geleer om heeltemal ’n ander gesindheid uit te leef. Hulle moes nie daarin belangstel om hulself met ’n titel soos rabbi te laat noem nie, omdat Christus hulle enigste Leermeester is en hulle almal broeders. Hulle moes ook niemand op die aarde hulle geestelike vader noem nie, want daar is net een en dit is die Vader in die hemele. Hulle moes hulle ook nie leermeesters (kathegetes: persoonlike gids/meester) laat noem nie, omdat net Jesus Christus dit is. Daarteenoor moes die grootste onder hulle eerder die dienaar van almal wees. Wie homself daarom wou verhoog sou verneder word en wie homself verneder, sou verhoog word.       

Besprekingsvraag: Hoe kan leiers tegelyk gesagvol, maar ook diensbaar wees?

Insig: Die Here Jesus lei sy sewe wee-uitsprake teenoor die valse kerk en sy leiers hier in met ’n basiese kontras: valse teenoor egte godsdienstige leiers.

Diegene wat in die Naam van God, soos Moses, vir mense op die Woord wys en dit uitlê, het ’n belangrike werk en die gesag daarvan word nie hier betwis nie. Maar dit hang saam met sekere kenmerke. Daarom het ons hier vir alle tye ’n waarskuwing aan die Kerk en haar teologiese gesag. Leiers en leermeesters moet weet dat hulle ’n swaarder oordeel sal ontvang (vgl. Jak. 3:1; vgl. ook Ps. 35:4-6; 109:6-19; Jes. 10:5-19; Jer. 23:1-2; Es. 34:1-7, 9-10). Reeds in Rigters 18-21 verneem ons hoe mislukking in leiding onder die Leviete gelei het tot die volk se ondergang. Ook hier sou dit lei tot 70 n.C. toe Jerusalem en die tempel verwoes is. ’n Kerk wat lewend wil bly en wil beleef dat die arbeid van hul hande nie tevergeefs is nie, moet dit te harte neem.

Ons verneem hier (1) van ’n diskonneksie wat ontstaan tussen leer en doen. Ortodoksie en ortopraksie is gewoon twee kante van die dieselfde munt. Anders het ons op die minste blinde kolle en op sy ergste totale geestelike blindheid. Aan die ander kant is daar min dinge wat geestelike insig so verhelder soos gehoorsaamheid aan die Woord. Dit is (2) ook duidelik dat hierdie geestelike leiers nie vol genade en barmhartigheid teenoor die mense is nie en heers oor die kudde (vgl. 1 Pet. 5:3). Hiermee hang saam dat hulle graag (3) nommer een wil wees en aansien hê oor hulle godsdienstige voortreflikheid. Hulle lei aan ’n grootheidsmanie (Bruner) en dit is uiters tragies wanneer ons mense deur ons godsdienstige toewyding wil beïndruk. In ’n sekulêre wêreld is die teenhanger hiervan die deugpronkery (virtue signalling).   

Wat is die alternatief waartoe Christus oproep? Leiers moet self (1) uit die genade lewe sodat hulle nie harde leermeesters is nie. Dit kan net gebeur wanneer ons self by ons groot Leermeester gaan sit het sy sagte juk leer ken het en beleef het dat Hy sagmoedig en nederig van hart is  (Mat. 11:29-30). Net in Hom word ons van binne uit vol genade en waarheid. Dit vra ook (2) deugdelike leierskap waarin ons deur diens ons ware grootheid vind en nie deur erkenning en klere en sitplekke en titels nie. Die hele konsep van deugdelike leierskap wat gesaghebbend vir God spreek, maar ook terselfdertyd almal dien, is uit en uit ’n Christelike konsep. Sonder Christus word hartlike diensbaarheid onmoontlik. Hierdie weg loop (3) langs ’n pad waar ons onsself verneder en dit aan God oorlaat om ons te verhoog op sy tyd en sy manier (vgl. v.12; 1 Pt. 5:6; Fil. 2:5-11). Dit is net moontlik in Christus wat Homself ter wille van ons verneder het, maar ook verhoog is. Deur sy diensbaarheid sit ons reeds in die hemel en kan ons as knegte met koningsgesag diensbaar aan ander wees.

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.  

Lawrence R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.