2019/09/10

Pinkster en oom Paul

Pinkster is ’n gevaarlike fees wat ons elke jaar vier. Die Bybel leer dat waar die Heilige Gees werksaam is, daar dikwels opskuddings en vervolgings plaasvind. Die Gees van God het nie gekom om ons mak te maak nie, maar vol lewensdurf en planne om gevaarlike wapens in God se koninkryk te wees (vgl. Rom. 6:13). 

God se Gees het gekom om ons van vreesagtigheid vry te maak. Dit bly een van die mees vertroostende, mees uitdagende, mees gebalanseerde uitsprake – om te hoor dat God ons ’n gees van krag, liefde en selfbeheersing gegee het (2 Tim. 1:7). Sommige praat baie van krag, ander van liefde, en ander van selfbeheersing. Om egter hierdie drie eienskappe in harmonie uit te leef, is ’n saak wat net die Gees van God in ons kan bewerk. Die goeie nuus van Pinkster is dat God hierdie bekragtiging reeds in Christus en sy Gees aan ons gegee het. Die vraag is daarom opnuut of ons dit nog in hierdie Gees waag met die Here. 

Dit is ook ’n ontblotende vraag of ons regtig wil hê dat die Heilige Gees kragtig onder ons sal werk. Want sien, waar die Gees werksaam is, gaan ons in die spervuur beland, eerstens by God wat ons nie gaan los soos ons is nie, en tweedens by mense wat hul eie bydraes gaan maak om ons te vorm.