Meneer die Seremoniemeester,
Een van die wonderlike dinge van ’n
aand soos vanaand is dat ons werklik rede het om fees te vier oor wat deur die
genade rééds bereik is. Natuurlik het ons alles behalwe gearriveer, maar hoe
wonderlik dat ons kan terugkyk en sien hoe grondgebied en instellings, denkapparaat
en praktyke, al ’n bepaalde momentum en diepte begin kry het.
Daar is ’n opgewondenheid onder ’n volgende
geslag, een van die beste tekens dat jou visie geslaagd is. Ons kan, danksy ons
leiers, in die hoogste kringe saampraat met ons eie woorde en konsepte: ’n
alternatiewe moderniteit, gemeenskapsfederalisme, ’n ander idee-raamwerk, ’n ander
logika, veelvuldige identiteite, ensovoorts. Genoeg is alreeds reeds gedoen om
tong in die kies, en buite die kies, te sê dat ons duidelik weet wat ons bedoel
as ons stel dat ons met iets op weg is wat ook die teenoorgestelde van die ATKV
kan wees. Ons sou ook wou praat van die VKTA - die verbeeldingryke klassieke
tradisie onder Afrikaners, of miskien sagter op die oor: die visie van die
klassieke tradisie onder Afrikaners.
Ons bou hieraan op ons eie manier,
maar tegelykertyd saam met soveel vriende in ander lande wat hierby aansluit. Bart
Jan Spruyt van die Edmund Burke Stichting in Nederland noem dit ’n tradisie van
vreugde. Die bekende denker en historikus, Russell Kirk, het dit meevoerend beskryf
as ’n tradisie wat ten diepste ’n tradisie van die liefde is.
Hierdie tipe bydraes laat ons besef
dat ons allerhande deugde en gawes van die Gees afsonderlik kon neem, en
telkens vanuit ’n besondere invalshoek of lens ’n spesifieke kant van ons
tradisie kon belig. Wanneer ons byvoorbeeld na die bekende embleem van Orania
kyk, sien ons dadelik die selfwerksaamheid, die fluksheid, van hierdie tradisie
raak. Ek is seker u het hierdie kant al baie belig en hoe nodig is nie! As ’n
mens die bekende deugde met hul gepaardgaande ondeugde in oënskou neem, besef
jy vinnig dat ons hier, vanuit die tradisie beskou, met ’n simbool teen laksheid
of luiheid te make het. Gaan ons beeldryk te werk, sou ons dalk, na aanleiding
van Mind-of-a-fox faam, die beeld van die jakkals wou omvorm, waarskynlik
drasties wou omvorm, om die kardinale deug van verstandigheid en omsigtigheid (prudentia) te hanteer. Die feit is dat
ons ook hier met veelvuldigheid te make het en telkens, na gelang van
omstandighede, sou ons ’n ander deug as lens op ons tradisie kon gebruik om dinge
na die oppervlak te bring wat dalk ongesiens verbygaan. In hierdie verband het
iemand soos die genoemde Russell Kirk al groot werk gedoen in sy onderwaardeerde
opvolg op sy klassieke werk, The
Conservative Mind. In sy werk, Propects
for Conservatives, maak Kirk van die sewe klassieke deugde en die sewe
dodelike sondes gebruik om lig te werp op aspekte soos die intellek, gemeenskap,
geregtigheid, orde, lojaliteit, tradisie, en mag.
Daar lê na my mening heerlike werk
vir ons voor om in die voetspoor van hierdie benadering, die verskillende
deugde-lense op ons eie konteks te plaas. Dit kan help om die veelkantigheid
van die alternatiewe moderniteit deeglik uiteen te sit en ons terselfdertyd te bewus
maak van hoe edel hierdie tradisie kan wees. Vanaand wil ek u aandag vra vir ’n
kernsaak in hierdie tradisie wat eintlik te gevaarlik is om te bespreek. Die
rede is dat dit die spreker en die hoorder so maklik dubbeld skuldig maak. Van
hierdie deug sê iemand soos die Engelse juris, John Selden, dat dit ’n deug is
waaroor almal preek, wat niemand beoefen nie, en waaroor almal heel gemaklik
nog ’n toespraak sal aanhoor. Ek praat natuurlik van daardie eienskap in ons
tradisie wat die stam is waaruit al die deugde groei: nederigheid. Dit staan so
sentraal en tog is dit so teer dat wanneer jy te sterk daarop fokus, veral by
jouself, dit baie vinnig verdwyn. En tog wil ek saam met u die waagstuk aangaan
om daaroor te besin onder die volgende hoofde:
· Die belangrikheid van
nederigheid in ons tradisie.
· Die groot stimulant vir
nederigheid in ons tradisie.
· Deelname aan nederigheid in ons tradisie.